Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
David Koloane vereer met uitstalling
David Koloane se “A Resillient Visionary: Poetic expressions of David Koloane” sal in Kaapstad en Johannesburg aangebied word. Foto: Verskaf

Skep geleenthede en maak gebruik daarvan. Dis presies wat David Koloane (81) gedoen het om hom die afgelope 40 jaar te vestig as internasionaal gerekende Afrika-kunstenaar. Wat hom uitsonderlik maak, is dat hy onselfsugtig ook geleenthede vir ander geskep het om kuns te kon beoefen.

Hy kon matriek nie maak nie, want hy moes vroeg verantwoordelikheid neem om vir sy gesin te help sorg. Hy het egter nooit ’n kunsloopbaan oorweeg nie.

“Ek het gedink dat apartheid swart mense van kuns uitsluit totdat ’n onderwyser, Louis Maqhubele, my vir die eerste keer na ’n kunsmuseum geneem het. Hy het my aangemoedig om met tekenwerk voort te gaan.”

Nou word hy vereer met ’n loopbaanuitstalling, getiteld A Resillient Visionary: Poetic Expressions of David Koloane, wat in Kaapstad en Johannesburg aangebied word. Hierdie kunswerke is ’n bevestiging van sy betrokkenheid met die sosio-politieke en eksistensiële uitdagings. Hy is uniek in sy estetiese en visuele uitdrukking, en van sy verkenning van die stadslewe in Johannesburg. Die bewustheid wat hy skep van die sterk kontrasterende omstandighede tussen voorstedelike en township lewe en tussen welvaart en armoede het dikwels ook ’n poëtiese toon.

Die temas wat herhaaldelik voorkom is stedelike landskappe van Johannesburg, straat- en township-lewe, verkeersknope, migrasie, vlugtelinge, jazzmusikante, honde en voëls. Hierdie werke verbeeld uitbundige en sombere piktorale narratiewe. Hy werk gemaklik in verskillende media – olie op doek, potlood-, pastel- en kryttekeninge, grafika, gemengde media en driedimensionele kunswerke. Hy maak ook geen skeiding tussen figuratiewe werk en abstraksie nie. Hy meen die een vloei in die ander.

“My kuns is koördinasie en transformasie van objekte in ’n betekenisvolle geheel. So is my driedimensionele werk geskep deur weggooigoed wat ek bymekaar bring. Dit is in elke kunstenaar om iets uit niks te skep. Wat vir ander rommel is, kan herskep word in ’n kunsproduk”, sê Koloane.

Hy glo dat dit ’n globale tradisie is en nie net Europees is om met optelgoed om te gaan nie. So onthou hy hoe hy ’n collage in 1977 aan ’n Johannesburgse galery vir verkope en uitstalling aangebied het.

My kuns is koördinasie en transformasie van objekte in ’n betekenisvolle geheel. So is my driedimensionele werk geskep deur weggooigoed wat ek bymekaar bring. Dit is in elke kunstenaar om iets uit niks te skep. Wat vir ander rommel is, kan herskep word in ’n kunsproduk

“Die werk is afgekeur en die rede was dat dit as ‘un-African’ gesien is.”

Koloane se biografie lees soos die geskiedenis van kontemporêre swart kuns in Suid-Afrika. Hy het ’n bewuste bydrae gemaak om die werk – en status – van swart kunstenaars te bevorder. ’n Hoogtepunt was toe hy in 1995 kurator was van die Suid-Afrikaanse komponent van die internasionale retrospektief van swart kuns, Seven Stories About Modern Art in Africa, wat in Londen en die volgende jaar in New York aangebied is.

Koloane is ’n sleutelfiguur om klowe tussen swart en wit kunstenaars te oorbrug en veral om swart kunstenaars “te laat voel dat hulle die reg het” om deelnemers te wees in die nasionale en internasionale kunswêreld. ’n Kritiese aspek van sy kunsproduksie is sy direkte betrokkenheid met sy gemeenskap.

Sy deurbraak met die stigting van die eerste kunsgalery vir swart kuns in Johannesburg en later jare die aanbieding van verskeie werkwinkels getuig hiervan. Veral belangrik is sy stigting in 1991 van The Bag Factory in Fordsburg om aan kunstenaars – swart en wit – ateljeeruimtes te verskaf en ook as mentor vir hulle op te tree. Onder die kunstenaars wat hier geslyp is en later in eie reg erkenning ontvang het, tel Pat Mautloa, Sam Nhlengethwa, Joachim Schonfelt en Mark Atwood. Met trots vertel hy dat dit “die eerste keer in Suid-Afrika was wat wit en swart kunstenaars saam kon werk.”

Die kunstenaar David Koloane se “Moonlight and braziers” (2018). Foto: Verskaf

Hy sê dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis deurgaans die produksie van swart kuns beïnvloed. Hy is ’n vroeë proponent van township realisme met Alexandra en Soweto as voedingsbron. Sy abstrakte werk het ’n bepaalde eenvoud wat vergelyk met die werk van Jean Michel Basquidt wie se werk internasionaal geëer en in groot aanvraag is.

In die voorwoord van ’n monografie oor Koloane skryf Nadine Gordimer dat hy met sy skilderye en tekeninge meer aanbied as om net daarna te kyk. “Ons word daardeur ingetrek om ontdekkings te maak oor die proses en ruimtes van lewe.”

Basterhonde is ’n herhalende tema in Koloane se werk. Dit is simbolies van die hebsug en meedoënloosheid van politici in die verlede en huidige sosiale konteks in Suid-Afrika. Vir hom gaan dit daaroor om ’n kollektiewe bewussyn te skep vir hierdie onregte en benadeling.

Ondanks sy intense betrokkenheid met Johannesburg noem Koloane dit steeds “a squatter setttlement”. “Ek is eindeloos gefassineer met die stad en sy omgewing. Tog wil ek ook daarin ’n baken van hoop voorhou.”

* A Resillient Visionary: Poetic Expressions of David Koloane met Thembinkosi Goniwe as kurator word in die Izikio SA Nasionale Kunsmuseum tot 4 Augustus aangebied. Daarna verskuif dit na die Standard Bank Galery in Johannesburg en die Wits-kunsmuseum.

Bron: David Koloane: Taxi 006, David Krut Publishing, Johannesburg, 2002.

Meer oor:  Kuns  |  Uitstalling  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.