Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Beurtkrag inspirasie vir wenwerk van Sasol-prys
Patrick Rulore, ’n student in visuele kuns aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria, is die wenner van die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie vir 2019.

Beurtkrag het vir ’n Pretoriase kunsstudent ’n seëvierende gevolg gehad toe hy dit as tema vir ’n skildery gebruik het en daarmee die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie gewen het.

Patrick Rulore (24), ’n finalejaar-diplomastudent aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT), het ’n hele R100 000 losgeslaan met sy olieverfwerk getitel Stage 4 Moments.

Hy verduidelik die werk so: “Begin vanjaar het Suid-Afrika onder ’n uitermate kragtekort gebuk gegaan en dié skildery beeld fase 4 uit, wat beteken ’n groot sektor van die gemeenskap se krag was afgesny.”

Anders as verwag, is die skildery nie ’n negatiewe uitbeelding van beurtkrag nie. Rulore wys hoe sy gesin met mekaar gekommunikeer, gelag en speletjies gespeel het.

“Die werk kla nie oor beurtkrag nie. Dit is ’n viering van die donker oomblikke waarmee ons onder sekere omstandighede te doen kry. Sodra die krag aangeskakel word, keer ons terug na ons vroeëre aktiwiteite wat ons in afsondering doen.”

Rulore sê hy probeer altyd die emosie en gees vasvang van mense in sy werk en dit doen hy deur met kleure, teksture en verf- en kwasmerke te speel.

Benewens die kontantprys kry Rulore ook die geleentheid om volgende jaar ’n solo-uitstalling in die Pretoria-kunsmuseum te hou.

Die naaswenner is die Durbanse meestersgraadstudent Luyanda Zindela. ’n Werk in pen en ink met die titel Phowthah sis’ Mgabadeli het aan hom R25 000 besorg.

“Ek het hierin die eindelose verwikkeldhede van ’n swart vel met tekentegnieke uitgebeeld en terselfdertyd die medium van pen en ink verken wat so geredelik beskikbaar is dat ’n mens geneig is om daarvan te vergeet,” sê Zindela.

Die vyf merietewenners, wat elkeen R10 000 ontvang, is

Nico Athene van Johannesburg met After After Party (Resurrection); Angelique Patricia Mary Bougaard (Universiteit van Johannesburg) met ’n skets van gemengde media getiteld Crucified; Cecilia Maartens-Van Vuuren van Bloemfontein met A Presentiment, ’n werk van gedroogde plantwortels; Kgodisho Moloto van Polokwane met Disguise Mask gemaak van potskuurders en draad; en

Mlamuli Eric Zulu van Durban vir ’n werk van gemengde media getitel Enlightened Art Gathering.

Pieter Binsbergen, beoordelaar, self ’n kunstenaar en voorsitter van Sasol Nuwe Handtekeninge, sê dit is opvallend dat tradisionele media in die twee topwerke gebruik is.

“Dit is egter duidelik dat die kunstenaars die werke met groot sorg, passie en dryfkrag uitgevoer het.”

Die beoordelaars is prof. Pieter Binsbergen, Cate Terblanche (kurator by Sasol), die kunstenaar Mary Sibande, Wilhelm van Rensburg (senior kunsspesialis by Strauss & Co), Lebohang Kganye (wenner van Sasol Nuwe Handtekeninge in 2017) en Pfunzo Sidogi, kunsdosent aan TUT.

’n Solo-uitstalling deur Jessica Storm Kapp, verlede jaar se kompetisiewenner, kan saam met die kuns van vanjaar se 80 finaliste in die Pretoria-kunsmuseum besigtig word. Die uitstalling sluit op 29 September.

Meer oor:  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.