Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
2 nuwe kunsmarkte maak hul deure in Jhb oop

Net meer as tien jaar gelede is die eerste Joburg Art Fair (JAF) in 2008 in die Sandton-konferensiesentrum se groot uitstallokaal met ’n oppervlak van 5 000 vierkante meter aangebied – die grootste enkele versameling kontemporêre Suid-Afrikaanse en Afrika-kuns in daardie stadium.

En deur die jare het Sandton in September die plek geword waar dié opskiet-inkopiesentrum vir kuns besoek kon word, met of sonder ’n lang glas koel vonkelwyn in die hand.

Johann Louw, Tafereel, 2019, installasie. Met vergunning van die SMAC-galery. Kopiereg: Die kunstenaar.
Frances Goodman, Long Day, 2019, handgestikte blinkers op doek (162 x 121 cm). Met vergunning van die SMAC-galery. Kopiereg: Die kunstenaar.
Georgina Gratrix, Business Leader in Pink Tie, 2019, olie op doek (71 x 55 cm). Met vergunning van die SMAC-galery. Kopiereg: Die kunstenaar.

Vanjaar is daar egter twee kunsmarkte in die plek van die enkele JAF aangebied: Art Joburg, in wese JAF maar met ’n nuwe naam en nou in besit van Mandla Sibeko wat Art Joburg “die eerste kunsmark in Suid-Afrika in 100% swart besit maak” aldus die program; en Latitudes, ’n splinternuwe toevoeging tot die Suid-Afrikaanse kunsmark-toneel en met Lucy MacGarry en Makgati Molebatsi aan die stuur.

Art Joburg het intussen geskuif na ’n aansienlik kleiner uitstallokaal in die konferensiesentrum, terwyl Latitudes sy vlerke gesprei het in een van daardie luukse wit tente op Nelson Mandela-plein aan die voete van dié man se standbeeld.

Ná allerlei planne dat die “groot galerye” sou wegbreek van JAF, het Sibeko, toe nog JAF-direkteur, drie en ’n half maande gelede die kunsmark bekom en met die primêre steun van dié galerye vanjaar se Art Joburg aangepak. Die gevolg was groter uitstalruimtes, ruimer spasies en ’n geleentheid vir die kuns om asem te haal.

“Dié nuwe onderneming het ons ook in staat gestel om terug te keer na die grondbeginsels en seker te maak ons voldoen aan die galerye se behoeftes,” sê Nicole Siegenthaler, Art Joburg se bestuurder.

Ons het altyd gedink nóg ’n mark kan opwindend wees en besoekers ’n groter verskeidenheid bied. Latitudes wil ’n inklusiewe en toeganklike kunsmark wees. Ons oogmerk was om grense af te breek en lateraal te dink, soos die naam aandui.
Makgati Molebatsi

In LAB, ’n geleentheid vir galerye van die Afrika-vasteland om werk te vertoon, is die werk van ses galerye buite die landsgrense vertoon – waarvan vyf vir die eerste keer op ’n kunsmark. Saam met Banele Khoza was Siegenthaler die kurator van die LAB-projek.

Oor die opbreek van JAF in twee komponente sê Molebatsi die tydsberekening en strategie daaragter is perfek. “Ons het altyd gedink nóg ’n mark kan opwindend wees en besoekers ’n groter verskeidenheid bied. Latitudes wil ’n inklusiewe en toeganklike kunsmark wees. Ons oogmerk was om grense af te breek en lateraal te dink, soos die naam aandui.”

Hoewel Latitudes, soos Art Joburg, in die bestek van ’n paar maande gekonseptualiseer en beplan is, het laasgenoemde die voordeel van ’n gevestigde voorkoms en gevoel, iets wat Latitudes nog moet ontwikkel om mettertyd ’n eie identiteit te kry. Die aanbod op papier (die besoekersgids) het ’n groter aanbod versin as wat die besoeker inderwaarheid teëgekom het.

Op albei, Latitudes en Art Joburg, was daar Vrydag teen middagete, etlike ure ná die amptelike opening die vorige aand, heelwat van die galerye sonder enige aanduiding van kunstenaar óf die titel van werk. Al wat ’n mens hiervan aflei is die onverbloemde nadruk op die kommoditeitsaspek van kuns. Maar, dan is dit tog kunsmarkte, moet ’n mens in gedagte hou.

Meer oor:  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.