
Credo MutwaFoto: Daily Sun
Die skrywer, storieverteller, kunstenaar en tradisionele geneser Credo Mutwa is vroeër Woensdag dood. Hy was 98.
Hy was veral bekend om sy boek Indaba, My Children, waarvan meer as 250 000 eksemplare in Suid-Afrika verkoop is. In die boek word vertel hoe hy ’n sangoma geword het en sy rug op Westerse medisyne gedraai het. Sy boeke het sterk gesteun op die mitologieë van Afrika, Zoeloe-verhale en sy eie filosofiese gewaarwordinge.
Hy is in 2018 deur die departement van kuns en kultuur vereer vir sy omvattende werk oor inheemse kennis en tradisionele wysheid.
Hy het gereeld voorspellings gemaak wat waar geword het, soos die sluipmoordaanvalle op politieke leiers soos Chris Hani en die Amerikaanse president John F. Kennedy; ook oor wêreldgebeure, soos die 9/11-terreuraanval in New York en Amerika se inval van Irak.
Hy het op Kuruman in die Noord-Kaap gewoon en is daar in die hospitaal dood.
* Mutwa het in die jare sewentig tot negentig ’n buitelugmuseum, die Credo Mutwa-kultuursentrum, in Jabavu, Soweto, opgerig met van sy beelde. Daarmee wou hy sy mede-Afrikane inlig en blootstel aan die mites en kulturele erfenis en kennis van Afrika. Dit is ’n viering van Afrika-kultuur, godsdienste en inheemse wetenskap. Dit staan in die Oppenheimer- inheemse tuin, waar ook medisinale plante aangetref word. Dit het later vervalle geraak, maar is steeds daagliks oop tot 18:00.