Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Besonderse werke van gevierde kunstenaars opgeveil
Een van die kroon-aanbiedinge van Aspire Art se komende veiling is die vroeë werk, “Score” (die titel is ingewerk in die doek). Dit kan beskou word as ’n voorloper tot Dumas se latere roem met haar werke waarin sy voortdurend in gesprek is met die kunsgeskiedenis en haar eksperimente om liggaamlike verteenwoordiging daarin te vergestalt. Foto: Aspire

Afrika-kuns staan sterk op Aspire Art se eerste veiling van die jaar. Dit is ’n besonder interessante en uiteenlopende versameling.

Die veiling, wat aanlyn en ook vir die eerste 50 geregisteerdes lewend aangebied word, vind op Donderdag 4 Maart om 19:00 plaas. Terselfdertyd word die veilingshuis se nuwe venue aan De Waterkant in Kaapstad ingewy.

Onder die aangebode werke is dié van moderniste soos Irma Stern, Maggie Laubser en JH Pierneef tot internasionaal gevierde kunstenaars soos Marlene Dumas, William Kentridge en Isaac Julien en plaaslike ikone soos Robert Hodgins en Cecil Skotnes en die Afrika-meesters George Pemba, Ablade Glover en Gerard Sekoto.

Daar is ook werke van internasionaal gevestigdes soos Ephraim Ngatane, Mischeck Masamvu, Uche Okeke, Cyrus Kabiru en Moshekwa Langa, asook die werk van jong opkomende sterre soos Turiya Magadlela (FNB-pryswenner) en Blessing Ngobeni (Standard Bank Jong Kunstenaar, 2020).

’n Hoogtepunt is Robert Hodgins se werk, “Songs my mother taught me”, waarskynlik outobiografies van sy Piano”, bekend ook as “Gypsy Songs”. Foto: Aspire

Belangrik ook is die eerste aanbieding van die internasionaal gevierde Australiese kunstenaar, Tracey Moffatt, wat tans ’n solo-tentoonstelling in die Tate Modern in Londen aanbied. Haar fotografiese werke – ’n skenking van Moffatt – word opgeveil ten bate van die Molo Songololo-kinderwelsynsdiens, wat ’n veilige hawe bied vir kinders wat slagoffers van seksuele geweld en uitbuiting is.

Al hierdie werke kan tot kort voor die veiling Donderdag in Aspire besigtig word. Weens die Covid-19-regulasies moet afsprake vooraf gemaak word.

Ondanks die Covid-pandemie het die werk van Afrika-kunstenaars en sy diaspora internasionaal gesog geword wat deur die toetrede van ’n jonger generasie versamelaars ’n steeds groeiende wêreldmark het.

“Lady with Horse and Widow”, 2007, olie op bord, 119 x 157 cm. Foto: Aspire

Dumas, wat onder die invloedrykste skilders wêreldwyd gereken word, het ’n belangrike vroeër werk, Score, wat teen ’n skattingsprys tussen R3 miljoen en R5 miljoen aangebied word. Haar werk word deur haar betrokkenheid by kunsgeskiedenis en haar eksperimentering van die liggaamlike gekenmerk. Score is ’n vermenging van jeugdige vitaliteit en die beginsels van klassieke kuns tot ’n dinamiese bevestiging van die lewe, liefde en kuns.

Die inspirasie vir die werk is ’n paneel van die Italiaanse Renaissance kunstenaar Adrea Mantegna se Adoration of the Magi, wat rondom 1460 geskilder is en deel van die versameling van die Uffizi-galery in Florence is.

Dumas herinterpreteer die oorspronklike radikaal deur ’n erotiese liggaam in die heilige grot te plaas en die ruimte waar die Maagd was wat deur engele omring is, te vervang met Dumas wat met haar lippe, bedek deur fuchsia en rooi olieverf, self die doek te soen.

’n Stillewe van Irma Stern Dahlias and Fruit is ’n viering van kleur en energie wat onder haar heel bestes in die genre tel. Die skattingsprys hiervoor is tussen R4,5 miljoen en R6 miljoen.

‘n Opwindende werk is Britse argitek en kunstenaar, William Timlin se “Colosseum” (1932), die destydse vlagskip van African Consolidated Threatre in Commissionerstraat, Johannesburg. Timlin was ook die argitek daarvan. Foto: Aspire

William Kentridge se werk, Drawing from Sobriety, Obesity and Growing Old (Mrs Ekstein, preparing for the day) is ’n werk wat die lewe met vreugde vier. Die verkoopprys word geraam op R2,8 miljoen tot R3,8 miljoen. ’n Afdruk uit sy reeks, Dutch Iris, in hierdie geval Dutch Iris II, val reeds op weens die seldsame kleurgebruik hier. Kentridge is al daarvoor geloof dat sy meesterlike hantering van hierdie komplekse medium, gelykstaan met skilderwerk. Die aanbodprys is tussen R500 000 en R800 000.

’n Hoogtepunt is Robert Hodgins se werk, Songs My Mother Taught Me, waarskynlik outobiografies van sy kindertyd. Dit is geïnspireer deur Anton Dvorak se komposisie, “A song for voice and piano”, bekend ook as “Gypsy Songs”. Die werk roep nostalgiese herinneringe op van melodieë wat gesing is om kinders rustig aan die slaap te sus. Die moeder se kleurryke rok herinner aan die Mary Quant-era van die 1960’s. Hierdie werk is voor Marlon Brando se outobiografie met dieselfde titel geskep. Die werk word gewaardeer tussen R500 000 en R800 00.

•Aspire Art se nuwe tuiste is by Somersetweg 37A, De Waterkant. Vir verdere inligting sien www.aspireart.net. Bespreking vir besigtiging by marc@aspireart.net of selno. 072 841 3198.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.