Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Televisie
Korter ‘24’ slaan nog asem weg
Hy het elke groot TV-prys vir sy spel gewen en sy karakter is op lyste van beste of koelste helde, taaiste man en selfs die honderd topkarakters van die afgelope twee dekades. Kiefer Sutherland sê hy sal tevrede wees as mense hom vir Jack Bauer van 24 onthou. G’n wonder hy was bereid om na vier jaar terug te kom vir nog ’n seisoen nie, skryf Pieter van der Lugt.
Die veteraan-akteur Kiefer Sutherland neem weer die rol in van die rateltaai agent wat enigiets vir sy vaderland sal doen. Foto: FOX

Jack Bauer het sy debuut kort ná 11 September 2001 gemaak en was presies die soort held wat Amerika toe wou sien: ’n rateltaai agent wat enigiets sal doen om sy land te beskerm.

Hy vra nie eens wat die prys gaan wees nie en sy persoonlike lewe is net so vol gate en littekens soos sy lyf.

Agente wat hulle nie aan reëls steur nie, is alledaags.

Maar min voer dinge so ver soos Jack. Hy het nie geduld vir lang ondervragings nie en reken marteling is ’n billike manier om antwoorde uit ’n verdagte te kry.

Dís die omstrede deel van 24. Die res is TV-geskiedenis.

Die nuwe 24, met die Bond­agtige subtitel Live Another Day, ignoreer nie die vier jaar sedert 2010 se seisoen agt nie. Dit word gebruik om nuwe spanning en kinkels te skep.

Die storie skuif na Londen – ’n heel simboliese ander wêreld. Vir hom is dit nog “God bless America” en bogger die res. En al vertrou hy nie eens meer sy getrouste vriend uit die ou dae nie, is hy lojaal aan die president en glo hy staatsgeheime moet tot elke prys uit vreemde hande bly.

Selfs Chloe, die kollega wat Jack help ontsnap het, dink nie meer soos hy nie. Die eerbare IT-genie in die CIA-kantoor het verander in ’n gotiese gekwelde siel wat saam met ’n kraker werk om regerings en ander kragspelers se geheime en vuilstreke te onthul. Jack het haar nodig en sy help, al dink sy hy waag sy lewe vir mense en idees wat dit nie meer verdien nie.

Nuwe formule

Die aardigheid aan 24 was destyds dat elke seisoen 24 episodes van ’n uur elk gehad het.

Die aksie het in werklike tyd gebeur en allerhande truuks is gebruik om dit geloofwaardig te maak.

Die befaamde elektroniese horlosie wat op die skerm die tyd aftik, skuif selfs in advertensietyd met vier minute aan.

Verrassing: Live Another Day het net 12 episodes. Dit beteken nie die ouer Jack werk nou halfdag nie. Die begin en einde is nog 24 uur uit mekaar, maar langs die pad word ’n paar uur oorgeslaan. Die vervaardigers sê dit keer dat die storie te dun uitgerek word. Aan die ander kant torring dit met ’n formule wat ’n legende in sy eie lugtyd geword het.

Jack sê graag “we’re running out of time, dammit”, en met die helfte minder episodes is daar nie kans vir verduidelikings nie.

Die skrywers laat val net leidrade oor wat sedert seisoen agt gebeur het en nuwe karakters word in die hardloop bekend gestel.

Onder die nuwe hoofspelers is Yvonne Strahovsky, wat gemaklik oorslaan van Chuck se speelspioen na ’n gekwelde, afgedankte agent in haar laaste week op kantoor. Stephen Fry lyk ewe tuis in sy rol as Britse eerste minister.

Die intrige is ’n ooreenkoms oor robotvliegtuie wat in Londen onderteken gaan word. Iemand is selfs bereid om ’n oorlog te begin om die verdrag te laat verongeluk.

Die nuwe president is Jack se ou vriend, die gewese minister van verdediging. Sy lewe is in gevaar. Die president se dogter is Jack se verlore liefde. Haar lewe is in gevaar. Heng, almal is in gevaar. Dis 24 waarvan ons praat!

Daar is wéér sprake van ’n Jack Bauer-fliek. Dit maak min sin. Alles aan 24, van die konsep tot die kloustrofobiese filmstyl met die kameras op ooghoogte en kort, plofbare aksietonele, is pasgemaak vir ’n TV-reeks.

Kiefer sê Jack is moeiliker as ooit om te speel omdat hy nou regtig ’n verstoteling sonder vriende en vol wantroue is. Maar hy sê nie dis die laaste 24 nie.

Hoe ook al, maak plek vir Jack. Hy gaan weer jou asem wegslaan.

24: Live Another Day, Donderdae om 19:30 op M-Net.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.