Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Bekende skilder van Boksburg sterf

Barry de Villiers, bekende skilder van Boksburg, is Sondag dood.

Hy sou Donderdag (10 Maart) 81 jaar oud geword het.

Barry de Villiers

Volgens die predikant, liedjieskrywer en digter, Koos van der Merwe, ’n jare lange vriend, het hy die afgelope tyd probleme met sy longe gehad.

Van der Merwe, wat vandeesweek op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch optree, lei Donderdag sy begrafnis in Boksburg.

“Hy was een van die grootste geeste wat ek ooit geken het,” sê Van der Merwe.

“Ek het meer as 30 jaar gelede in Boksburg gewoon. Ek het sy kunsuitstallings bygewoon en ons het hegte vriende geraak. Ek het ’n redelike groot versameling van sy kunswerke.”

De Villiers, ook ’n afdrukmaker, het Van der Merwe se liefde vir die woord gedeel.

“Ons kon ure lank gesels oor letterkunde en ons het ons digkuns met mekaar gedeel,” sê Van der Merwe, bekend om sy Afrikaanse vertalings van Bob Dylan en Leonard Cohen se liedjies.

“Hy was ’n groot denker met ’n merkwaardige kennis van letterkunde.”

De Villiers het sy lewe lank in Boksburg gewoon en hy het aan die Martin Primary School en die Hoërskool Boksburg skoolgegaan. Hy het ná skool by die Johannesburg School of the Arts ingeskryf.

Die sanger Elvis Blue het op ’n dag ’n skildery van De Villiers in Van der Merwe se huis opgemerk waarvan hy baie gehou het.

“Dit was die skildery Gethsemane. Ek wou hê Barry moet vir my ook so ’n skildery verf,” sê Blue.

“Koos het ons in verbinding gebring en ek het later die skildery by sy huis gaan afhaal. Dit was lekker om hom te ontmoet. Twee van sy skilderye hang nog steeds in my huis.”

Die Boksburg-kunsgalery in die burgersentrum is na De Villiers genoem.

De Villiers het dikwels opheffingswerk gedoen, sê Van der Merwe.

“Ek is spyt dat nie meer mense hom geken het nie. Ek is bevoorreg om sy vriend te kon wees. Ek het hom in een van my Sarie-rubrieke die (Vincent) Van Gogh van Suid-Afrika genoem.”

De Villiers was ongetroud en het nie kinders gehad nie.

Meer oor:  Elvis Blue  |  Koos Van Der Merwe  |  Visuele Kuns  |  Skilder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.