Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
ONRUSTIGHEID
Kunskêrels van die Kaap
Die tweeling Hasan en Husain Essop het reeds verskeie ‘reëls’ oorgeskryf, skryf Melvyn Minnaar.
Freedom Fighters deur die broers Hasan en Husain Essop.
’n Foto getiteld Silat Mulut.
Hulle verwerk die intens persoonlike en plaaslike tot groter sake.

Kêrels van die Kaap is hulle. Spesifiek van dáárdie Kaap waar kultuur, godsdiens en maatskaplike omstandighede byna alles bepaal. In hul geval ook ’n uitsonderlike kunstenaarskap.

Nog meer ongewoon: ’n Unieke broederlike tweelingskap wat sy eie reëls, afleidings en werkwyse opstel – en wat gelei het tot kunswerke wat fors en formidabel juis daardie “Kaap-skap” as tema en universele geldigheid vasvang.

’n Mens kan vandag kwalik aan enige ander kunstenaar dink wat so presies en getrou ’n spesifieke, kleurryke en dinamiese Kaapse gemeenskap in hul werk priem en verbeeld.

Gautengers kry nou te sien wat die land al ervaar het: Die tentoonstelling Unrest van Hasan en Husain Essop, verlede jaar se wenners van die visuele kunsportefeulje van die Standard Bank Jong Kunstenaar by die Grahamstadse Kunstefees.

Dit open op 21 April in die Standard Bank-galery, nadat dit reeds in Grahamstad, Port Elizabeth, Durban, Bloemfontein en Kaapstad gesien is.

Die essay-titel Unrest, tipies van die Essops, het duidelik meervoudige betekenisse wat wissel van ’n soort nostalgiese politieke “oproerigheid” tot bloot “ongedurigheid” met sosiale werklikhede.

Egte tweelinge – die name “Hasan” en “Husain” is so vanselfsprekend veelseggend – is as “tema” enig in die skeppende wêreld. Om op hierdie soort manier, soos die Essop-broers, saam te werk, vergestalt die mitologie van die tweeling-spiëelbeeld.

Hul medium is fotografie en wat as performance voor die ­kamera beskryf kan word. Dit is om dit eenvoudig te stel, want eintlik gaan hul kuns daaroor om die intens persoonlike en plaaslike tot groter en dieper ­sake te verwerk.

In dié opsig maak hulle kuns wat individueel is en uitstaan in die Suid-Afrikaanse en internasionale kunswêreld.

Nie sleg vir jongelinge wat op 24 April kwalik 30 jaar word nie – nog nie eens ’n dekade ná hul verrassende eerste openbare uitstalling nie.

Daardie woord “individueel” hierbo kom met ’n ander lieflike ironiese lading. Hulle werk naatloos saam. Dit is nie soveel medewerkerskap nie, as een-en-dieselfde.

Standard Bank moes dus die toekenning vir een aan twee mense maak. In 2008 was daar ’n geskarrel toe hulle as finaliste in Absa se l’Atelier-kompetisie twee-vir-een ingeskryf het. Die reëls praat van kunstenaars as enkelinge.

Maar Hasan en Husain het reeds, op hul eie manier, verskeie “reëls” in die kunswêreld oorgeskryf.

Een daarvan is hoe om binne ’n taamlik streng Moslem-konteks dramaties en uitgesproke kuns te maak. En juis daardie aspekte van die godsdiens daarin en die paradokse onder die loep te bring. Verskeie kommentators het al opgemerk hoe suksesvol hulle uitdagings aanpak.

Daar is verskeie voorbeelde in Unrest – wat ook duidelik demonstreer hoe gemaklik hul humorsin met erns meng.

In die broers se godsdiens is daar ’n beskouing dat beelde nie van ander mense gemaak mag word nie. Lesse uit die Koran laat nie afgodediens toe nie.

Die Essop-seuns se oplossing: Hulle gebruik hulself as “modelle” in die foto’s van die ryk, gedetailleerde en soms ingewikkelde panoramiese kleurprente wat hulle met groot tegniese vaardigheid maak.

Soms verskyn die tweeling in meer as een gedaante in die ­foto. In voortreflike, tegnies vernuftige fotomontages vertolk hulle die protagoniste en akteurs in ’n verwikkelde dekor-landskap.

Die bendelede (soos in die prent 786), godsdienstige toeriste (99 Steps) of nagwagte (Night Patrol) is dus nie werklik diegene wat aangekla of geprys moet word nie, maar bloot die Essops self.

’n Visuele speelsheid ontstaan wat die kyker verbluf en vermaak. Uiteindelik word dit dan ook ’n spel van identiteit, wat geanker is in daardie ongewone strook van die Kaap waar bruin se diep wortels is. Die tweeling het in die ou woonbuurt Rylands grootgeword.

Omdat dit die enigste skool is wat kuns gee, is Hasan en Husain – genoem na die Profeet se kleinseuns – na die bekende Alexander Sinton High School in Crawford. Dit is ’n skool met ’n ryk strugglegeskiedenis, en dit was ’n besondere voedingsbron vir die jongelinge en die temas wat hul werk kenmerk.

In sy vierde jaar het Husain ’n reeks, Looking at Rylands, geskep en Hasan A.I., wat in 2006 onmiddellik die aandag getrek het van besoekers aan die jaareindtentoonstelling van finalejaarstudente van die Michaelis-kunsskool.

Veral die sensitiewe “straat­parade” van Husain se essay oor die mense van Rylands, gelaai met humor en deernis, het opgeval. ’n Kunstenaarsloopbaan was dadelik voor die deur.

Maar die kêrels het nie stil gesit nie. Sedertdien was hulle op reis na uitoorde. Veral waar die simulacra van hul kuns – die simbole en tekens van ’n digte kultuur – as aansporing en inspirasie kon dien.

Hul kuns was al op biënnales in Dakar en Havana, en hulle het al as verblyfkunstenaars in Nederland en Duitsland gewerk.

Hierdie oorsese ervarings – in dramatiese teenstelling met die uiterste “plaaslikheid” van die Ryland-gemeenskap byvoorbeeld, en die leefwyse verder op die Kaapse Vlakte – het aan hul kuns ’n diepte gebring wat kennelik eietydse vraagstukke oor kultuur en identiteite in ’n breër konteks bekyk.

Tog is dit met die eerste opslag duidelik hoe gemaklik die Essops se soms ingewikkelde voorstellings aanklank by die kyker vind. Hulle verstaan duidelik die kuns om onmiddellik in te trek en te intrigeer. En hul kuns is eweneens ook so Kaaps as wat kan kom.

 Tot 20 Junie. Standard Bank-galery, Simmondsstraat, Johannesburg. Meer besonderhede by 011 631 4467.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.