Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Dinamiek en waarde in drukkuns

Elke jaar, sedert 2009, kry sowat 70 kunsliefhebbers teen hierdie tyd ’n verwelkomingsboodskap van ’n klein Kaapse drukkuns-uitgewer wat elkeen van daardie “geheime kliek” regop laat sit.

Edition S - Tshepiso Mazibuko 2016

Ons word ingelig oor die jongste drukkunswerk wat teen Desember deur Warren Editions uitgereik word. En omdat ons vantevore ingeteken het, kry elkeen weer eerste keuse. Die pretdeel van die projek is dat nie een van ons weet wie die kunstenaar is nie, en natuurlik ook nie wat die kunswerk behels nie.

Onder dié groepie drukkuns-liefhebbers, staan dit as Edi­tion S bekend. S vir “secret” (geheim). In talle opsigte is hierdie projek van Warren Editions se baas, Zhané Warren, ’n manifestasie van die intense plesier wat kunswerke in die verskillende soorte veelvoudige drukmetodes kan verskaf.

Die basiese beginsel van drukkuns is daardie veelvoudigheid, wat onder meer met etswerk, litografie, sifdruk en selfs digitale media geskep word en dus wyer “gedeel” kan word as die enkele eienaar van, sê, ’n skildery.

Dis baie belangrik om te onthou dat drukkuns in oplae (wat tot honderde kan wees, afhangende van die drukme­dium) nie bloot ’n namaaksel van iets anders is nie. Dit bly uniek (die oplaag is beperk), maar kan waarskynlik goedkoper aangebied word. Om die waarheid te sê, drukkuns is die wegspringplek vir aspirant-kunsversamelaars.

Die sakeman Frank Kilbourn en voorsitter van die bekende kunsveilingfirma Strauss & Co is ’n kunsversamelaar van formaat (sowat 1 300 kunswerke). Hy glo intens in drukkuns.

“Die drukkuns het histories ’n belangrike rol gespeel om kuns meer toeganklik te maak. Dit speel vandag steeds ’n noodsaaklike rol in dié verband. In ’n era waar oorspronklike kunswerke soms teen astronomiese bedrae verkoop word, dra drukwerke met billike pryse van erkende kunstenaars baie by tot die demokratisering van kuns. Dikwels word beperkte oplae van kunstenaars soos William Kentridge se getekende litografiese drukke en etswerke teen toeganklike pryse gesogte versamelitems in eie reg.”

David Krut is ’n internasionale drukkuns-uitgewer met ’n vernuftige en aktiewe drukateljee in Johannesburg. Vir hom is daardie besondere dinamiese verskil tussen ’n individuele, eenmalige kunswerk en dié wat meervoudig geskep word, pure opwinding.

Hy glo ook dis ’n bate wat bekostigbaarheid betref. As produksie-uitgewer is die sorg waarmee daar in die drukateljee gewerk word, ook van groot belang. “Al is daar meer as enkele afdrukke, word elkeen baie noukeurig met die hand versorg. Slegs die beste drukke word aanvaar en dan deur die betrokke kunstenaar geteken en genommer.”

Edition S - Matt Slater 2017

Krut wys ook daarop dat daar in hierdie drukproses kuns gemaak kan word met meer as een medewerker. Die idee van twee kunstenaars wat saam aan een “plaat” (ets) of “steen” (litografie) werk, het al baie ongewone kuns opgelewer. Hy voeg by dat assistente vandag met die meer bekende kunstenaars soos Kentridge saamwerk.

Drukateljee-eienaars soos Zhané Warren word as meesterdrukkers beskou, juis omdat hulle so fyn en presies met die tegniese drukprosesse werk, en die aard en effek van ink en papier so goed ken. In dié opsig kan die meesterdrukker ’n kunstenaar lei om die media te ontgin.

Die Artist Press in Mpumalanga onder leiding van Mark Attwood, wat in litografie spesialiseer, het ook al met talle van ons land se grootste kunstenaars saamgewerk.

Kunsskole soos die Ruth Prowse in Woodstock skool studente in die fynkuns en moontlikhede van drukwerk.

Natuurlik is digitale media ook baie gewild. Soos met fotografie, kan meervoudige afdrukke gemaak word. Omdat hierdie prosesse ander tegniese vereistes stel – soos die papier en inksoort wat gebruik word X is dit vir ’n kunsversamelaar van uiterse belang om waarborge te bekom van outentisiteit, die gehalte van onder meer die papier en die beperktheid van die oplaag.

Soos David Krut verduidelik: “Talle mense het ’n probleem met die konsep ‘oorspronklik’, soos in eenmalig outentiek, en dis belangrik om aan kunskykers en -liefhebbers te verduidelik waarin die waarde lê.”

  • Verskeie galerye spesialiseer in drukkunswerke soos The SA Print Gallery in Woodstock. Skakel 021 462 6851. Ander verskaffers is Warren Editions 021 461 6070; David Krut Projects 021 685 0676 en The Artist Press 013 007 0616 of 083 676 3229.
Meer oor:  Boeke  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.