Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Die beste kunsmakieties in 2018

Kunspelgrims is gedugte reisigers met ’n heilige doel: om die ekstase van voortreflike kreatiwiteit te ervaar. Hierdie tyd van die jaar trek die kulturele swaeltjies noordwaarts, want Wes-Europa, Amerika, en deesdae ook die belangriker lande ooswaarts, vier kuns op groot en indrukwekkende skaal in die vroegsomer.

Study for Portait of Lucian

Benewens die wonderwêrelde van die eietydse én ouderwetse museums se skitterende, uitstekend saamgestelde tentoonstellings en vaste versamelings wat met die jongste tegnologiese vernuf verduidelik en aangevul word, is daar ’n gawe gees van opgewondenheid onder toeriste wat die bekende en die onbekende verken.

Suid-Afrikaners trek al meer mee om te gaan kyk.

Dis moeilik om ’n keuse te maak, maar vanjaar sal goeie bestemmings Londen, Wene en Berlyn wees.

Parys is uiteraard immer ’n kunsmekka, en dis genoeg rede om soontoe te vlieg om Nymphéas. L’abstraction américaine et le dernier Monet – ’n groeptentoonstelling rondom Claude Monet se waterlelie-paneel – te sien.

Dan dalk Venesië, en as jy die Atlantiese Oseaan wil oorsteek, New York en São Paulo.

Laasgenoemde se 33ste biënnale (naas Venesië die oudste) begin op 7 September met die oorhoofse tema Affective Affinities, terwyl die ongewone argitektuur-biënnale van Venesië tans hordes besoekers met sy 16de aanbieding lok.

New York, dinamiese stad van klein en groot galerye en tiptop-museums, het altyd baie vir die kunspelgrim.

Kenners stem saam dat die groot oorsigtentoonstelling van Alberto Giacometti (1901–1966) een van die kunsjaar se hoogtepunte is.

Frida Kahlo on a bench (1938), foto deur Nickolas Muray/V&A MUSEUM
Herman Mbamba se Until the wind blows for another time (2017-2018) te sien by die Berlynse Biënnale. Foto: Blank projects, Herman Mbamba
Pablo Picasso se Portrait of Olga in an Armchair. Foto: Musée National Picasso
Le Nymphéas: Les Nuages, ook deur Monet. Foto: Musée D L'Orangerie

Dis by die Guggenheim tot September en veral gewild na verlede jaar se prag-fliek oor dié Italiaanse kunstenaar, Final Portrait.

Diegene wat hulle vandeesmaand in Parys bevind, kan Giacometti se ateljee, in fyn detail herbou, in die nuwe Foundation Giacometti in Montparnasse, tesame met talle van sy kunswerke en tekeninge, sien.

Kunstoeriste sal wel hul aandag veral met bevrediging op Londen en Wene fokus.

Oostenryk se romantiese hoofstad, kultuurskatkis, met sy talle mooi en goed versorgde geboue, kleurvolle paleise en knap Eerstewêreldse tegnologie (gratis WiFi byna oral) vier vanjaar die eeufees van modernisme met talle skitterende tentoonstellings onder die titel Schönheit und Abgrund (Skoonheid en Afgrond).

Benewens beroemdes soos Sigmund Freud, Karl Kraus, Gustav Mahler, Arnold Schönberg, Josef Hoffmann, Adolf Loos, Alma Mahler en Berta Zuckerkandl, word die kuns van die vier reuse van Weense modernisme, skilders Gustav Klimt, Egon Schiele, Koloman Moser en die argitek Otto Wagner, ’n eeu na hul dood, gehuldig.

Claude Monet se Vue de Bordighera, 1884. Foto: Hammer Museum, Los Angeles, CA.

Byna al die stad se museums – van die Wien-museum tot die Belvedere-paleis – word by dié deeglike tematiese aanbieding betrek.

As baken van modernisme en Art Nouveau is die Seces­sion-museum met Klimt se Beethoven-muurskildery en pas gerestoureerde goue koepel, immer onmisbaar. So ook met Wagner se eksotiese pawiljoen op die Karlplatz, die Klimt-villa en die Fuchs-mu­seum, waar ’n tentoonstelling van Weense “salon-kultuur” aangebied word.

Elders huisves die Leopold in die museumkwartier onder meer Jahrhundertkünstler Gustav Klimt, ’n enorme oorsig. By die knap Albertina-museum is daar ’n oorsig van die Oostenrykse kunstenaar Florentina Pakosta met haar 85ste verjaardag, terwyl September nog ’n deurdagte Claude Monet-tentoonstelling open.

Monet is ook tans in Londen in die kollig met sowat 70 skilderye van hierdie Impressionis-meester wat by die National Gallery op Trafalgar-plein gewys word. Dis die eerste keer in 20 jaar dat dié Franse meester, so geliefd onder die Engelse, in die VK te sien is.

Meer Brits en inheems is die uitstalling All Too Human: Bacon, Freud and a Century of Painting Life by die Tate Britain wat tans kunsliefhebbers lok. Die tema is die menslike lyflikheid soos deur Francis Bacon, Lucian Freud, Frank Auerbach en Paula Rego voorgehou – almal verstommende verf-visualiseerders. Daar is Bacons wat jare laas gesien is.

Werke van Alberto Giacometti by die Guggenheim. Foto: David Heald/ Guggenheim Foundation

Die Tate Modern is natuurlik ’n sentrale aantreklikheid vir alle kunstoeriste aan die Britse hoofstad. Met sy nuwe aanbouings en ruimtes is dit een van die mees dinamiese kunsruimtes in die wêreld. Oktober kry die gevierde reuse-ruimte, die Turbine Hall, ’n nuwe installasie van die omstrede maar boeiende kunstenaar Tania Bruguera.

Intussen is daar ’n Picasso-fees te sien. Picasso 1932 –

Love, Fame, Tragedy

is die eerste van dié kunstenaar in die Tate Modern en volgens die kurators is die kollig op sy persoonlike lewe. Beroemde skilderye, maar ook gesinsfoto’s, word uitgestal.

Die persoonlike is ook hoog op die spel in Frida Kahlo: Making Her Self Up, ’n aanbieding by die heerlike Victoria & Albert-museum. Klere en intieme artikels van dié enigmatiese Mexikaanse kunstenaar wat steeds sedert haar dood in 1954 mense boei met haar flambojante lewe en kuns, word vertoon.

Om hierdie kunsreislys so sinvol moontlik tot ’n einde te bring, is die voorstel ’n besoek aan Berlyn en spesifiek die Berlynse Biënnale. Die Duitse hoofstad is een waar kuns in al sy volle dinamiek lééf. Die biënnale is een van die mees energieke wat jy enige plek sal aantrek. Maar die hoofrede vir vanjaar se besoek is die teenwoordigheid van een van Suid-Afrika se beste uitvoerpersoonlikhede, die knap kurator Gabi Ngcobo wat haar loopbaan destyds by die Iziko SA Nasionale Kunsmuseum hier in die Moederstad begin het. Sedertdien werk sy wêreldwyd. Jy kan verseker wees haar tema vir vanjaar se Berlyn, We Don’t Need Another Hero, is die lang pad soontoe die moeite werd.

  • Beplan vooraf: al die kunsmuseums het deesdae die mees gevorderde internetteenwoordigheid. Spring bietjie rond op die web voor jy jou langloop-toeristeskoene aantrek.
Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.