Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Beurtkrag inspireer dié kunsuitstalling
Joy Voysey, ’n kunstenaar van Johannesburg, staan by haar kunswerk “Catalyst” wat deur die gevaar van brande weens beurtkrag geïnspireer is. Foto:LEÁNNE STANDER

KAAPSTAD. – In die oë van Eskom is almal gelyk en beurtkrag verenig Suid-Afrikaners, meen twee kurators van die Moederstad.

Daarom het hulle onlangs 11 Suid-Afrikaanse kunstenaars uitgedaag om inspirasie vir kunswerke in beurtkrag te vind.

“Beurtkrag is iets waaroor ons almal praat. Selfs al ken jy glad nie kuns nie, kan jy voor hierdie kunswerke kom staan en saam gesels,” het Larissa Snow, een van die kurators, gesê.

“Die kunstenaars het die woord ‘beurtkrag’ verskillend geïnterpreteer,” het Francesca Hool, die ander kurator, verduidelik. “Beurtkrag gaan nie net oor ligte wat afgaan nie; dit het te doen met trauma, totale chaos en die ineenstorting van die samelewing, maar kan ook as ’n tyd vir rustigheid en meditasie beskou word.”

Joy Voysey, ’n kunstenaar van Johannesburg, sien byvoorbeeld rooi as sy aan beurtkrag dink. Haar groot kunswerk met die naam “Catalyst” hang ’n hele muur in die kunsgalery vol.

“Ek het aan vuur gedink toe ek my kunswerk ontwerp het – aan die brand wat kan uitbreek as die ligte afgaan en mense kerse aansteek,” het sy vertel.

Só het sy met verskillende medisyne, soos hoesstroop, rome, mercurochrome en bruistablette, haar kunswerk op wit doeke geskep.“Ek het enigiets gebruik wat ek oor die toonbank kon koop. As ek met die hele apteek se voorraad weggeloop het, moes ek mooi vir aptekers verduidelik dat ek nie met die medisyne gaan smous nie!”

Daarteenoor het Gaelen Pinnoch, ’n kunstenaar van Kaapstad, in die nag foto’s van die Caltex-raffinadery en die staalsmeltery naby Saldanha geneem. Hy het dié reeks foto’s saamgevoeg sodat dit na ’n swewende, beligte stad lyk. “Ek wou wys hoe afhanklik ’n stad van krag is om te funksioneer. Net as die krag aan is, kan die stad homself onthul,” het hy verduidelik.

Dié twee kunstenaars swets ook maar as die krag afgaan wanneer hulle aan ’n projek werk. “Maar heimlik geniet ek dit ook,” het Voysey gesê. “Ek steek kerse op, mediteer en werk rustig in my ateljee.”

Juis dié aanpasbaarheid van Suid-Afrikaners het ook die kunsuitstalling geïnspireer, het Hool gesê. “Ons aanvaar dit. Ons lag selfs daaroor.”

Die uitstalling is tot 16 Julie in die Commune 1-kunsgalery in Waalstraat, Kaapstad, te sien.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.