Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gottgens se skilderye ’n hoogtepunt vanjaar
Kate Gottgens se Sea Ablaze, olie op doek.

Kate Gottgens

SMAC-galery, De Wet-sentrum, Stellenbosch

★ ★ ★ ★ ★

Om jou te laat geld in ’n wêreld wat ál vinniger tol in flitsende oordaad van media, is vandag ’n opdraande stryd wat kuns betref. As jy bo ­uitkom, soos hier bewys word, is jy pure wenner.

Dink aan die ouderwetse kunstenaar wat strepie vir strepie, haal ná haal, laag op laag, die beeld moes vaslê wat jy vandag met jou foon se Burst-kamera in ’n japtrap vang. Dink aan die uitdaging vir klassieke skilderkuns.

Kate Gottgens verstaan dat dié medium vandag op ander maniere met kykers omgaan; op ­ander wyses verbeeld en vertel. En sy is ’n ­moderne meester daarvan.

Hierdie tentoonstelling is een van die jaar se kunshoogtepunte.

’n Omvattende vertoon van ’n skilder op die kruin van haar vermoë en vernuf met die kwas, is dit ’n wonderlik optimistiese argument vir die impak van eietydse omvang met die klassieke medium van kwas en doek. Nie dat Gottgens se temas en verbeelding mooi stories is nie.

Stories is haar prente wel – eintlik almal onvoltooide vertellings wat ­allerhande paradoksale uitdagings aan kykers bied terwyl hulle jou ­genadeloos intrek – maar onder­liggend aan elkeen van hierdie ­visuele, onvergenoeglike “kort­verhale” is daar ’n donkerte, ’n ­gotiese on­gemak­­likheid, immer beduidend op menslike kwesbaarheid.

Onder die oppervlak van lig en ­dinamiek, van verrassende kleur en drama, draai die duiwel rond. Agter die verbysterende gemak waarmee sy met enkele strepe van haar kwas in een kleur gedoop, mens, dier, landskap, en beweging kan vaslê, skuil ’n onafwendbare onsekerheid oor die goeie.

Keer op keer gee haar titels jou net ’n stootjie om dieper te delf. Deur lae kom ­allerhande werklik­hede en moontlikhede ter sprake.

Kinders en babas kom op die spel. Spoke en die makabere bedreig die onskuld. Ouderwetse “kiekies” wys een ding, maar beteken straks iets anders. Agter die rustigheid van ­geselligheid, die vensters van ­voorstedelikheid, mag die skaduwees, die woude, die wye wêreld, ­gevare inhou.

Die kinderlike sirkel-ritueel ­(“patertjie-langs-die-kant”) kom in die gedrang in skilderye soos “Milk Teeth”, “Oh, Green World”, “The Gathering” en “Field of the Cloth of Gold”. Onder en agter die goue ­sirkel van vreugde vermoed ’n mens die afgrond. Gemoedelikheid van “Zeitgeist” of 2014 se “Riders” morfeer onheilspellend tot “Four Horsemen” (2015) met sy perd/duiwel. “Boy in the Sun” is pragtig, maar mens! daardie swart hond se oë . . .

Gottgens skep die atmosfeer – gelaai met sielkundige dinamiek – met dramatiese kleur en lyn, en ontgin dan die betekenis van die voorstelling wat waarskynlik sy oorsprong in ’n foto iewers het. Sy maak ­skilderye wat haar verstommende verbeelding vergestalt. Ja, daar is steeds diep te delf in die medium wat so baie wil afskryf.

■ Tot 19 September. Skakel 021 887 3607 met navrae. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.