Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Anonieme versamelaar betaal rekordbedrag vir Kruger-standbeeld

Die Krugermiljoene het Maandagaand nuwe betekenis gekry toe ’n bronsmaket van die standbeeld van oudpres. Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria vir opgeveil is.

Dit is ’n wêreldrekord vir ’n Anton van Wouw-kunswerk en die hoogste prys wat nog vir ’n beeldhouwerk by ’n Suid-Afrikaanse kunsveiling betaal is.

'n Anonieme koper het 'n allemintige R10 469 000, met die koperspremie ingesluit, betaal. Dit is ver bo die verwagte voorveilingsberaming van R3,2 miljoen.

Die hamerprys was R9,2 miljoen.

“Daar was fel mededinging tussen die bieërs, wat almal telefonies op die beeldhouwerk gebie het. Ons kan bevestig dat dit ’n private versamelaar is wat die kunswerk gekoop het en dat “oom Paul” binne Suid-Afrika se landsgrense gaan bly,” sê Susie Goodman, uitvoerende direkteur van Strauss & Co.

Die bronsmaket van Paul Kruger (middel) is Maandagaand vir meer as R10 miljoen opgeveil. Foto: Strauss & Co

Die identiteit van die koper bly egter ’n geheim, asook waar die beeld nou uitgestal gaan word. Op navraag van die koper se identiteit het Strauss & Co laat weet hulle onderteken streng privaatheidooreenkomste met hul klante, en dat die eienaar nie sy identiteit nou aan die media bekend wil maak nie.

Van Wouw het onlangs nuwe belangstelling in die Suid-Afrikaanse kunsmark begin wek vanweë nuwe onthullings oor hom, sy werke en die gieterye wat hy gebruik het.

Frank Kilbourn, uitvoerende voorsitter van die veilingshuis Strauss & Co, wat die beeld by die Wanderers in Johannesburg opgeveil het, sê die rekordprys is danksy die gehalte van Van Wouw se beeldhouwerke.

“Hy was die beste Suid-Afrikaanse beeldhouer van sy tyd. Hy het moeite gedoen om die beste gieterye uit te soek sodat hy kunswerke van uitmuntende gehalte kon skep.

“Natuurlik dra die geskiedenis agter die kunswerk ook by tot die waarde. Dit gaan oor die gehalte van die werk, en daar is ’n pragtige storie oor die kunswerk. Dit ondersteun die waardasies. Dit wys ook die waarde van beperkte oplae wat die afgietsels betref,” sê Kilbourn.

Die maket is uniek. Dit is die enigste skaalmodel van die Paul Kruger-standbeeld van die Kruger-monument op Kerkplein in Pretoria.

Die mynmagnaat sir Ernest Oppenheimer was die eerste eienaar, waarna die Rand Club in Johannesburg die beeld vir 125 ghienie by Oppenheimer gekoop het.

Hier het oom Paul dekades lank by die kroeg se ingang wag gehou. Die klub het egter vanjaar besluit om die beeldhouwerk op te veil.

Leemans die posbode (1901) is nog ’n Van Wouw-werk wat ’n indrukwekkende prys op die veiling behaal het.

Die beeld is vir R1,4 miljoen (koperspremie uitgesluit) verkoop.

Die beeld is klein, maar Kilbourn reken dit is een van Van Wouw se besonderste en mees eiesoortige werke.

Dit toon Van Wouw se vernuf om die sogenaamde randfigure van daardie geskiedkundige tydperk – swart mense, blouboordjiewerkers en handearbeiders – met waardigheid en deernis uit te beeld.

“Jy hoef net te kyk na ’n werk soos Die beskuldigde, ’n beeld van ’n Basotho-man wat voor ’n hof verskyn, om die sosiale kommentaar raak te sien. Dis subtiel, maar ná 100 jaar is dit steeds relevant.”

Strauss & Co het Maandagaand meer as R15 miljoen se Van Wouw-kunswerke opgeveil, iets wat Kilbourn meen getuig van die kunstenaar se tydloosheid en beleggingswaarde.

Nog ’n uitskieter van die aand was Irma Stern se Stillewe met vrugte en dahlias (1946), wat sy ná haar tweede reis na Zanzibar in 1945 geskilder het. Die skildery is vir R15 021 600, (koperspremie ingesluit), opgeveil.

Irma Stern se Stillewe met vrugte en dahlias (1946), wat vir R15 021 600 opgeveil is. Foto: Strauss & Co.

Toe die kunswerk laas in 1999 onder die hamer gekom het, is dit verkoop vir R1 miljoen, toe ’n rekordprys vir ’n Suid-Afrikaanse kunswerk van ’n 20ste eeuse kunstenaar.

Nou 20 jaar later het dit vir sy eienaar ’n uitstekende beleggingsopbrengs gelewer.

Meer oor:  Strauss & Co  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.