Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘De Letters van Utrecht’ ’n monument vir die toekoms
Die beginpunt van De Letters van Utrecht in Oudegrachtstraat. Dié stene verteenwoordig die weke sedert 1 Januarie 2000. Elke Saterdag word ’n nuwe letter onthul wat bydra tot ’n aaneenlopende gedig deur die strate van dié stad.
Simon Klop graveer sy en Kim Klop se troudatum op die steen wat hulle “bygedra” het. Kim hou hul jongste seuntjie, Faber, vas. Jesse kyk hoe Simon te werk gaan. Foto’s: Tinus van Staden

Utrecht. – Toeriste wat deur die ou stad van Utrecht in Nederland se Oudegrachtstraat loop, kyk gewoonlik meer af na onder as op na die ou geboue rondom hulle.

Die rede is die letters wat op die randstene van die smal pad gegraveer is, alles in ’n spesiale lettertipe en een letter per steen.

De Letters van Utrecht is ’n kunswerk wat as ’n monument vir die toekoms dien,” verduidelik Michael Münker, die tesourier van die Letters van Utrecht-stigting.

“In 2008 het die vraag by my ontstaan: ‘Wat laat ons agter?’ Ek wou graag iets vir die volgende generasie agterlaat en het aan ’n idee gedink,” vertel Münker.

Nadat verskillende idees getoets en hersien is, het hy met ’n lid van die stad se digtersgilde die moontlikheid van ’n ewigdurende gedig in die stad se strate bespreek. So is die stigting Letters van Utrecht in 2012 op die been gebring.

Die 50-jarige Münker het besluit om te begin met die eerste reël van ’n gedig sodat voetgangers kan sien dit is wat met die idee veronderstel word.

Stene is gelê en elk van die stene verteenwoordig een week vanaf Saterdag 1 Januarie 2000. Elke Saterdag om 13:00 word ’n volgende steen onthul met die volgende letter en die nommer van die week sedert 1 Januarie 2000 daarop gegraveer.

Enigeen van oor die wêreld heen is welkom om ’n steen vir 100 te borg, ongeag of die persoon al in Utrecht was. Die “borg” kan dan op die kant van die spesifieke steen ’n boodskap graveer. Wanneer die steen teruggeplaas word, is die boodskap nie sigbaar nie, maar wel die letter wat hy gekies het.

Dié letter vorm deel van een van die woorde in dié aaneenlopende gedig waaraan verskeie digters skryf. Münker sê hoe die gedig verder gaan verloop, is net so onbekend soos die toekoms.

“Niemand weet wat in die toekoms gaan gebeur nie. Ons weet wel dat daar tog ’n toekoms is,” sê hy.

Kim en Simon Klop, ’n egpaar van Utrecht, het op 10 Junie vanjaar getrou en besluit om die steen te borg wat op 11 Junie gelê is.

“Die steen wat ons bygedra het, het die letter ‘G’ op – vir getrouwd,” skerts Kim. “Dit is ’n spesiale manier om ons spesiale dag te herdenk,” sê sy.

As ’n mens verder straat-op stap, sien jy kleiner stene met datums op. Dié datums is die jaartalle wat aandui waar die gedig gaan loop. ’n Paar honderd meter verder kom ’n mens by 2040.

“Om die draai kom jy dan by 2090 en aan die ander kant van die straat begin 2100,” sê Münker.

  • ’n Steenmeester bring die letters op die stene aan. Tinus van Staden van Netwerk24 en sportverslaggewer by Volksblad is vir twee maande in Nederland ingevolge ’n Naspersprogram vir uitreiking en verryking. Hy bly in ZA-huis aan die Keisersgracht in Amsterdam.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.