Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Buffelsdrift-restourasie wen groot Italiaanse prys
Die Buffelsdrift-restourasieprojek buite Ladismith in die Klein-Karoo het ’n internasionale prys losgeslaan. Die restourasiewerk het vier jaar geduur. Foto: Adam Letch

Die noukeurige restourasie van ’n paar 19de-eeuse erfenisgeboue op die plaas Buffelsdrift naby Ladismith het in Italië aan Jaco Booyens, ’n argitek van Robertson, en die Kaapse argiteksfirma SAOTA ’n goue medalje besorg.

Slegs twee goue medaljes is vroeër vandeesmaand op dié gesogte internasionale Domus-restourasie-en-bewarings-prysaand uitgedeel. Die geleentheid is weens die Covid-19-pandemie gestroom.

Die tweede goue medalje was vir die langsame herstelproses van die Barok-fasade van die Katolieke kerk Santa Maria di Nazareth in Venesië, wat uit 1680 dateer. Dié opknappingsprojek het 11 jaar geduur.

Volgens Booyens, wie se projek vier jaar geduur het, is dit ’n geweldige eer “om op gelyke voet met dié Italiaanse projek geag te word – dit voel amper nie reg nie, dis ligte musiek teenoor daardie kerk”.

Die leivoor wat agter om die huis loop, die perskepitbeddings en die klipplaveisel is deel van die restourasie van die Buffelsdrift-opstal. Foto: Adam Letch

Die Domus-pryse, wat vanjaar die sewende keer toegeken is, vereer voortreflikheid in die veld van restourasie van geboue asook die herstel van argitektuur en landskap. Die pryse word deur die Universiteit van Ferrara en die maatskappy Fassa Srl. toegeken.

Onder die 73 lande wat vanjaar voorleggings ingestuur het, is onder meer China, die VSA, Brasilië, Saoedi-Arabië en Rusland.

Booyens is as argitek “ ’n one man band” en woon in Robertson. Hy beskou homself nou nie juis as ’n “restourasie-argitek” nie, sê hy.

Die argitek Greg Truen van SAOTA, wat die eienaar van Buffelsdrift is, het hom genader om die geboue tot hul eertydse Karoo-eenvoud te herstel en om hul 19de-eeuse integriteit weer vas te lê.

“Greg het my gevra omdat ek modder ken en ook die bouproses met modder, wat eie aan die omgewing is.”

Die Buffelsdrift-opstal met Ladismith se Towerkop in die verte. Foto: Adam Letch

Die restourasie-projek het uit ’n klompie ou Kaapse geboue bestaan: die Buffelsdrift-opstal, twee skure en ’n winkel. Deur die jare het die oorspronklike geboue, wat van modder gebou was, verskeie veranderings ondergaan soos herhaalde pleisterwerk en aanbouings, wat nie in ooreenstemming met die historiese agtergrond van die geboue was nie.

“Eers wanneer jy ’n gebou begin regmaak, ontdek jy die geskiedenis daarvan. Daar was oor die jare baie aanplaksels, die vloer was krom en skeef, ’n sinkplaatdak het deel van ’n dekrietdak verberg. Die verkeerde materiaal is gebruik, die chemie van die geboue was heeltemal verkeerd,” sê Booyens.

Hy het ’n steen gemaak uit die gronddam op die plaas en gesien dit kom ooreen met die oorspronklike muur. Van toe af het hulle plaaslike materiale in die restourasie gebruik en tradisionele boutegnieke gevolg. Kalk is vir pleisterwerk gebruik, staalvensters is deur houtvensters vervang en dekrietdakke is weer opgesit. Die geelhoutdakbalke is geskuur en die vloere is deur populierhout vervang. Die erf is met Karooklip geplavei, daar is tradisionele perskepitbeddings en ’n leivoor kabbel nou om die huis na die dam om lafenis teen die hitte te bied.

Jaco Booyens

Hy sal graag weer so ’n projek wil aanpak, antwoord hy dadelik. Op die oomblik voel dit steeds soos ’n gelukskoot dat hul bloedsweet ’n goue medalje verower het.

“Dit voel ’n bietjie soos om die Olimpiese Spele te wen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.