Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Uitge-Ballen-seer
Ikoniese beelde van dié fotograaf op uitstalling te sien
Show Off is een van die foto’s wat te sien is in Roger Ballen se Outland-uitstalling. Ballen het dié foto in 2000 geneem.

Outland, ’n uitstalling van foto’s deur die internasionaal bekende Johannesburgse fotograaf Roger Ballen, is nog tot einde Junie in die David Krut-boekwinkel in Parkwood, Johannesburg, te sien.

Dié uitstalling val saam met die heruitgawe van sy fotoboek Outland (2001).

Dié boek is indertyd as fotoboek van die jaar aangewys op die internasionale fotografie- en kunstefees Photo­España in Madrid, Spanje.

Die nuwe uitgawe is ’n uitgebreide weergawe met 45 voorheen ongepubliseerde foto’s uit Ballen se argief en ’n nuwe essay deur Elisabeth Sussman en Sondra Gilman, onderskeidelik die kurator en fotografie-kurator by die Whitney Museum of American Art in New York.

Die uitstalling bestaan uit 30 foto’s waarvan die helfte ikoniese werke uit die oorspronklike publikasie, en die res, nuwe, voorheen ongepubliseerde foto’s uit dieselfde reeks is.

Outland is die kulminasie van byna 20 jaar se werk.

Ballen, gebore in 1950 in New York, woon en werk die afgelope meer as 30 jaar in Suid-Afrika.

Sy werk as ’n geoloog het hom in die 1980’s na die platteland geneem waar hy die versteekte wêreld van die dorpies met sy lens begin verken het.

In die laat 1980’s en vroeë 1990’s het hy die inwoners van dié dorpies – wit mense verwond deur die geskiedenis en in die proses om die voorregte van apartheid te verloor – begin afneem.

Die resultate was kragtige sosiale stellings en ontstellende psigologiese studies in swart en wit.

In die laat 1990’s en daarna het Ballen voortgegaan om wit mense aan die rand van die samelewing uit te beeld, maar sy onderwerpe het begin toneelspeel.

Waar sy foto’s voorheen in die kategorie van dokumen­têre fotografie geval het, betree dié foto’s die gebied van fiksie.

Die gevolg is donker en onthutsende tablo’s wat ’n mens laat wonder of die akteurs uitgebuite slagoffers is wat deel het aan hul bespotting of bemagtigde akteurs wat deelneem aan die drama van hul uitbeelding.

In Outland beeld Ballen individue aan die buitewyke van Johannesburg uit.

Die swart-wit foto’s is kragtige sielkundige portrette wat die menslike toestand op die rand van die samelewing onder die loep neem.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.