’n Vergunning is vir werknemers in die Suid-Afrikaanse oudiovisuele bedryf gemaak wat nog nie hul aansoeke ingedien het om munt te slaan uit die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) nie.
Die Nasionale Rolprent-en-videostigting (NFVF), wat R140 miljoen namens die PESP administreer, het aangekondig dat aansoeke vir ’n gedeelte van dié bedrag steeds aanvaar word, ondanks die aanvanklike sluitingsdatum van 30 November.
Die stigting het die sluitingsdatum na 10 Desember aangeskuif omdat die aansoekproses en -vereistes talle werknemers in die bedryf nog dronkslaan en hulle meer tyd nodig het om hul aansoeke volledig in te dien.
Netwerk24 het in November berig dat pres. Cyril Ramaphosa die PESP aangekondig het om die Suid-Afrikaanse ekonomie oor ’n tydperk van drie jaar te herstel.
In die eerste fase van dié projek, wat tot Maart volgende jaar duur, is R414 miljoen aan talle instansies bewillig om die plaaslike kuns-en-kultuur-sektor staande te hou. R140 miljoen van dié bedrag is aan die NFVF afgestaan om die oudiovisuele bedryf te steun, 5 000 nuwe werkgeleenthede te skep en te keer dat 3 000 bestaande poste weens die pandemie se finansiële impak geskrap word.
Die NFVF het vroeër gesê dit gaan die R140 miljoen in vier “strome” uitdeel. R100 miljoen is opsygesit vir die eerste drie strome, wat elk gaan fokus op aansoekers wat nuwe werkgeleenthede in die bedryf wil skep, veral as hulle tydens die vervaardiging van ’n enkele projek meer as tien mense kan aanstel.
Die laaste stroom – en die oorblywende R40 miljoen – is daarop gemik om afleggings te keer. Ondernemings in die bedryf wat weens die pandemie werknemers moet aflê, word daarom aangemoedig om vir dié hulp aansoek te doen.
Aansoeke moet volledig wees, aan alle bepalings en voorwaardes voldoen, en voor of op 10 Desember op https://nfvf.praxisgms.co.za/ ingedien word.
Meer inligting is op https://www.nfvf.co.za/home/ beskikbaar. Navrae kan ook per e-pos na applications@nfvf.co.za gestuur word.
– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier