Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Amper verbeur kunstenaar haar goue kans in Louvre
Susan Proctor Hume met van haar miniatuur-kunswerke Foto: DENVOR DE WEE

As ’n skildery van jou in die Louvre-museum in Parys uitgestal gaan word en jy het die uitnodiging na die openingsaand in jou sak, kan jy eenvoudig nie die vlug daarheen verpas nie.

Susan Proctor Hume van Kommetjie het byna haar groot geleentheid misgeloop.

Toe sy laatnag die KLM-vlug van Kaapstad na Parys wou haal, moes sy hoor dat daar nie sitplek vir haar op die vlug is nie. Dit was die aand voordat die uitstalling vir opkomende kunstenaars die volgende aand in die Louvre sou open.

Lees ook: Nuwelingskilder va​n Kaap se werk in Louvre uitgestal

Sy het reeds twee maande voor die vertrekdatum haar vliegkaartjie gekoop, maar sy kon nie die personeel oortuig dat sy wél op die vlug bespreek is nie.

Geen redenasie of bewyse van die betaling en die kaartjie het gehelp nie. Op die ou ent moes sy R25 000 opdok met die belofte dat sy vergoed sou word. Toe was daar skielik ’n sitplek op die vlug beskikbaar.

“Gelukkig het ek darem betyds in Parys aangekom vir die openingsaand. Maar ek het nog steeds nie my geld teruggekry nie.”

Afgesien van die wankelrige begin van haar avontuur het alles verder baie goed verloop. Haar werk is saam met 400 ander kunstenaars van oor die wêreld vertoon in die uitstalling Nuwe kunstenaars van die wêreld. Sy het positiewe reaksie gekry van galerye met wie sy kontak gemaak het terwyl sy in die Franse hoofstad was.

Dieselfde kurator van hierdie uitstalling, Heinz Playner van die Modern Art International-galery (Momag) in Oostenryk, het haar reeds weer genooi na ’n uitstalling in Monaco in September vanjaar en na een in Miami volgende jaar.

Sy gaan haar werk plaaslik in September saam met die pottebakker Ronel Bakker op Tulbagh bekend stel. Sy vertel dat dit ’n samewerking is wat baie interessante werk gaan oplewer.

Saam met verskeie ander kunstenaars neem sy van 8 Julie af deel aan ’n uitstalling Tiny Treasures wat in die Art.b-galery in Bellville gehou gaan word. Van die ander kunstenaars wat ook aan die uitstalling deelneem is Johan Coetzee, Jacobus Kloppers, Clare Menck, Lyn Smuts en Ingrid Winterbach.

Al die deelnemers moet klein kunswerke bring wat nie meer as R1 500 kos nie. Haar skilderytjies is op CD-houers geskilder.

Dit lyk na een prent, maar wanneer ’n mens die deksel oplig, sien jy iets anders. Proctor Hume werk ook graag met afvalprodukte of optelgoed.

  Tiny Treasures II open op 8 Julie en duur tot 29 Julie. Die galery is Dinsdae tot Vrydae van 10:00 tot 17:00 oop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.