Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
BUSQR wil geld vir kunstenaars laat inrol
Jon Savage, medestigter van BUSQR. Foto: Verskaf

Kunstenaars wat in sak en as sit omdat hulle nie deur aanlyn konserte op Facebook, Instagram of YouTube ’n inkomste kan verdien nie, kan dit wel nou danksy ’n nuwe Suid-Afrikaanse platform doen.

Dié platform, bekend as BUSQR – wat uitgespreek word soos busker, die Engelse woord vir straatmusikant – is geskep deur Jon Savage en Carl Booysen, wat albei verbonde is aan In_Broadcasting, ’n afdeling van die Suid-Afrikaanse kommunikasie-agentskap HaveYouHeard.

BUSQR ken ’n spesiale QR-kode, bekend as ’n BUSQR, toe aan enigiemand wat ’n regstreekse konsert, vertoning, demonstrasie of praatjie op ’n aanlyn platform wil aanbied. Dit is deur dié QR-kode wat die gehoor dan blitsvinnig met hul slimfone ’n betaling aan ’n kunstenaar kan maak.

Savage, wat eens ’n 5FM-platejoggie én hoofsanger van die rockgroep Cassette was, sê aan Netwerk24 hy en Booysen loop eintlik al jare met die idee vir BUSQR rond. Hulle het dit egter nooit nagejaag nie omdat die Suid-Afrikaanse musiekbedryf volgens hom vasskop teen dié tipe “vernuwende denke. Toe die Covid-19-pandemie gebeur, het ek en my span geredeneer dat as daar ooit ’n enorme kultuurverskuiwing in die vermaakbedryf sal kom, sal dit nóú gebeur. Daarom het ons ’n naelbytrit onderneem en dit (BUSQR) blitsvinnig op die been gekry.”

Savage het in Maart eintlik berge versit en die eerste weergawe van BUSQR in een naweek geskep, voordat hy ’n paar vriende gevra het om die platform te toets.

“Teen Donderdag het 40 kunstenaars dit gebruik – en binne drie weke het ons reeds 100 BUSQR’s uitgereik wat gesamentlik byna R500 000 aan dié kunstenaars besorg het.

“Ons het in die eerste paar weke sewe dae ’n week van die oggend tot die aand gewerk om te keer dat die platform ontspoor; dit was werklik waansinnig. Die duisende transaksies wat ons skielik moes hanteer, het so byna die skip gesink. Ek het ook ons kliëntedienslyn op WhatsApp beman, wat ’n reusetaak was. Dít alles was werklik een groot harwar.”

Sedertdien is byna 1 000 BUSQR’s plaaslik uitgereik en is die platform ook nou in Amerika geloods, waar Savage sê daar ’n groot aanvraag vir die tegnologie is.

“Plaaslik gebruik ’n paar ongelooflike mense dit reeds, soos (die sangers) Arno Carstens, Radio Raps, Zolani Mahola en (die komediant) Rob Van Vuuren. Liefdadigheidsorganisasies loods ook geldinsamelings daarmee en kerke wat dienste stroom vorder ook tiendes daarmee in.”

Só lyk die sanger Arno Carstens se BUSQR tydens ’n onlangse konsert wat hy regstreeks op Facebook aangebied het. Foto: Facebook

Savage sê dit is wonderlik om te sien hoe BUSQR mense se lewe oombliklik verander, veral dié wie se inkomste weens die staat van inperking weggeval het. Hy sê die musikant Daniel Green het ook onlangs ’n konsert met talle topkunstenaars aangebied waardeur hulle binne ’n uur sowat R120 000 vir inwoners van Masiphumelele in Kaapstad ingesamel het.

Só werk BUSQR

Belangstellendes moet gratis op www.busqr.co.za registreer en sal binne ’n paar dae hul eie BUSQR kry, wat Savage sê hulle dan op “basies enige platform – selfs Zoom” kan plaas.

Aanlyn gehoorlede of konsertgangers moet dan met hul slimfone ’n foto van die BUSQR neem.

“Jy het nie ’n spesifieke app of selfs Snapscan nodig nie,” sê Savage. “Jy maak die kamera op jou slimfoon oop en neem ’n foto van die QR-kode. ’n Klein venster sal dan op jou foon verskyn, en as jy daarop klik, sal jy ’n betaalmetode soos ’n kredietkaart, elektroniese oorbetaling, Snapscan, Zapper of PayPal in enige geldeenheid kan kies.”

BUSQR steek 5% van elke betaling in hul sak – die res word elke Vrydag aan kunstenaars oorbetaal.

Meer oor:  Arno Carstens  |  Radio Raps  |  Rob Van Vuuren  |  Zolani Mahola  |  Kuns  |  Covid-19  |  Musiek  |  Kunste  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.