Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Direksie skors kunsteraad se hoof én finanshoof

Die Nasionale Kunsteraad se direksie het Rosemary Mangope, die raad se uitvoerende hoof, en Clifton Changfoot, die raad se finansiële hoof, geskors.

Luidens ’n mediaverklaring het die raad dié stap gedoen hangende ’n ondersoek oor die bestuur van R300 miljoen wat die raad danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het.

Die raad was veronderstel om dié bedrag tussen Desember (2020) en Maart vanjaar uit te deel aan kunstenaars wie se inkomste weens die Covid-19-pandemie daarmee heen was. Die beursies van kunstenaars wat suksesvol om dié finansiering aansoek gedoen het, was egter teen 17 Februarie steeds dolleeg.

Die raad se nuwe direksie, wie se termyn op 1 Januarie begin het, het uit die staanspoor probeer vasstel wat die rede vir die vertraging met uitbetalings is.

Dr. Sipho Sithole, een van die raad se nuwe direksielede, het op 24 Februarie gesê een van die redes is dat die raad 1 374 aansoeke goedgekeur het, maar slegs vir 613 aansoeke geld in sy sak gehad het. Dié wiskundige fout het glo daartoe gelei dat geen kunstenaars ’n uitbetaling ontvang het nie totdat geld vir al die aansoeke bekom kon word.

Die direksie het Sondag in ’n verklaring gesê dat hy ná ’n vergadering op 26 Februarie tot die slotsom gekom het dat die kwessie ’n meer sorgvuldige ondersoek verg – en dat Mangope en Changfoot hangende dié ondersoek uit hul poste geskors sal word.

“Die direksie het besluit dat me. Julia Diphofa, wat al meer as 20 jaar as senior amptenaar aan die NAC verbonde is, as hoof sal waarneem; me. Reshma Bhoola, tans ’n finansiële bestuurder by die entiteit, sal as finansiële hoof waarneem,” lui die verklaring.

Tshepo Mashiane, nog een van die raad se nuwe direksielede, het aan Netwerk24 gesê dit is belangrik om te benadruk dat die raad nié met die skorsings beweer dat Mangope en Changfoot aan ongerymdhede skuldig is nie.

“Al wat ons wil doen, is om onder ’n vergrootglas te kyk na die ooreenkoms en verpligtinge tussen die befondser – in die geval van die PESP die nasionale tesourie via die departement van sport, kuns en kultuur – en die administreerder (van dié fondse), die NAC. Ons weet nog nie wat die ondersoek gaan lostorring nie.

“Ons wil verstaan hoekom die hele proses so skeefgeloop het, al het die (NAC se) topbestuur alles afgeteken.”

Rosemary Mangope, hoof van die Nasionale Kunsteraad. Foto: nac.org.za

Mashiane sê Mangope is slegs weens die PESP-tameletjie geskors en nié weens ander aangeleenthede of bewerings waaroor Netwerk24 Mashiane gepols het nie.

Mangope is glo reeds in die verlede geskors én weens die beweerde wanaanwending van finansiering intern verhoor; sy is eindelik onskuldig bevind.

Netwerk24 het ook in September berig dat Mangope deur adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, weens “wanbestuur” en “onregmatige” optrede oor die vingers getik is. Die Valke het juis daarom ’n ondersoek na beweerde bedrog en korrupsie in die raad begin nadat Freddie Nyathela, president van die South African Roadies Association (Sara), klagte teen Mangope en Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, aanhangig gemaak het.

“Die kwessie waarna ons nou kyk is die PESP-kwessie,” sê Mashiane. “Ons wil kyk hoe ons van punt A tot hier gekom het – en of daar gevolge moet wees. Ons weet nie tans wat die antwoord is nie, maar as ons in die proses ander kwessies ontbloot wat daarmee verweef is, sal ons ook daaraan aandag gee.

“Ons verbind ons daartoe om voortaan minstens weekliks met kunstenaars en die media te kommunikeer.”

Mashiane sê hy kan nie in dié stadium sê hoe lank hul ondersoek én Mangope en Changfoot se skorsing gaan duur nie – ook nie of die direksie van plan is om voort te gaan met ’n “onwettige” plan om die R300 miljoen onder al 1 374 suksesvolle aansoekers te verdeel nie.

Netwerk24 het Donderdag berig dat die raad én sy vorige direksie in Desember kontrakte met 613 (van die 1 374) suksesvolle aansoekers geteken het, voordat die raad besef het sy geld is op.

Die nuwe direksie het beslis die beste plan is om al dié kontrakte te wysig en uitbetalings van onderskeidelik R16 600 en R25 000, afhangende van die twee “strome” waarin finansiering toegeken is, na R10 895 in albei strome te verlaag.

Kunstenaars het dié besluit sterk veroordeel en dit as “onwettig” afgemaak. Die direksie het egter voet by stuk gehou en gesê dit is die enigste manier om te verseker dat al die suksesvolle aansoekers ten minste iets kry, al beteken dit dat kontrakte verbreek word en hy (die raad) daarom hof toe gesleep kan word.

• Die DA het intussen Mangope en Changfoot se skorsing in ’n mediaverklaring verwelkom.

Tsepo Mhlongo en Veronica van Dyk, albei DA-LP’s en partywoordvoerders oor sport, kuns en kultuur, het gesamentlik in die verklaring gesê hulle het Mthethwa versoek om ’n onafhanklike ondersoek te loods ná die direksie se aankondiging dat hy die meer as 600 kontrakte gaan wysig.

“Die DA verwag dat die (NAC se) ondersoek geheel en al deursigtig sal wees en dat hul verslag so gou moontlik ná afloop van die ondersoek voor die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur ter tafel gelê sal word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.