Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Die Karoo altyd in sy truspieëltjie
‘Op pad na Kruisrivier’, ’n reduksie-drukwerk van Joshua Miles.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Joshua Miles en sy gesin trek binnekort van hul wortels hier uit om hulle in Skotland te vestig.

Hulle behou hul huis in die Karoo, ’n hartsplek van Miles soos blyk uit Karoo, ’n oorsiguitstalling van sy Karoolandskappe.

Die uitstalling bestaan uit kunstenaarsproewe van sy kenmerkende drukkunswerke van ligdeurdrenkte landskappe, grondpaaie wat die vertes in strek, verlate koppies, vervalle huise, donkiekarre, die sirkelgang van bergpasse, garingbome en aalwyne. Dit is tot 20 Februarie te sien in hul tuisdorp Prins Albert in die Prins Albert-galery. Kunsversamelaars is verheug oor dié laaste kans om ’n werk waarvan van die edisies al uitverkoop is, nou te kan aanskaf. Die eerste kunstenaarsproef bly egter in die kunstenaar se besit.

Dit is die tweede van ’n beoogde drie tentoonstellings van sy kunstenaarsproewe. Die eerste, wat sy Overbergse landskappe behels het, is verlede jaar suksesvol in die FynArts-galery in Hermanus aangebied en ’n uitstalling in Kaapstad van sy stedelike landskappe wat werke van die stadskom, fynbos en Tafelberg, asook Leeukop, insluit, is vir later in die vooruitsig.

‘Swartbergpas met aalwyne’, ’n reduksie-drukwerk van Joshua Miles.

Dit is die spesiale lig wat hy glo ’n mens net in die Karoo kry, wat hom trek. Hy erken hy is nie iemand vir hitte nie, en die afgelope tyd is temperature van 40 °C in die koelte aangeteken. “Dit is hierdie lig, die spasie en die uitsigte wat jy net hier kry. Ek dink die lig het baie te doen met hoe droog dit is en al die stof wat die lig laat gloei.”

Miles het in die Boland grootgeword. Sy pa was landdros en moes rondreis. Hy is in Tulbagh gebore en die gesin het ook in Swellendam en die noordelike voorstede van Kaapstad gewoon.

Hy was dus nog altyd lief vir klein dorpies en het ook lank op Baardskeerdersbos gewoon, waar hy sy besonderse seegesigte geskep het. Hy het ook al in Londen en Kaapstad gewoon, en sê “dié leefstyl ken en vermy ek”.

“Die verhouding met ’n gemeenskap, al is dit net om op straat te groet, is wonderlik. Ons het Baardskeerdersbos (in die Overberg) verlaat vir Prins Albert, omdat hier ’n baie goeie hoërskool is wat die Cambridge-kurrikulum aanbied.”

Die Karoolandskappe is gebore uit tientalle toere wat hy oor die jare heen saam met sy Skotse vrou, Angela, en seun, Fred, onderneem het. “Die uitstalling is ’n weerspieëling van dié padreise. Ons het altyd ’n plan voordat ons in die pad val en bestudeer topografiese kaarte. Angela is so ’n goeie beplanner en die toer word lank voor die tyd uitgewerk met potensiële uitsigte en ons beplan om op die regte tyd van die dag foto’s te kan neem. Ek verkies die eerste en laaste goue uur van die dag.”

Hy het drukkuns gestudeer as deel van sy kunsgraad aan die kunsskool Michaelis aan die Universiteit Kaapstad. Van al die mediums en kunstegnieke is dit sy gunsteling.

As kind is hy geïnspireer deur sy tante, die kunstenaar en kunshistorikus Elza Miles, se drukkunswerke. (Sy oom is die skrywer John Miles.)

Ná sy studies het hy vir ’n paar jaar probeer oorleef net met drukwerk, maar kon nie. “ ’n Vriend wat ’n galery besit het, het gesê dat as ek wil eet, moet ek olie op doek skilder. Dit het ek vir 15 jaar gedoen. So nege jaar gelede het ek net drukwerk begin doen en mis glad nie die skilder nie. Ek dink baie dat ek my drukwerke soos skilderye laat probeer lyk.”

Hy geniet die uitdaging van drukwerk wat hom dwing om “my merke, toonhoogtes en kleurgebruik te vereenvoudig”.

Miles se unieke benadering tot drukkuns (reduksie-linodruk) is seldsaam plaaslik.

Hy druk gewoonlik twee proewe voordat hy ’n edisie (of oplaag) druk.

Joshua Miles in sy ateljee op Prins Albert. Foto: Verskaf

“Die eerste proef beskou ek nie as my eie nie. Ek het dit nog altyd beskou as my seun en vrou s’n wanneer ek nie meer hier is nie. Die tweede proef was nog altyd vir a rainy day, wat ons nou baie in Skotland gaan sien en ons moet ’n huis in Skotland regmaak met rande!”

Hulle trek na Kirkcudbright (Kir-coo-brie) in die suide van Skotland omdat hulle vir Fred die geleentheid wil gee om ná skool in Skotland te studeer. “Ek het op die internet gesoek vir kunstenaarsdorpe en so daarop afgekom. Daar is so 3 500 inwoners en vyf galerye.

“Daar is elke lente ’n langnaweek waarin kunstenaars hul ateljees oopmaak; die Spring Fling. Daar is 86 kunstenaars in die gebied wat hul ateljees oopmaak.

“Daar is ook ’n hele paar ander feeste wat deur die jaar aangebied word.”

Tydens een van hul besoeke het hulle ’n 200 jaar oue huis met die mooiste ateljee hier gevind.

“Die landskap in Skotland is ongelooflik. Ek het al ’n paar keer daar gewoon, veral aan die weskus (The Mull of Kintyre) waar Angela se familie woon. Ek wil probeer om die weer wat gewoonlik as miserable en grey beskryf word, mooi te laat lyk in my kuns. Die sagte grys lig kan ook romanties en misterieus wees. Daar is ’n baie groot bewustheid in Skotland van drukwerk en veral linodrukke.”

Danksy sy wederhelfvisum mag hy die land vir 90 dae ’n jaar verlaat.

“Ons hou ons huis in die Karoo. My loopbaan is hier. Ek beplan om jaarliks drie maande van die jaar in Prins Albert te kom werk en my fotojagtoere voort te sit en hoop om nog baie die gloed van die laatmiddagson in my truspieëltjie te sien.”

• Die uitstalling in die Prins Albert-galery duur tot 20 Februarie. Daar is ’n digitale katalogus beskikbaar. Die galery is te Kerkstraat 55. Besoek die webblad www.princealbertgallery.co.za of skakel 023 541 1057 met navrae.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.