Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
2 van SA deel van Amsterdamse kunsgeleentheid
‘Girl with Skipping Rope’ deur Robin Rhode.

Die werke van twee Suid-Afrikaanse kunstenaars pryk in die gevierde Amsterdam Art Weekend, ’n jaarlikse geleentheid waarin die stad se mees gesiene kunsinstansies hul deure oopgooi om die jongste ontwikkeling in kontemporêre kuns ten toon te stel.

Kunstenaars wêreldwyd sak elke jaar dié tyd op Amsterdam toe, wat homself as “die middelpunt van die internasionale moderne kunswêreld” verklaar. Vanjaar kan meer as 100 uitstallings en aanbiedings in vier dae bygewoon word.

Robin Rhode, ’n Johannesburger wat deesdae in Berlyn gevestig is, stal fotografiese kuns onder die titel Jericho uit, terwyl Penny Siopis se beeldmateriaal in die internasionale dokumentêre rolprentfees opgeneem is. Haar bydrae heet She Breathes Water.

Rhode het foto’s van sy kenmerkende visuele gedigte op Jerigo se antieke stadsmure na Amsterdam geneem. Jerigo, wat 10 000 jaar voor Christus ontstaan het, beteken die stad van die maan, ’n naam wat afgelei is van Yareah, die Kanaänitiese woord vir maan.

“ ’n Mens het egter nie die inligting nodig om die beelde op die mure te waardeer nie. Die erns van die onderwerp kontrasteer sterk met die ligtheid van die visuele, wat in die gespanne tyd ’n gepaste huldeblyk aan die stad is,” lui ’n inskrywing in ’n katalogus.

Rhode, wat Suid-Afrika gereeld besoek en dan sy kreatiewe stempel in die strate van Johannesburg afdruk, het ’n gawe om maatskaplike kwessies op ’n speelse maar treffende wyse uit te beeld.

*Die uitstalling duur van 21 November tot 22 Februarie 2020.

Siopis se werk debuteer op 23 November om 14:00 in ’n videokunsprogram in die Eye Film Museum en word weer op 29 November om 20:00 gewys. ’n Vraag-en-antwoordsessie volg ná die debuutvertoning.

Die openingstoneel van She Breathes Water is van ’n vrou in ’n swembroek wat skynbaar die gehoor toespreek. In die slottoneel verdwyn ’n man met ’n ironiese glimlag agter ’n boom.

Aanvanklik lyk dit of ’n romanse gaan ontvou, maar dan word dit duidelik die beeldmateriaal gaan oor die mens se vernietigende verhouding met die aarde. Want tussen die begin en einde word diere geslag, die oseane oorwin, opofferings gemaak en onverwerkte materiaal in produkte verwerk.

Die boodskap is duidelik: Moeder Aarde keur die mensdom af.

Meer oor:  Amsterdam  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.