Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Departement ontken kunstebedrog van R100 m.

Die DA het skrywes aan die ouditeur-generaal (OG) en die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gerig oor finansiering van meer as R100 miljoen wat na bewering onregmatig deur die nasionale departement van sport, kuns en kultuur aan talle begunstigdes uitgedeel is.

Veronica van Dyk, LP en die DA se woordvoerder vir kuns en kultuur, het die OG, Kimi Makwetu, gevra “om dringend ’n oudit na die bewerings van korrupsie” in Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, se departement te doen.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Argief

Van Dyk het aan Netwerk24 gesê die skrywes is in reaksie op ’n berig in City Press, waarin beweer word dat die amptelike prosedures in die toekenning van geld uit die departement se Mzansi Golden Economy (MGE)-fonds in die tydperk 2018-’19 omseil is.

Die koerant het berig dat hy ’n dokument onder oë gehad het wat bevestig dat aansoeke vir MGE-finansiering van meer as R1 miljoen (vir individue) en meer as R2 miljoen (vir onder meer kultuurgebeure) deur ’n komitee goedgekeur moet word. Fluitjieblasers in die departement het glo aan die koerant gesê dat Mthethwa en twee van sy hooggeplaastes sonder dié komitee se goedkeuring ’n hand daarin gehad het om die groen lig vir talle begunstigdes te gee.

Dié begunstigdes sluit onder meer die musiekgroep Ladysmith Black Mambazo in, wat glo R36 miljoen ontvang het “om onderrig in tradisionele Zoeloeliedere en danse te gee – en om ’n album saam met die voormalige president, Jacob Zuma, te vervaardig”.

Die Nasionale Bemagtigingsfonds (NEF) het ook glo R50 miljoen ontvang; die Indoni SA-kultuurorganisasie R20 miljoen; die Living Legends-trustfonds R10 miljoen, en private prokureurs R3 miljoen.

Die koerant beweer verder dat lêers met dié begunstigdes se aansoeke voete gekry het en nie meer by die departement se hoofkantoor beskikbaar is nie.

“Hierdie bewerings laat groot vrae oor die minister se integriteit,” sê Van Dyk in ’n verklaring.

“Die DA sal beslis nie die kultuur van wetteloosheid en verkwistende uitgawes duld nie.”

Die nasionale departement van sport, kuns en kultuur het in ’n sterk bewoorde en gedetailleerde mediaverklaring van vier en ’n half bladsye gesê hy is “ongelooflik teleurgesteld” oor die City Press-berig en het die koerant se bewerings as “onakkuraat en ongebalanseerd” en as “leuens” afgemaak.

“Die artikel is geskryf en gepubliseer met die kwaadwillige bedoeling om die departement en minister Nathi Mthethwa se beeld te skend,” lui die verklaring.

“Die artikel is misleidend en moedswillig oor hoe dit die departement se bestuur van staatsgeld aan die Suid-Afrikaanse publiek uitbeeld, veral omdat die departement die afgelope vyf jaar ongekwalifiseerde oudits by die ouditeur-generaal gekry het.”

Die departement beweer die koerant het ondanks beantwoorde medianavrae die kat aan die stert beet oor die aansoekproses om MGE-finansiering en dat verskillende projekte deur verskillende kanale moet gaan om geld te kry. Die departement hou voet by stuk dat elke projek se aansoek deur die regte kanale is – en dat projekte wat finansiering bekom het, dit regmatig verkry het.

In ’n lang lys van bewerings wat die departement een ná die ander afskiet, bevestig die departement onder meer dat ’n aansoek van Ladysmith Black Mambazo vir MGE-finansiering ontvang is, maar dat dié aansoek nie die vervaardiging van ’n album saam met die voormalige president genoem het nie.

Die departement sê ook dit is nuus vir hom dat lêers met aansoeke verdwyn het.

“Sover ons kennis strek, is die lêers in ons kantoor, tensy die (koerant se) beweerde bronne dit sonder die departement se kennis onwettig verwyder het.”

Meer oor:  Da  |  Ouditeur-Generaal (Og)  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.