Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Dag 6: Kunstenaars sit sitstaking by raad voort

“Dag 6. Ons is steeds by die NAC. Ons gaan nêrens.”

Sibongile Mngoma Foto: Facebook

Só het die operasangeres Sibongile Mngoma Maandagoggend op haar Facebook-blad geskryf. Dis die sesde aaneenlopende dag van ’n sitstaking wat sy en ’n handvol kunstenaars in die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Johannesburg hou.

Mngoma het eintlik reeds op 1 Maart die sitstaking op haar eentjie begin om haar stem dik te maak oor die kunsteraad se gesloer met die uitbetaling van R300 miljoen se noodfinansiering aan kunstenaars. Sy is aan die einde van dié dag oortuig om huis toe te keer, maar het die sitstaking op 3 Maart hervat nadat die kunsteraad nie lyste met die name van begunstigdes aan haar kon verskaf nie.

Netwerk24 het vroeër berig dat die kunsteraad R300 miljoen danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het met die opdrag om dit aan kunstenaars uit te deel. Kunstenaars was veronderstel om dié bedrag teen Desember te ontvang sodat hulle kunsteprojekte kon skep wat teen 15 Maart ten einde moes loop. Die kunsteraad het egter teen 5 Maart nog net R28,9 miljoen uitgedeel.

Julie Diphofa, die kunsteraad se waarnemende hoof, het Donderdag teenoor die sitstakers erken dat die kunsteraad ’n groot fout met die toekenning van die noodfinansiering gemaak het en in die proses is om dit reg te stel.

Sy het gesê die kunsteraad het onder meer per ongeluk 1 374 aansoeke vir die noodfinansiering goedgekeur en kontrakte met 610 van dié begunstigdes gesluit, voordat hulle besef het die R300 miljoen is op – en dat hulle eintlik meer as dubbeld dié bedrag nodig het om al die goedgekeurde aansoeke van noodfinansiering te voorsien.

Die kunsteraad se direksie het besluit dat die beste oplossing bloot is om al die kontrakte te verbreek wat hulle reeds met begunstigdes gesluit het en vir begunstigdes wat óf R16 600 óf R25 000 belowe is – afhangende van die twee strome waarin hulle aansoek gedoen het – niks meer as R10 895 te betaal nie. Die direksie het aangevoer hulle kan só verseker dat al 1 374 begunstigdes darem iets kry, ongeag of die oplossing wettig is of nie.

So oornag die protesterende kunstenaars in die Nasionale Kunsteraad se raadsaal. Foto: Facebook

Dít het Mngoma en al die ander begunstigdes nie geval nie – en sy het haar daarom met mening besluit om die sitstaking vol te hou.

Mngoma het vroeër aan Netwerk24 gesê sowat 50 kunstenaars daag deur die dag by die kunsteraad se kantore in Newtown op en roteer sodat hulle die Covid-19-maatreëls kan handhaaf. Snags slaap sy en sowat 12 ander kunstenaars in die kunsteraad se raadsaal.

Sy sê sy sal eers die sitstaking staak wanneer die kunsteraad op die volgende agt vrae en vereistes reageer en daaraan voldoen het:

  • 1. Wie is die begunstigdes wat al almal betaal is – en hoeveel is hulle betaal?
  • 2. Is stroom 1 al afgehandel? Wie is betaal en hoeveel?
  • 3. Wie in stroom 2 het kontrakte ontvang? Wie is al ingelig en wie moet nog ingelig word dat hul aansoeke goedgekeur is?
  • 4. Verskaf ’n lys van al 1 374 die PESP-begunstigdes.
  • 5. Wanneer word die betalings afgehandel vir mense wat reeds hul kontrakte geteken het?
  • 6. Wanneer word die betalings en kontrakte afgehandel vir mense wat nog op kontrakte wag?
  • 7. Wanneer word die betalings, kontrakte en aanvaardingsbriewe afgehandel vir dié wie se aansoeke steeds beoordeel word?
  • 8. Wanneer word die aansoekers wat afgekeur is, in kennis gestel?

Kunstenaars het intussen op die Im4theArts-beweging se Facebook-blad geskryf dat hulle briewe van die kunsteraad ontvang het om hulle in te lig dat hul kontrakte gewysig gaan word – en dat hulle veel minder gaan kry as wat die kontrakte lui.

Hierop het Mngoma op Facebook geskryf: “Sê nee vir boelies! Moenie die NAC se armoede-aanvaardingsbriewe onderteken nie!”

Lede van die Im4theArts-beweging se raad het reeds aangedui dat hulle besig is om ’n webinaar met prokureurs oor die aangeleentheid te reël. ’n Groepsgeding word ook oorweeg deur kunstenaars wat reeds kontrakte met die kunsteraad gesluit het.

Die kunsteraad se direksie het Rosemary Mangope, die kunsteraad se hoof, en Clifton Changfoot, hul finansiële hoof, geskors hangende ’n ondersoek oor die aangeleentheid.

Tshepo Mashiane, ’n direksielid, het aan Netwerk24 gesê dat die direksie ook begunstigdes gaan ondersoek wat noodfinansiering ontvang het, maar glo nie in die kunstesektor werksaam is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.