Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Blik op swart estetika ’n uitnodiging om te besin

Die tentoonstelling A Black Aesthetic: A View of South African Artists (1970-1990) in die Standard Bank-galery in Johannesburg is ’n uitnodiging tot verkenning. Johan Myburg het dit besigtig.

Die Standard Bank-galery in die Johannesburgse middestad het hom die afgelope bykans 20 jaar gevestig as setel van toonaangewende en prikkelende uitstallings. Dink maar aan die uitstallings van Europese meesters soos Marc Chagall in 2000, twee jaar later Joan Miró en in 2006 die uitstalling Picasso and Africa.

Dumile Feni, African Guernica, sonder jaartal, houtskool op ongedrukte koerantpapier (330 x 270 cm).

In 2012 het Sophie Ramond, direkteur van die Franse Lyon-kunsmuseum, ’n versameling werk uit dié museum byeengebring onder die titel 20th Century Masters: The Human Figure, en in 2016 is werke van Henri Matisse vertoon in die uitstalling Rhythm and Meaning.

Eweso het die publiek die geleentheid gekry om in omvangryke en insiggewende uitstallings kennis te maak met die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Irma Stern, Gerard Sekoto, Cyprian Shilakoe, Judith Mason, Alexis Preller, Louis Maqhubela, J.H. Pierneef en onlangs Christo Coetzee.

Same Mdluli, die galery se nuutaangestelde bestuurder en kurator, sit hierdie tradisie voort met haar indrukwekkende eerste aanbieding, A Black Aesthetic: A View of South African Artists(1970-1990).

Haar ondersoek na ’n swart estetika baken sy op meer as een manier af: In die eerste plek deur grootliks gebruik te maak van die versameling van die Universiteit van Fort Hare in Alice in die Oos-Kaap as bron; in die tweede plek deur die 20 jaar van Suid-Afrikaanse kuns wat sy haarself gun tussen 1970 en 1990; en in die derde plek deur te fokus op “modernistiese” kuns, soos sy in die katalogus aandui.

Ten opsigte van laasgenoemde sluit Mdluli daarmee kunstenaars soos David Koloane uit wat besonder aktief was sedert 1977.

Waar Mdluli aan die een kant streng hou by haar parameters, spoel die snit uit die Fort Hare-versameling, aangevul deur enkele werke uit die versamelings van die Johannesburgse Kunsmuseum en Standard Bank/Wits, oor die eerste baken, dié van 1970. Juis as konteks (en sinvol) bied sy die werk van vroeë moderne kunstenaars – Ernest Mancoba, George Pemba, Gerard Sekoto en Ephraim Ngatane – aan, wat ’n besonderse gravitas aan die uitstalling verleen.

Deur uitsluitlik te fokus op die werk van swart kunstenaars steriliseer sy metterdaad die blik op Suid-Afrikaanse kuns en kunstenaars en boet die beoogde narratief rondom ’n swart estetika-konteks in. Niks bestaan in isolasie nie, het ons verlede ons geleer, en eenogigheid lei noodwendig tot ’n verengde visie.

Boonop is die Fort Hare-versameling wat in 1998 deur die parlement tot nasionale kultuurskat verklaar is, die produk van noukeurige aankope sedert 1964, tydens die hoogbloei van die apartheidsdroom. EJ de Jager, die antropoloog en skrywer van Images of Man (1992), was meer as ’n gids tot die versameling – van die middel-1960’s was hy intens betrokke by die aankoop en uitbouing van die versameling tot en met die oprigting van die De Beers-eeufeesgalery op die universiteitskampus in 1989. De Jager was van 1970 tot 1998 ook kurator van die versameling.

African Guernica, die werk wat Dumile Feni gemaak het kort voordat hy die land in 1968 in ballingskap verlaat het (en dus ook buite die skopus van die 20 jaar val) en wat allerweë beskryf word as sy meesterstuk, is een van die vroeë werke wat Fort Hare bekom het en vertoon is in die universiteit se destydse AJD Meiring-kunsgalery.

Dit is ’n kragtige werk wat nie minder nie as Picasso se Guernica ’n mens herinner aan magsvergrype – in Feni se geval dié van die politieke en sosiale werklikheid van die 1960’s. Sonder bitterheid of selfbejammering is dié tekening ’n aanklag teen onderdrukking.

Dit is dié sentiment wat ook opval in die versameling grafiese drukwerk van Cyprian Shilakoe en Dan Rakgoathe.

Die sterk kontingent beelde wat ingesluit is, die meeste daarvan agter glas in die onderste uitstalruimtes van die galery, dra gewis by tot die gesprek wat die uitstalling aan die gang kry.

Mdluli se uitstalling is nie soveel die laaste uitspraak oor ’n swart estetika nie, as ’n sinvolle uitnodiging tot verdere besinning – nie net vir die kunsliefhebber wat die galery wil besoek nie, maar ook vir verdere navorsing.

* Tot 18 April. Mdluli bied rondleidings aan op 16 en 30 Maart, asook 6 April – telkens om 11:00.

Die Standard Bank-galery is op die hoek van Simmonds- en Frederickstraat in Johannesburg. Toegang is gratis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.