Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Diedericks wen 3 internasionale pryse vir sy kuns
Christiaan Diedericks Foto: Antonia Steyn

“Let us prey.”

Net drie woordjies, maar ’n sinspeling wat boekdele spreek, en dit nog voordat die plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng die kunstenaar Christiaan Diedericks en die res van Suid-Afrika na kragtiger woorde laat soek het.

Die Covid-19-pandemie en sy nagevolge het Diedericks egter genoeg skietgoed gegee om onder dié veelseggende opskrif ’n kunsreeks te skep wat hom drie gesogte internasionale pryse besorg het.

In die vyfde InkMasters Biennial, wat in Junie in Cairns, Australië, gehou is, het hy ’n allemintige 2 700 kunstenaars uit alle windrigtings van die wêreld uitgestof om as algehele wenner met die Doctor Raya Mayo-prys bekroon te word en A$8 000 in sy sak te steek. ’n Verdere veer in sy hoed is dat die beoordelaars eenparig was in hul besluit.

Dié nuus het nog nie behoorlik ingesink nie toe Diedericks op ’n Zoom-bekendmaking van die Mudi in Arte-prys in Salerno, Italië, ingesluit word. Die gesprek was in Italiaans, maar hy het wel besef hy het die eerste prys van €1 500 gewen.

Terwyl hy nog verward wonder waarom hy ná die aankondiging steeds aanlyn is, verneem hy die tweede prys word ook aan hom toegeken, ’n prys wat vir hom meer werd is as die geld. Dié prys behels dat sy kunsreeks in die Diocesane-museum in Salerno se permanente versameling opgeneem word en as deel van die kontemporêre komponent tussen die 16de eeuse Italiaanse meesterwerke sal hang.

Diedericks beskryf die erkenning as ’n “onbeskryflike eer”. Daarby is sy kuns nou in die internasionale arena.

Die vyf etse in die reeks ‘Let us Prey’ deur Christiaan Diedericks. Die eerste en die laaste werke handel oor aardverwarming. Foto: Christiaan Diedericks

Let us prey I - V bestaan uit vyf werke wat kommentaar lewer op die drakoniese inperkingsmaatreëls en korrupsie tydens die pandemie. Die woord “prey” plaas onder meer die plundering van die staatskoffers onder die soeklig.

In die breë gesien bestaan die reeks uit deurdagte versinnebeeldings van die pandemie, korrupsie, magsug, die ekonomie en die algemene situasie in die land.

Ontkenning van aardverwarming, die uitwerking van fopnuus en vrees vir Covid-19 word ook uitgebeeld.

Elke ets bestaan uit ’n kombinasie van drie drukkunstegnieke – droëpunt op Plexiglas, monotipe en moderne lasergravure.

Diedericks sê hy het “weke lank met ’n lasergraveerder geëksperimenteer. Dit is vrek duur, maar die nuwe tegnologie is baie vinniger as om droëpunt met ’n mediese skalpellemmetjie te skep. Dit kan maande duur.”

Hy is egter bevrees hy sal die fyn werk nie meer lank kan beoefen nie. Naderkruipende artritis en verswakkende sig gaan hom een van die dae kortwiek, daarom dat die pryse vir hom “ekstra spesiaal” is.

Let us Prey II beeld twee hiënas (politici) uit wat met mekaar baklei terwyl ’n brand in die landskap agter hulle (Suid-Afrika) woed.

In Let us Prey III stel ’n monsteragtige figuur die wêreldmedia voor. Sy hou ’n hakie vas wat bo ’n huisie hang – só hou die nuus, bespiegelings, sosiale media en fopnuus die mens gevange.

Let us Prey IV handel oor die stryd tussen goed en sleg. Drie skoenlappers, wat transformasie simboliseer, verkondig dat die mens in denke, woord en daad moet verander. In ’n volgende paneel wedywer twee bulle om mag terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie in rommelstatus gedompel is.

Diedericks sê hoewel hy die vyf etse as ’n eenheid vir die kompetisies ingeskryf het, kan dit afsonderlik uitgestal word.

Dié kunstenaar, wat veral vir sy drukkuns bekend is, het in Potchefstroom grootgeword en aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer.

Omdat hy op nasionale vlak in atletiek (110 m en 400 m hekkies, verspring en driesprong) uitgeblink het, wou hy in sportmedisyne studeer en hy het inderdaad ’n BSc-graad in fisiologie en bewegingskunde aan die NWU verwerf. ’n Liefde vir kuns het hom egter soos ’n magneet bly aantrek, wat hom laat besluit het om daaraan toe te gee. Dié graad het hy met ’n meesters aan die Universiteit van Pretoria opgevolg.

’n Lang lys van lofbetuigings, solo- en groepuitstallings en 29 uitnodigings vir kunsteverblyf is ’n bewys dat hy die regte rigting gekies het.

Die mees onlangse kunsteverblyf was in 2018 by die London Print Studio, waarna hy die tiende keer uitgenooi is om tyd in die vermaarde Cité Internationale des Arts in Parys deur te bring.

Hoewel die drie pryse in die afgelope ses weke nie sy eerste internasionale bekronings is nie, is dit beslis die belangrikste. Verlede jaar het hy op die agtste internasionale Miniprint-kompetisie in Kazanlak, Bulgarye, ook die prys vir die beste eksperimentele drukkuns gewen. Sy werke was deel van die openingsuitstalling.

In die afgelope twee jaar het hy aan meer as 20 internasionale kompetisies deelgeneem, waarvan hy in sommige as finalis geëindig het en in ander die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger was. Diedericks is ook as kurator genooi vir ’n uitstalling in New York.

Meer oor:  Pryse  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.