Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Anna Davel open haar eie aanlyn kunsgalery

Die sangeres Anna Davel het haar eie aanlyn kunswinkel geopen – en dít met skilderkuns wat sy self geskep het.

Anna DavelFoto: Argief

Nadat Davel se besige skedule en inkomste vroeër vanjaar weens die staat van inperking uitgewis is, het sy eindelik weer tyd gekry om ’n ou liefde, skilderkuns, te beoefen, én in Maart haar werk op ’n aanlyn veiling te verkoop. Die belangstelling in haar skeppings het haar omtrent verbaas.

“Dit was ’n wonderlike manier om die mark te toets en seker te maak dat kuns iets is waarmee ek sal wil volhou,” sê sy.

“Ek het ook ander werk (buiten dié vir die veiling) geskep omdat ek nie kon sing of konsert kon hou nie, so ek sit tans met ’n hele stoorkamer vol werk. Dit was ’n wonderlike uitkoms nadat al my inkomste van konserte oornag verdwyn het.”

Sy het dit aanvanklik oorweeg om galerye te nader om haar ander werk uit te stal, maar omdat hulle óf weens die pandemie toe was óf tot 50% van die wins in hul sak wou steek, het sy gewonder of dit nie moontlik sou wees om haar eie aanlyn kunswinkel te open nie.

Net daar is https://www.annadavel.com/shop/ gebore, waar 18 van haar werke tans te koop aangebied word.

“Dit is oop vir almal en is veilig om te besoek sonder ’n masker,” skerts sy.

“Payfast se betalingsmetodes maak dit maklik vir enige persoon met ’n kredietkaart om binne sekondes ’n werk aan te skaf.”

Hoewel pastelle haar voorkeur is, werk sy ook graag met waterverf, akriel, en gemengde media. Sy sê haar werk gaan nie soseer daaroor om spesifieke stellings te maak of om op spesifieke voorwerpe te fokus nie, maar eerder om ’n atmosfeer rondom ’n voorwerp te skep.

“Ek begin ook meer en meer met surrealisme speel,” sê sy. “Ek hou van ’n sekere gevoel, ’n dromerige nostalgie, as dit sin maak.”

‘Circus in the Cloud’ (pastel, 90 x 65 cm) deur Anna Davel.

’n Lang pad met kuns

Die verkenningstog wat sy met haar kuns aanpak, is eintlik ’n reis wat jare gelede op skool begin het toe sy beplan het om ’n loopbaan uit visuele kuns te maak.

“Ek skilder al van skool af. Dit was een van my matriekvakke en my groot liefde as ’n kind. Op skool het ek al my af periodes en die meeste pouses in die kunsklas deurgebring, want dit was vir my die heel lekkerste ding om te doen. Ek het ’n wonderlike kunsonderwyseres gehad, juffrou Connie Pretorius, van Gimnasium in Potchefstroom.

“Ná skool wou ek kuns studeer, maar die PUK het hul beeldende kuns na grafiese kuns verander. Ek het nie die rekenaar-element geniet nie en het begin met musiek, so ek het my kursus halfpad gewysig en in my finale jaar op kunsgeskiedenis gefokus.

“Maar ná skool was dit (visuele kuns) my eerste keuse as ’n loopbaan. Die musiek het my verras – ek het nooit as ’n kind gedink dat ek ’n musikant sal word nie.”

Ná universiteit het sy begin toer en het haar musiekloopbaan begin vlamvat, wat haar net sowat twee tot drie keer per jaar toegelaat het om haar kwaste uit te pak en te skep. Sy sê sy het kuns eers weer “ernstig” begin opneem toe die pandemie toeslaan.

“Dit (die kunsgalery) het 100% weens die pandemie gebeur.

“Ek wou nog altyd skilder en het elke nou en dan geskilder wanneer ek ’n week of twee afgehad het. Dit was vir my soos ’n klein vakansie. Ek kon dit net doen wanneer ek nie onder druk was nie, want dit is moeilik om musiek, toere, en alles wat daarmee saamgaan, te bestuur – ek is my eie bestuurder – en genoeg kopspasie te hê om te skilder. Daar was eenvoudig nie tyd of energie daarvoor nie, want ’n sangloopbaan is ’n voltydse werk.

“Ek het hierdie afgelope ses maande wat ek nie kon werk nie, gebruik om hierdie kunspassie te ontwikkel, te leer, en baie ure te oefen. ’n Mens moet eintlik elke dag skilder – die oomblik dat ek dit onderbreek, neem dit my dae om weer my groove terug te kry.”

Hoewel die kunsgogga haar nou weer gebyt het, gaan haar musiekloopbaan nie tweede viool speel nie. Haar jaar lange Shirley Bassey-produksie, Diamonds, wat in Maart weens die staat van inperking onderbreek is, word tans verfilm en sal oor die Kersseisoen op www.optog.co.za beskikbaar wees.

“My musiekloopbaan het nou die afgelope maand of twee weer teen ’n spoed aan die gang gekom, so ek mis dit erg om te skilder,” sê sy.

“Ek moet sê, die musiekwêreld is nie ’n speelparkie nie. Dit neem deesdae baie moed om ’n voltydse musikant in Suid-Afrika te wees. Ek geniet die konserte geweldig, maar ek vermoed dat ek die kans om as ’n beeldende kunstenaar te ontwikkel, moet aangryp, veral namate ek ouer word en dalk minder wil toer.”

Meer oor:  Diamonds  |  Puk  |  Inperking  |  Kuns  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Visuele Kuns  |  Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.