Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Koue kos’ vir silwerdoek opgedis
Marita van der Vyver Foto: VERSKAF

DIE bekroonde skrywer Marita van der Vyver se roman Dis koue kos, Skat word met Anna-Mart van der Merwe in die hoofrol verfilm.

Die roman handel oor Clara Brand, ’n kosskrywer, ma en eksvrou van ’n ontroue man. Deur rou, eerlike briewe en e-posse aan haar rondloperman, die ánder vrou, haar vriende, asook haar suster, ontboesem Clara.

Die roman is as verhoogstuk op onder meer die US Woordfees, die KKNK, die Na­sionale Kunstefees in Grahamstad en die Vryfees met Elzabé Zietsman in die rol van Clara opgevoer. In die fliek sal Zietsman Minette speel. Die regisseur is die ervare Darrell Roodt.

Deon Meyer se maatskappy, Karoo Film Productions, is die vervaardiger en sal in Mei met verfilming in Kaapstad begin. Van die tonele sal ook in Johannesburg verfilm word.

Meyer het Van der Vyver verlede jaar by die Woordfees raakgeloop net nadat hy die verhoogstuk gesien het. Hy het haar toe gevra om die draaiboek te skryf.

Van der Vyver sê sy het met die herskryf Van der Merwe vir die rol van Clara in gedagte gehad en was in haar noppies toe sy (Van der Merwe) ook Roodt se keuse was.

“Anna-Mart is seker die naaste aan Meryl Streep wat ons in Suid-Afrika het. Sy kan enigiets speel: lief of boos, beeldskoon of vaal, skreeusnaaks of tragies.”

Dit is die tweede roman van Van der Vyver wat die silwerdoek haal.

Haar Sanlam-bekroonde jeugroman Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom is verfilm met Anneke Weidemann, Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers in die hoofrolle.

Die regisseur was Regardt van den Bergh.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.