Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Die mens kerf letsels op die natuur

Die mens verdring die natuur en stilte. In die tentoonstelling Machine in the Garden in Johannesburg besin drie kunstenaars oor die mens se destruktiewe rol. Johan Myburg het gaan kyk.

In 1854 het die Amerikaanse skrywer Henry David Thoreau sy boek Walden, ook genoem Life in the Woods, uitgegee: ’n besinning oor sy eenvoudige verblyf in 'n hut naby Walden Pond op 'n woudagtige deel van sy vriend Ralph Waldo Emerson se eiendom in Massachusetts.

In die boek word dié idilliese bestaan en woudstilte wreed onderbreek deur die skril fluit van 'n trein en Thoreau besef 'n pastorale en agrariese bestaan is iets van die verlede. Aan die opkom is 'n Amerika van fabrieke en stedelike ontwikkeling en vervaardigingsaanlegte.

'n Honderd jaar later het die Amerikaanse akademikus Leo Marx dié metafoor van die hut en die trein gebruik in sy boek The Machine in the Garden: Technology and the Pastoral Ideal in America.

Dié agtergrond bied 'n sleutel tot Heidi Fourie, Allen Laing en Jaco van Schalkwyk se uitstalling waarin aspekte van die natuur in 'n tegnologies gevorderde tyd verken word. Dit is nie meer die treinfluit wat die idille verstoor nie; eerder dalk 'n luitoon of 'n selfoonnotifikasie, maar met dieselfde dringendheid as die fluit.

Allen Laing, Mind Blowing Selfie Sword (You Won’t Believe Number Three!) 2019, egte geelhout, merbau, kiaat en karee (180 x 180 x 30 cm) en Safe Space Lignin Lens, 2019, Brasiliaanse ysterhout, merbau, kiaat en karee (180 x 52 x 70 cm)

Soos wat die ideale van die Romantiek deel was van Thoreau se skryfwerk, kan 'n mens elemente – van die Romantiek tot die nadraai van die nywerheidsomwenteling – in die werk van dié drietal bespeur. En soos wat die Arts and Crafts-beweging destyds 'n reaksie was op massavervaardiging, kom Allen Laing vorendag met handgemaakte prostese vir 'n digitale era: 'n selfiestok (Mind Blowing Selfie Sword) wat bedoel is om 'n oomblik te verewig, word nou noukeurig en tydsaam van hout gemaak. Laing se houtwerk word 'n lofsang van tappe en inlegwerk en voeë en skarniere.

Benewens die performatiewe aspek van sy werk (geïllustreer in 'n reeks foto’s wat in 'n houtkissie beskikbaar is) kry sy werk nou, gemonteer op uitstalvoetstukke, 'n welkome beeldhouagtige dimensie.

Van die dominansie van die digitale skerm kom Laing nie los nie. Soos wat hy ure deurbring op sy “heilige, lewende Samsung”, op “'n swak ontwerpte webblad”, om op te lees oor die wapenrusting van God, lees hy op oor die Middeleeuse romantiek van die Pre-Rafaeliete en die eenvoud van die Arts and Crafts-beweging op 'n massageproduseerde toestel.

In kwashaal op kwashaal op linne en papier herleef Jaco van Schalkwyk die oomblik waarin 'n foto geneem is. Sy Wanderlust neem hom na streke met weelderige plantegroei en mistige omstandighede, maar anders as die sublieme wat iemand soos Caspar David Friedrich in gedagte gehad het, is daar nie uitsig in Van Schalkwyk se weergawes van die natuur nie – 'n mens kan kwalik deur die ruie loof sien (vergelyk A Change of Scenery en A Road Not Taken).

In kleiner werke op papier bied Van Schalkwyk as’t ware foto’s van sy reise as memento’s aan. Tegelyk ook as aanduiding van memento mori, die alomteenwoordige herinnering aan verganklikheid.

Jaco van Schalkwyk, A Road Not Taken, 2019, olie op Belgiese linne (150 x 150 cm).

Heidi Fourie se verhouding met die Magaliesberg kry onder meer gestalte in Direct us Aright, 'n landskap van 'n gedeelte van die berg wat in 'n veldbrand verskroei is. Dis die berg wat sy daagliks uit haar ateljee dophou – as’t ware 'n tuin te midde van die masjien wat Pretoria is. Dis die plek waar sy en Allen dikwels gaan stap, maar dit is terselfdertyd 'n reeks wat 'n pienk rif gevorm het – soos 'n letsel in stedelike ontwikkeling.

Om na Fourie, Laing en Van Schalkwyk se werk te verwys as nieu-Romanties sou te eenvoudig wees, 'n kortpad wat 'n mens kan laat verdwaal. Dit is werk wat 'n mens laat nadink oor die broosheid van die natuur en oor jou eie masjien-kwaliteite . . . en hoe jy self die stilte in die tuin verdring.

Tot 25 Mei.

Gallery 2 is in Jan Smuts-laan 140, Parkwood, Johannesburg. Navrae: 011 447 0155.

Meer oor:  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.