Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Rock
Krapperigheid konseptueel geïnspireerd
Neil Young
Die Voice-O-Graph is daardie telefoonhokkie-agtige ding waarin Young op die omslag van ‘A Letter Home’ sit.

Die nuwe Neil Young is ongetwyfeld die oudste album wat jy vanjaar sal hoor, of liewer: die plaat wat by verre die oudste klink.

Die avontuurlustige grys eminensie van rock het dit immers goedgedink om as ’n besielde huldeblyk aan sy eweknieë en die musiek wat hom gevorm het, 12 snitte in Jack White se Third Man Studios in Nashville op te neem. Daarvoor het hy onder die musikale begeleiding van die voormalige White Stripe, dié se gerestoureerde 1947-opnamemasjien, die Voice-O-Graph, ingespan.

Die Voice-O-Graph is daardie telefoonhokkie-agtige ding waarin Young op die omslag van A Letter Home sit. Die bloedjong Elvis het sy heel eerste liedjie, “My Happiness”, met dié gedoente vir sy ma opgeneem en dit was tot in die 70’s ’n bekende trekpleister in Amerikaanse arkades en op skouterreine – ’n primitiewe stuk tegnologie waarmee enig­iemand enige klank in mono kan opneem wat direk as vinielplaat gesny word.

Mense het dit dan ook gebruik om boodskappe aan familie en geliefdes te verewig.

Young begin daarom sy krakerige plaat met ’n boodskap aan sy ma in die hemel. Daarna trek net hy en sy akoestiese kitaar weg met Phil Ochs se “Changes” en blaas hy eensklaps jou hele verwysingsraamwerk op.

Die feit dat hierdie opnames van klassieke liedjies deur Bob Dylan, Bert Jansch, Willie Nelson, Gordon Lightfoot, Tim Hardin, Don Everly en Bruce Springsteen splinternuut is, smokkel met jou kop en verwring jou tydsgevoel radikaal, want alles suis en krap en kom aangedryf soos ’n wiegelied vol distorsie, gesing in ’n ander era oor ’n ou plaaslyn.

Young het sy jongste as ’n “historiese kunsprojek” bestempel. Só gesien, is A Letter Home een van die interessantste mindere albums van die produktiewe 68-jarige se lang loopbaan. Al die liedjies sal sekerlik vir enige ernstige liefhebber van folk bekend wees. Maar na dié krapperige, “swak” opnames gaan jy waarskynlik nie oor en oor wil luister nie.

Op ’n konseptuele vlak is die versameling egter geïnspireerd. Dis ’n meditasie oor die lugspieëlings van tyd en tegnologie wat jy minstens een keer moet hoor – al is dit net om tot in jou murg te besef ouderdom én outentisiteit is in baie opsigte kosmeties; om te hoor hoe goeie liedjies die tydgees kan oorleef soos die spoke van emosies en gedagtes.

Young se Voice-O-Graph-weergawe van Springsteen se “My Hometown” is egter ’n voor- en naspooksel tegelyk. Dis of jy verkeerd-om deur ’n verkyker na die hede staar wanneer jy Young se yler wordende stem deur ’n gesis en gekrap totaal weerloos hoor sing: “Son, take a good look around / This is your hometown”.

En dít doen Young in dieselfde jaar waarin hy sy digitale Pono-speler bekend stel – ’n Toblerone-vormige toestel waarmee jy glo uiteindelik topklank uit ’n digitale toestel sal kry, aflaaibaar by Young se aanlyn Pono-musiekwinkel.

Kyk, die man was nog altyd ’n entoesiastiese dwarstrekker, maar om op dié manier ’n vraagteken te plaas agter die nuwe top-tegnologie wat hy vanjaar aan ons wil verkoop, plaas hom in ’n eksentrieke klas van sy eie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.