Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Da Vinci-uitstalling open in Louvre
’n Kunstenaar se vertolking van die virtuele realiteitsprojek ‘Mona Lisa: Beyond the Glass’.

Die voorbereiding het langer as ’n dekade geduur en is op die nippertjie byna deur ’n diplomatieke twis in die wiele gery, maar so pas kon een van die duurste kunsuitstallings ter wêreld in die Louvre in Parys, Frankryk, open. 

Dié uitstalling herdenk Leonardo da Vinci se dood 500 jaar gelede en duur tot 24 Februarie 2020.

Meer as 160 skilderye en tekeninge uit die Renaissance-tydperk is te sien, waarvan party uit die versamelings van koningin Elizabeth van Brittanje en Bill Gates geleen is.

Die meer as ’n halfmiljoen besoekers wat in die volgende vier maande verwag word, behoort ’n groter begrip vir die kunstenaar se werkswyse, infrarooi-tegnologie en virtuele realiteit te kry, het die medekurator, Vincent Delieuvin, gesê.

Infrarooi-ligte op van Da Vinci se bekendste kunswerke het heelparty geheime blootgelê, onder meer verskeie tekeninge wat onder sy voltooide werke versteek is.

Leonardo da Vinci se ‘Vitruviaanse man’, wat ter elfder ure by die Louvre aangekom het.

Da Vinci, ’n ingenieur, ontwerper, wetenskaplike en kunstenaar, was gefassineer deur die menslike liggaam en die gedrag van diere en plante. Hy was veral behep met die beweging van voëls en het ’n “vliegtuig” ontwerp wat hy op die vlerke van ’n vlermuis geskoei het. Tekeninge van ingewikkelde aspekte soos dié wat hy bestudeer het, is deel van die uitstalling.

Dit is nie waar Da Vinci se belangstellings geëindig het nie. Sy notaboeke bevat interpretasies van argitektoniese boutegnieke, asook ontwerpe van wapens, gereedskap en ander gebruiksvoorwerpe.

Vitruviaanse man, een van die baanbrekerkunstenaar se mees gevierde werke, is spesiaal vir die uitstalling aan die Louvre geleen. Dit is ’n pen-en-ink-tekening van ’n volmaakte liggaam binne ’n vierkant en sirkel en is eers verlede week na Parys vervoer nadat gepoog is om te verhinder dat die werk Italië verlaat. Die onenigheid is so onlangs soos verlede week in ’n Italiaanse hof geskik.

‘Ster van Bethlehem en ander plante’, ’n tekening deur Leonardo da Vinci, kom uit die versameling van koningin Elizabeth van Brittanje.

Dié werk word die afgelope jare in ’n klimaatbeheerde vertrek in Venesië gehou.

Da Vinci se bekendste skildery, Mona Lisa, is egter nie deel van die uitstalling nie. Dit word elders in die Louvre agter glas bewaar.

Kunswerke in koningin Elizabeth se versameling wat agter toe deure in die Windsor-kasteel in Brittanje gehou word en waarvan 24 vir die herdenkingsuitstalling geleen is, sluit in Leonardo se Studie van hande en kop van Leda. Leda is die mitologiese moeder van Helena van Troje.

Renaissance-werke van ander kunstenaars word ook uitgestal om “Da Vinci se werke in konteks te plaas”, lui ’n nuusverklaring van die Louvre.

Leonardo da Vinci se ‘Kop van ’n vrou’, ook bekend as ‘La Scapigliata’.?

Dié Italiaanse kunstenaar, wat in 1452 in Toskane gebore is, is in Mei 1519 in Frankryk dood.

Einde verlede jaar het ’n politieke en kulturele twis byna die uitstalling gekelder toe Italië se regse nasionalistiese party geweier het dat Da Vinci-kunswerke uit Italië gestuur word, omdat die land “nie deel van die groot politieke geleentheid” was nie.

’n Woordvoerder van Italië se ministerie vir erfenis het in November gesê “Leonardo was Italiaans. Hy is net in Frankryk dood. Frankryk kan nie alles wil hê nie.”

Die Louvre is die tuiste vir die belangrikste versameling van Da Vinci-werke, altesaam vyf.

Bronne: BBC News, The New York Times, Deutsche Welle

Meer oor:  Leonardo Da Vinci  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.