Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Bekroonde kunstenaar bied kunsprys aan
Blessing Ngobeni

Die bekroonde kunstenaar Blessing Ngobeni se lewe was nie altyd geseënd nie. Inteendeel. Tussen die tyd wat hy as kleuter van die huis af weggeloop het, en sy eerste sukses as visuele kunstenaar, het hy net die donker kant van die lewe gesien.

Hy is egter so dankbaar vir die positiewe ommekeer in sy lewe dat hy ’n kunsprys aanbied vir ’n jong opkomende kunstenaar van jonger as 35.

Dié ateljeeverblyf en solo-uitstalling by die Bag Factory Artists’ Studios in Johannesburg was een van die keerpunte in sy lewe en dit is wat hy nou uit dankbaarheid aan ander bied.

Die kunstenaar kry van 24 September tot 14 Desember eie ateljee-ruimte in die Bag Factory, asook ’n klein begroting vir kunsmateriaal en leef-uitgawes. Die uitstalling sal in Januarie hier gehou word.

Ngobeni kom van Tzaneen in Limpopo waar hy op vyf jaar oud gevlug het van sy oom wat hom mishandel het. Sy ma het hom opgespoor en huis toe geneem, maar die omstandighede daar het hom ook nie aangestaan nie en hy het weer weggeloop. Die lewe op straat in die Alexandra-township in Johannesburg het gelei tot ’n gewapende rooftog waarvoor hy in die tronk beland het. Daar het hy sy liefde en aanleg vir kuns ontdek en ook gematrikuleer.

Ná sy vrylating was dit ’n stryd om met sy kuns aan die lewe te bly, en toe al sy werk op ’n keer gesteel is, het dit hom ’n jaar geneem voordat hy weer ’n kwas opgetel het.

Dié moedeloosheid het tot ’n nuwe styl gelei, wat deur kunstenaars met dié van die Spaanse surrealistiese kunstenaar Joan Miró vergelyk word.

Dit het die deure vir Ngobeni laat oopswaai. Hy is selfs na Amerika genooi en deur die Museum of Modern Art (Momo) in San Francisco ondersteun.

Ngobeni is nou ’n toonaangewende kontemporêre Suid-Afrikaanse kunstenaar en word verteenwoordig deur die Everard Read- en CIRCA-galery in Johannesburg, Kaapstad en Londen.

Stuur ’n e-pos na applications@bagfactoryart.org.za vir besonderhede oor hoe om aansoek te doen. Die sluitingsdatum is 31 Augustus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.