Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Brasiliane treur oor museum wat in brand verwoes is
06 September 2018

Die grootste versameling Latyns-Amerikaanse artefakte is moontlik verlore nadat ’n verwoestende brand Sondag uitgebreek het in die Nasionale Museum van Brasilië.

Luidens The Guardian is die 200 jaar oue gebou nie eens verseker nie en talle Brasiliane het reeds hul skok oor die verwoesting uitgespreek.

Die Nasionale Museum van Brasilië Sondag in ligte laaie. Foto: Buda Mendes / Getty

Daar word geraam dat meer as 90% van die museum se artefakte verwoes is.

Die museum in Rio de Janeiro is een van die oudste en mees geskiedkundige geboue in die land en het bykans 20 miljoen artefakte en historiese voorwerpe gehuisves, waarvan die meeste nou verlore is.

Volgens Christiana Serejo, adjunkdirekteur van die museum, is hulle nog onseker hoeveel van die versameling dalk nog ongeskonde is. Sy het wel erken dat die Egiptologie-versameling geheel en al verwoes is.

Nog museumstukke wat die vlamme vrygespring het, is die bekende Bendegó-meteoriet van yster wat lank gelede in Brasilië geval het, en ’n biblioteek met 500 000 boeke, insluitende werke uit die Portugese koloniale era in die land, wat afsonderlik in die museum gehuisves is.

Brasiliane buite die museum besig om te red wat te redde is. Foto: Ricardo Moraes / Reuters

Die publiek wil weet of een van die museum se mees uitsonderlike artefakte, ’n skedel van 12 000 jaar oud genaamd Luzia, ongeskonde is of nie. Ondersoekers het Dinsdag nog gewag op toestemming om die gebou binne te gaan.

Twee dae ná die brand trek daar steeds rook uit die gebou en volgens ’n brandweerman is dit hout wat steeds brand.

Volgens die Los Angeles Times is dit nog onbekend hoe die brand ontstaan het, maar lae staatsbesteding en onvoldoende instandhouding kry die skuld.

Die museum is in 2015 kortstondig gesluit omdat daar blykbaar “probleme met die veiligheid en die skoonmaakdienste” was.

Talle Brasiliane het Maandag voor die gebou byeengekom en pres. Michel Temer van nalatigheid beskuldig omdat ’n groot deel van Brasilië se geskiedkundige artefakte nou verlore is.

Die president het gesê dat dit ’n hartseerdag vir alle Brasiliane is.

Bronne: The Guardian en Los Angeles Times

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.