Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
3 pryswenners se ‘groooot’ installasie gereed vir Absa-galery
Geboue van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein is gebruik vir ’n proeflopie van die installasie Tripe.

Wanneer drie wenners van die gesogte Absa L’Atelier-kunskompetisie koppe bymekaarsit, kan jy jou gereedmaak vir die ongewone, in hierdie geval ’n uitstalling op “groooooot skaal”.

So beskryf Elrie Joubert die installasie waaraan sy,

Pauline Gutter en Liberty Battson die afgelope ses maande gewerk het.

Joubert het die L’Atelier-prys in 2012 gewen, Gutter in 2013 en Battson in 2014. Toe die drie op ’n dag saam kuier, het hulle besluit dit moet gevier word en met niks anders as ’n uitstalling nie. Maar hoe gemaak as hul style soos die ooste van die weste van mekaar verskil?

“Toeval het ons op ’n werkbare pad geplaas,” sê Joubert. “Pauline het gehoor van ’n fabriek in Vereeniging wat rollers vir drukapparate vervaardig en sy het op pad van Johannesburg

Die drie Absa L’Atelier-wenners wat saamgewerk het aan die installasie Tripe is van links Pauline Gutter, Elrie Joubert en Liberty Battson.

daar aangedoen. Afvalstukke, berge daarvan, het in ’n verskeidenheid kleure, vorms, lengtes en diktes voor haar gelê. Sy het daarvan in twee kratte gepak en dit Bloemfontein toe gebring.”

Die drie het aan die werk gespring om te sien watter moontlikhede dié rubberstukke inhou. Hulle het geknoop, gevou, daarmee gehekel, dit gehang en oopgesprei totdat hulle op ’n installasie met die titel Tripe ooreengekom het.

Ná ses maande se harde werk, waarvoor Battson Bloemfontein toe getrek het, is die “grooooot” installasie gereed om by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) afgehaal te word sodat dit in die Absa-galery in Johannesburg uitgestal kan word.

Joubert sê die uitstalling is die resultaat van magiese verbeelding. “Dit is ’n fees, ’n oordadige skouspel, ’n smorgasbord van alles wat lekker is. En dit is maar twee weke se afval; dink net watter wonders kan geskep word met ’n maand, ’n jaar of tien jaar se afval.”

Lig is ook ingespan om die rubberstukke vir Tripe voor te stel.

Besoekers aan die Absa-galery sal ’n eteriese omgewing van drade en spiraalranke binnegaan en wonder: Is dit ’n kelpwoud van seegras en anemone, ’n naelstring op soek na sy ma, of die mikrokosmos in die mens se liggaam? Is dit ’n onwêreldse see-, land- of mikroskopiese heelal? Wat is die wesens? Word ons omvou deur ’n versteekte wêreld waarna ons nie kan ophou kyk nie of waarop ons die rug wil keer?

Die knoop, weef, verwringing, uitstrek, dekonstrueer en herverbeel van die materiaal is so vaardig gedoen dat die betragter hom sal verwonder aan die “manjifieke fokuspunt”, sê Joubert.

Behalwe die uitstalling het hulle ook vir ’n blitswinkel gesorg waar rubberprodukte verkoop sal word. Dit spruit uit die kunsdepartement van die SUT, waar Joubert ’n dosent is, se projek met oorbruggingstudente. Dié studente het opdrag gekry om hul verbeelding vrye teuels te gee en kreatiewe gebruiksgoedere te skep. Oorbelle, armbande, gordels, halssnoere en wat nog sal ook Johannesburg toe vervoer word om vir ’n inkomste verkoop te word.

Rubberstukke is toe ook na gemeenskappe in die Vrystaat geneem wat touwys gemaak is in die herskepping daarvan sodat hulle dit vir ’n eie inkomste kan gebruik.

Die drie kunstenaars sê ten slotte die tragedie van die oorvloed is dat dit bloot afval is. Tripe. “Die kreatiewe konstruksie en slim uitstalling daarvan trek jou aan, maar terselfdertyd is die teenwoordigheid van rubber oral om jou afstootlik. Dit is alles net afval.”

Die kunstenaars * Elrie Joubert het ’n meestersgraad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf en solo-uitstallings in Bloemfontein, Johannesburg en New York gehou. Sy is bekend vir die versamel van voorwerpe wat sy kreatief en wetenskaplik katalogiseer.

* Pauline Gutter, ook ’n oudstudent van die UV, is in 2011 met die Helgaard Steyn-prys bekroon. Sy is ’n voltydse kunstenaar wie se werk in kunsmuseums in Frankryk, Italië, Stellenbosch en in versamelings van verskeie Suid-Afrikaanse universiteite asook Standard Bank, Sanlam, Absa en die William Humphreys-galery in Kimberley opgeneem is.

* Liberty Battson is van Gauteng en het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy het op kunstefeeste uitgestal, aan die Venesiese Argitektuur-biënnale deelgeneem en word deur die Everard Read-galery verteenwoordig. Haar werke pryk ook in talle voorste korporatiewe versamelings.

* Tripe is van 28 Julie in die Absa-galery in Johannesburg te sien.

Meer oor:  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.