Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Besoek kunstenaars se ateljees op Riebeek-dorpe
Besoekers in Louisa Gerryts se ateljee.

Die komende langnaweek in Augustus word die vierde Solo Studios op die dorpe Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes in die Swartland aangebied.

Oor die drie dae van 8 tot 11 Augustus gooi agttien kunstenaars, onder andere Louisa Gerryts, Leila Fanner, Solly Smook en Emma Willemse, hul ateljeedeure wyd oop en nooi die publiek in om deel te hê aan hul kreatiewe ruimtes. Die publiek kan met die kunstenaars gesels en kyk hoe die ratwerk van inspirasie nou eintlik werk. Galerye is langer ure oop en die publiek kan kus en keur van ’n propvol program wat ook rondleidings deur kenners, praatjies en ’n wynproe insluit. Tussendeur is daar ook tyd vir smul en aansit aan die kostafels in die talle restaurante in die omgewing.

Die Solo Studios is vier jaar gelede begin om kunsversamelaars die geleentheid te bied om kunstenaars te ontmoet en kunswerke regstreeks by die kunstenaar in hul ateljees te koop.

Die kunstenaar Emma Willemse in haar ateljee.

Die sameroeper, Klaus Piprek, het eintlik ’n agtergrond as projekbestuurder in die onthaalbedryf. “Toe ek enkele gelede na die vallei verhuis het, was die praatjies oor so ’n projek al lank in omloop. Die kunstenaars had net iemand nodig om dit te reël. Ek het toe weggespring.”

Sy suster, Astrid McLeod, is die eienaar van RK Contemporary en The Gallery op Riebeek-Kasteel. Die eerste Solo Studios is in 2016 begin.

Die organiseerders waarsku dat dit nie net nog ’n kunstefees is nie – daar is geen vlooimark of biertente te bespeur nie – maar besoekers kan die gewone daaglikse gang van die twee historiese dorpies in die Swartland ervaar. Hulle hoop om tot 1 000 mense oor die loop van die naweek te lok.

Hier volg van die hoogtepunte op die program:

Op Donderdag 8 Augustus open die groeptentoonstellings reeds om 10:00. Om 16:30 open Tamzin Lovell die Werk op papier-tentoonstelling in die RK Contemporary op Riebeek-Kasteel.

Om 18:30 begin die praatjie “How Jacob Zuma stole my country and the battle to win it back” deurdie bekroonde ondersoekende joernalis Jacques Pauw by die restaurant Red Tin Roof.

Solly Smook se ateljee met van sy jongste kunswerke teen die mure.

Op Vrydag 9 Augustus word daar vroegoggend begeleide wandelinge aangebied, gelei deur Diana Williams asook deur JP Meyer en Pieter Swart.

Besoekers kan die Olive Branch-projek in Shortstraat besigtig asook Donker Jonker se oudiovisuele installasie Kopkamer. Die Olive Branch-projek, wat bestaan uit talentvolle inwoners van die dorpe, bied ook die naweek gereelde optredes van sang, teater of straatpoësie in die strate aan.

Om 15:00 praat die keramiekkunstenaar Ann Marais oor keramiek in kuns in die Royal-hotel op Riebeek-Kasteel se konferensiekamer.

Net daarna praat die bestuurspan van die Stellenbosse Triënnale van 2020 oor eietydse kuns van Afrika.

Om 17:30 volg die amptelike opening van die Solo Studios deur Michelle Constant in die Royal-hotel.

Saterdag 10 Augustus om 08:00 is Constant weer aan die woord in ’n praatjie getiteld “Change is the only constant”in die La Parilla-restaurant. Daarna volg die rondleidings.

Om 15:30 praat die kunstenaar en redakteur van Art Times Gabriel Clark-Brown oor die fassinerende wêreld van Suid-Afrikaanse drukkuns in die Royal-konferensiekamer en net daarna gesels Kifiloe Siwisa oor die rol van die kurator in kuns.

Sondag 11 Augustus om 08:00 oor ontbyt in die La Parilla-restaurant gesels Lovell en Siwisa oor die netelige onderwerp wanneer ’n kunswerk as kuns of al dan nie beskou word. Pauw bied weer sy praatjie om 09:30 in die Red Tin Roof aan.

*Kaartjies is by Webtickets beskikbaar. Dit is raadsaam om te bespreek omdat daar beperkte plek beskikbaar is. ’n Naweekpas kos R295, ’n Vrydag- en ’n Saterdagpas kos R195 elk en die Sondagpas R145. Spesiale verblyfpakkette in die Royal-hotel is ook beskikbaar – die pakkette sluit die bywoning van die openingsgeleentheid in.

Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.