Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Cloete Breytenbach: Toewyding sonder ego

Die fotograaf Cloete Breytenbach (85) wat Vrydag dood is, se toewyding aan sy werk sonder enige ego oor sy sukses, is wat sy dogter Anna Breytenbach veral van haar pa bewonder het.

Breytenbach, broer van die digter Breyten Breytenbach en die soldaat kol. Jan Breytenbach, stigter van 32 Bataljon, is in die Panorama-hospitaal in Kaapstad dood nadat hy ’n hartvatomleiding ondergaan het.

Cloete Breytenbach voor een van sy foto’s van die Angolese rebelleleier Jonas Savimbi. Foto: Jaco Marais

“Hy het beslis vir ons almal daardie Breytenbach-etiket van volharding gewys,” sê Anna.

“Hy het ’n sterk karakter gehad waarmee hy hom kon plaas in gebiede met afskuwelike en skokkende menselyding. Omdat hy so dapper was, kon hy met sy kamera ’n stem gee aan hierdie sake, hy kon dit op die man af uitbeeld. Hy het terrein betree wat ander nie sou nie. Hy het oor die seldsame vaardigheid beskik om nie betrokke te raak nie en objektief verslag te doen.”

Breytenbach se mees onlangse uitstalling was in Porto, Portugal.

As persfotograaf het sy loopbaan by Die Burger begin. Hy het onder meer ook by die Cape Times gewerk.

Hy het onder meer Angola se onafhanklikheidsoorlog, Joom Kippoer in Israel in 1973, die Viëtnam-oorlog, asook die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan se inhuldiging met sy kamera verewig.

Hy het ook oudpres. Nelson Mandela afgeneem toe hy ’n gevangene op Robbeneiland was.

Hy het veral bekend geword vir sy groot fotoversameling oor Distrik Ses in Kaapstad. Dit is saamgevat in sy boek The Spirit of District Six. Dit bestaan onder meer uit foto’s van mense wat op straathoeke gesels, en die Kaapse Klopse.

“Ek het nie met hom in die huis grootgeword nie,” sê Anna. “My ouers is geskei toe ek baie jonk was. Daar is nie baie wat ek oor die kinderjare kan sê nie. Ek het hom as ’n baie onafhanklike karakter met ’n sterk wil leer ken.”

Breytenbach het vier kinders en twee agterkleinkinders. Hy is einde 1990 met Brenda getroud.

“Ons is dankbaar dat ons ons op die moontlikheid van sy sterfte kon voorberei,” sê Anna.

“Hy het baie omgegee vir ons, maar hy was nie ’n man wat emosies gewys het nie, nie in woorde nie, in elk geval. Hy was baie teenwoordig in ons lewens.”

Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach-galery in Wellington, sê hoewel Breytenbach ’n dapper persfotograaf was, hy nooit met sy kamera ’n indringer wou wees nie.

“Hy het baie gevaarlike plekke besoek. Hy was byvoorbeeld bevriend met Jonas Savimbi (rebelleleier van Angola) en het daardeur die binnekring van die gebeure in Angola ontdek en gedokumenteer.”

Ander boeke wat Breytenbach se fotografie bevat, sluit in Savimbi’s Angola en Angola War.

Cloete BreytenbachFoto: Jaco Marais

Breytenbach was tot ongeveer ’n maand gelede lid van die Breytenbach-trust. Hy was ’n lid sedert die Breytenbach-sentrum op Wellington gestig is.

Die kunsskrywer Melvyn Minnaar onthou Breytenbach as ’n beskeie man wat sy fotografie betref.

“Die beelde wat hy met sy lens vasgevang het, het die praatwerk gedoen. In dié opsig was hy die klassieke nuusfotograaf – om presies en skerp dit wat voor sy lens gebeur, te dokumenteer.

“Sy foto’s van Distrik Ses is natuurlik bekend, maar dis belangrik om daarop te let dat hy nie ’n sweempie romantiek aan daardie nou bekende swart-en-wit-afdrukke toegeken het nie.

“In talle opsigte antedateer Breytenbach die nou gewilde en gevierde ‘sosiale kunsfotografie’ waarvoor mense soos Guy Tillim en Pieter Hugo wêreldberoemd is.”

* ’n Gedenkdiens vir Cloete word vir 17 Junie beplan, maar ’n lokaal is nog nie bevestig nie.

Meer oor:  Wellington  |  Fotografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.