Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Debat oor moordenaar se kuns in Pretoria

Die kunstenaar Candice Breitz het versoek dat haar werk aan een van die uitstallings op die kampus van die Universiteit van Pretoria onttrek word.

Haar versoek het gekom ná ’n hewige toutrekkery tussen die organisasie Sex Workers Education & Advocacy Taskforce (Sweat) en Gabi Ngcobo, die genooide kurator van die Javett-kunssentrum, wat ’n werk deur die veroordeelde moordenaar Zwelethu Mthethwa ingesluit het.

Die kunstenaar Candice Breitz wil haar kunswerk in die Javett-kunssentrum met dié protesplakkaat vervang. Foto: Facebook

Mthethwa, wat nie net in Suid-Afrika bekend was nie, maar ook in die buiteland, is in 2017 skuldig bevind aan moord (dolus eventualis) op die 23-jarige sekswerker Nokuphila Kumalo (23).

Hy dien tans tronkstraf van 18 jaar in Pollsmoor uit.

Een van sy pastelsketse, The Wedding Party (1996), pronk nou saam met Breitz se video-installasie Profile (2017) in twee van vier verskillende uitstallings in die sentrum.

Die insluiting van Mthethwa se werk is vir Breitz én Sweat onaanvaarbaar.

Breitz eis dat haar werk verwyder word in die lig van “die onlangse massa-optog teen geslagsgeweld in die land, ter nagedagtenis aan (Kumalo) en uit respek vir haar steeds treurende familie en gemeenskap; uit samehorigheid met Sweat en ter erkenning aan die duisende mense wat weens geslagsgeweld in ons land mishandel en vermoor word”. Breitz, wat tans in die buiteland woon, het haar e-pos gerig aan Christopher Till, stigtershoof van die kunssentrum, en het dit ook op Facebook geplaas.

“Die Javett-UP glo dit is noodsaaklik en dringend om openhartig te praat oor geslagsgeweld en vrouemoord, veral ná die #MeToo- en #AmINext/#IAmNotNext-bewegings."

Sy skryf deur dié optrede wil sy nie skade berokken aan die kurator wat sy beskou as een van die beste van ons tyd nie, maar sy wil bydra tot die behoud van die waardigheid en nagedagtenis van (Kumalo) en die duisende ander in ons land wat slagoffers van vrouemoord en gendergeweld is.

“As Kumalo se familie en die gemeenskap voel dit is te gou vir die werk van Mthethwa om weer op die mure van die land se gesogste kunsinstellings te pryk – en hulle het deur Sweat duidelik gesê dit is inderdaad die geval – moet hul stemme gehoor en hul besware hanteer word.”

Breitz het ook versoek dat die kunssentrum haar werk deur een van Sweat se protesplakkate vervang wat deel van hul #SayHerName-veldtog is.

Haar e-pos volg kort op ’n ope brief van Sweat waarin die insluiting van Mthethwa se werk sterk veroordeel word. Die organisasie het ’n aanlyn petisie begin waarin hulle aandring dat die werk verwyder word “uit eerbied vir Nokuphila se familie, uit eerbied vir die geweld wat mans aan kwesbare en gemarginaliseerde groepe toedien, en vir die ontelbare slagoffers van geslagsgeweld en vrouemoord in Suid-Afrika”.

Die petisie is op 4 Oktober reeds deur 785 mense geteken.

Ngcobo, wat die uitstalling All in a Day’s Eye: The Politics of Innocence in the Javett Art Collection saam met Donna Kukama, Simnikiwe Buhlungu en Tshegofatso Mabso saamgestel het, het in ’n verklaring teruggekap en onder meer gesê die werk is ingesluit om te dien as “bewys” van die vrouehaat wat tans hoogty vier.

“Ons kan deur sy werk die onophoudelike geweld teen vroue sien,” skryf sy.

“Ons het dit daarom gekies om ’n psigososiale analise ten toon te stel wat oopvlek dat sy gewelddadige dade nie ’n onverwagse verskynsel is nie. Die werk is nog ’n bewysstuk wat sy vrouehaat en giftigheid ontbloot.”

Sy het bygevoeg die besluit om sy werk in te sluit, is nie ligtelik geneem nie en ’n openbare gespreksreeks word oor die kwessie beplan. Die eerste gesprek word vir 26 Oktober beplan.

Die Javett-kunssentrum het in ’n daaropvolgende mediaverklaring gesê hy ondersteun Ngcobo.

“Die Javett-UP glo dit is noodsaaklik en dringend om openhartig te praat oor geslagsgeweld en vrouemoord, veral ná die #MeToo- en #AmINext/#IAmNotNext-bewegings.

“Die Javett-UP glo dat die verwydering van Mthethwa se werk gesprekke oor gendergeweld ignoreer en diegene wat slagoffers is in wese stilmaak. Geweld en wanordelikheid gedy in stilte, en ons is daartoe verbind om ’n platform vir moeilike, noodsaaklike dialoë te skep en ’n lig op kwessies soos geslagsgeweld en vrouemoord te werp.”

* Christopher Till, stigtershoof van die Javett-kunssentrum, het intussen aan Netwerk24 bevestig dat hulle Breitz se versoek ontvang en deels daaraan voldoen het.

“Ons kan bevestig ons het die monitor (waarop Breitz se werk vertoon is) vanoggend afgeskakel. Ongelukkig sal ons dit nie (soos Breitz versoek het) met ’n protesplakkaat kan vervang nie, omdat die plakkaat nie by die uitgangspunt van die uitstalling 101 Collecting Conversations: Signature Works of a Century pas nie.”

Till sê hulle het nog nie soortgelyke versoeke van ander kunstenaars gekry nie. Hy het ook bevestig dat hulle tot op hede nie van plan is om Mthethwa se werk te verwyder nie.

Meer oor:  #Metoo  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.