Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Deel van Boshoff se ‘Blind Alphabet’ aanlyn te sien

“Siende mense sien baie minder as wat hulle dink – hulle sien nie onder die oppervlak nie.”

So sê die visuele kunstenaar Willem Boshoff, wie se 40 werke uit sy uitstalling The Blind Alphabet: Letter B – Babery to Bigeminate tans op die UJ-kunsgalery se webblad, Moving Cube, te sien is.

Die visuele kunstenaar Willem Boshoff in sy huis in Kensington, Johannesburg. Foto: UJ-kunsgalery

Die werke, wat deel is van die MTN-kunsversameling, sou in Oktober en November verlede jaar in die UJ-kunsgalery uitgestal word, maar is weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Boshoff, wat in 1990 aan die meer as 400 werke (nou reeds by die letter L) van The Blind Alphabet begin werk het, verwys na die verhouding tussen blinde en siende mense.

“Maar ek wil hê die blinde mense moet die baas wees,” sê Boshoff.

“In gewone galery-omstandighede mag besoekers nie aan kunswerke raak nie.”

Dus word die bordjies verhang.

Hy gebruik moeilike, “vreemde” Engelse woorde om beeldhoustukke van hout te maak. Die werke word op ’n swart kas onder staalgaas verbloem, met slegs ’n Braille-beskrywing wat blindes die geleentheid gee om die agtergrond tot die kunswerk te verstaan.

‘Bicorn’ deur Willem Boshoff Foto: UJ-kunsgalery
‘Bicuspidate’ deur Willem Boshoff Foto: UJ-kunsgalery
‘Bigeminate’ deur Willem Boshoff Foto: UJ-kunsgalery

“Gesogte galerybesoekers – kunskritici en mense wat weet hoe om na ’n kunswerk te kyk – word nou effektief aangesê dat hulle nie mag ‘kyk’ nie.

“Siggestremdes is dus in die bevoorregte posisie om, deur hul kennis van braille en met die toestemming om beelde te hanteer, nuwe insigte met siendes te kan deel.

“Blinde mense weet hoe dit voel om benadeel te word. Hul vaardighede en sintuie verskil van siende mense s’n en hulle kan ons iets leer.”

Dié uitstalling het intussen nog ’n dimensie bygekry: Klank, wat elk van die 40 werke vergesel, uit die pen van die kontemporêre komponis Jaco Meyer.

Meyer reken Boshoff se kuns bevat dikwels ’n element van klank.

“Die klank wat ons byvoeg, is daar om die interpretasie van die beelde te verryk.

Blinde mense kan dus die kunswerke optel en voel, die braille-beskrywings lees en na die meegaande musiek luister. Mettertyd sal klankbeskrywings en QR-kodes by elk van die werke gesiggestremdes help om elektronies ’n volronde interaksie met die werke te ervaar.”

Die klank is nie daar om net mooi te klink nie.

Dit verrig ’n funksie tot die interpretasie van die kunswerk.

Willem Boshoff en die kontemporêre komponis Jaco Meyer. Foto: UJ-kunsgalery

“Dit is spesifiek so geskryf om ’n eie oeuvre te word. Uiteindelik kan jy nie die twee skei nie. Sonder die beelde is die klanke betekenisloos – dit gee juis betekenis aan die beelde. Dit loop hand aan hand. Daar skuil meer in die beelde as wat ’n mens dink.”

Die werklike uitstalling sal na verwagting in Oktober en November vanjaar in die UJ-kunsgalery op UJ se Aucklandpark-kampus te sien wees. Dit is onderhewig aan die maatreëls van die Covid-19-pandemie.

Die virtuele uitstalling kan wel onbepaald gesien word.

“Maar hoe gaan jy aanlyn te werk met ’n uitstalling deur Willem Boshoff?” vra Annali Dempsey, kunskurator van die UJ-galery.

“Die beelde is juis so taktiel. En dit is op blinde mense gemik. Ons het besluit om ’n dokumentêre aanslag aan The Blind Alphabet te gee en so die integriteit van die werke te bewaar. Gesiggestremdes kan steeds luister na die vyf dokumentêre video’s vir ’n beter begrip van Boshoff se werke. Terselfdertyd is siende mense soms ook blind, want dis moeilike begrippe en filosofieë waarmee Willem werk. Ek dink hy het die beginsels en aard van hierdie beelde op so ’n mooi en verstaanbare wyse in die dokumentêre reeks verduidelik.”

• Besoek movingcube.uj.ac.za om die uitstalling te besigtig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.