Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Kortkuns
Kortlyste vir UJ-pryse bekend

Die kortlyste vir die Universiteit van Johannesburg (UJ) se pryse vir skeppende skryfwerk in Afrikaans en Engels wat in 2013 verskyn het, is pas bekend gemaak.

Op die kortlys van die UJ-prys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans sê swaargewigte in die Afrikaanse letterkunde mekaar die stryd aan.

Marlene van Niekerk se digbundel Kaar, wat vroeër vanjaar met die Hertzogprys vir poësie bekroon is, kom te staan teen Wilma Stockenström se digbundel Hierdie mens, Etienne van Heerden se roman Klimtol, Eben Venter se roman Wolf, wolf en Francois Loots se roman Rooi Jan Alleman.

Dominique Botha is met haar romans Valsrivier en False River op die kortlyste van sowel die UJ-debuutprys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans as dié vir skeppende skryfwerk in Engels.

Valsrivier is vroeër vanjaar met die Eugène Marais-prys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk bekroon.

Saam met Valsrivier op die kortlys van die UJ-debuutprys vir Afrikaans is Nathan Tran­traal se digbundel Chokers en survivors en Cas Wepener se kortverhaalbundel Dubbelfoto.

Op die kortlys van die UJ-prys vir skeppende skryfwerk in Engels is Lauren Beukes se The Shining Girls, Zakes Mda se The Sculptors of Mapungubwe, Steven Boykey Sidley se Stepping Out en Rachel Zadok se Sister Sister.

False River ding om die UJ-debuutprys vir Engels mee met C. A. Davids se roman The Blacks of Cape Town, Perfect Hlongwane se Jozi: A Novel en Claire Robertson se roman The Spiral House.

Die wenner van die UJ-prys in sowel die Afrikaanse as die Engelse kategorie ontvang R75 000 en die wenner van die UJ-debuutprys in elk van die kategorieë ontvang R30 000.

Die wenners in die Engelse kategorie word môre bekend gemaak en dié in die Afrikaanse kategorie Maandag. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.