Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
uitstalling
Nuwe blik op lewe en werke van Stern
Ter viering van die sesde fotografiemaand in Kaapstad het die kunstenaars Lien Botha en Clementina van der Walt die Irma Stern-museum in Rosebank so ’n bietjie herrangskik. Hulle het Laetitia Pople se vrae beant­woord oor hul tentoonstelling The Stern Exchange in die museum.
Clementina van der Walt en Lien Botha in die Irma Stern-museum in Rosebank. Foto: Verskaf
Een van Clementina van der Walt se borde geinspireer deur die Irma Stern-museum.
Lucinda Cullum, ’n werknemer afgeneem in die Irma Stern-museum deur Lien Botha. Foto: Lien Botha

Enkele jare gelede het die Britse kunstenaar Grayson Perry se “radikale” ingryping in die versameling van die Britse mu­seum in Londen gelei tot ’n interes­sante herrangskikking van antieke voorwerpe. Sy tentoonstelling het die Kaapse kunstenaars Lien ­Botha en Clementina van der Walt ­inspireer om die vre­digheid in die Irma Stern-­museum in ­Rosebank te ­“versteur”.

Watter aspekte van die Irma Stern-museum wou jy ondersoek? Hoe het jy te werk ­gegaan?

Van der Walt: Ek is gefassineer deur Stern se persepsie van ’n “eksotiese Afrika” wat manifesteer in haar werk en in haar versameling beeldjies en artefakte. Ek het spesifieke items uit haar versameling geloog, om onder andere tekeninge op ornamentele borde aan te bring. Dit is ’n manier van skakel met die bewussyn van die kunstenaar en haar spesifieke greep op estetika en die betekenis daarvan.

Op die eetkamertafel waar Stern haar rojale dinees ­gehou het, het ek ’n eetservies geskep – besiel deur die ­kleure in haar skilderye en die meubels. In die stem­mings­ryke lig van die vertrek kan ek my ’n feestafel voorstel wat die gees van Stern se ­kreatiwiteit oproep.

Voorts het ek ook met Stern se aangetrokkenheid tot die Afrika-masker gewerk – in die vorm van ’n installasie ­keramiek-gesigmaskers wat onheilspellende skaduwees teen die muur projekteer.

Botha:Ons toetrede is uiteraard veel stiller en bedaard as Perry s’n. Aanvanklik sou ons graag kabinette wou oopsluit en hier en daar ’n portret ­vervang, maar die “houvas” van Stern – die kunstenaar – is tasbaar en sorg op sigself vir ’n postmodernistiese praalgraf. Ek het ’n reeks van agt nuwe fotografiese kleurportrette geneem, bestaande uit Clementina en sewe werk­nemers van die museum.

Hoekom juis die Irma Stern­museum? Wat beteken die ­museum vir jou as kunstenaar? Hoe tree jy en Irma Stern in gesprek? Is jy toegelaat agter die versperring van museumtoue?

Van der Walt: Oor die afgelope dekade het ek verskeie kere in die Irma Stern uitgestal.

Vorige uitstallings het my interpretasie van Stern se portrette en stillewes ingesluit. Hierdeur het ek ’n sterk aansluiting met die kunstenaar en veral haar fisieke ­omgewing [woning en ateljee] ontwikkel, en gevind dit is ’n ruimte wat inskiklik is vir ­keramiekware – vanweë die huishoudelike konteks. 

Botha: Ek was deel van ’n ­vorige projek saam met Liza Grobler, genaamd Visitor [Oktober 2009], waar ek ’n papegaai, Coco, saamgebring het as deel van ’n besoekende kunstenaarsingryping in die museum. As weerklank tot ­Liza se projek, het ek haar beurtelings ingesluit in ­Parrot Jungle [ook in Oktober 2009], met die portret Liza in Irma Stern’s Studio.

Beskryf die werk wat jy wys in die museum.

Botha:My fotografiese werke Moundou en Plant Press handel oor die “teks” van kruisbestuiwing oor kontinente en kulture heen. Vir my was “die boek” as objek en openbaring nog altyd sentraal in die interpretasie van wie verantwoordelik is vir “geskiedskrywing” op ’n gegewe moment en hoe die wind daardie interpretasie kan opraap en wegvoer sodat daar net ’n fragment kan oorbly. Ek het nie die illusie wat Stern ­gehad het nie en tot ’n mate beny ek haar die romantiese blik wat sy van die kontinent, van lande soos die Kongo, ­gehad het. Sy was nie onder­hewig aan die kritiese tekste van Edward Said en Frantz Fanon nie, “háár” Kongo was allermins die land van King Leopold’s Ghost [deur Adam Hochschild]. Soms wonder ek egter wat die aard van haar werkkrag vandag sou wees.

Die kunstenaars bied op 15 Oktober om 10:30 ’n rond­leiding aan in die museum. Verskeie galerye neem deel aan die fotografiemaand en fokus ­spesifiek op fotokuns.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.