Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Dít is hoekom departement met noodfondse sloer

Onvolledige en ’n oormaat aansoeke, bankbesonderhede wat ontbreek en kunstenaars wat hul aansoeke meer as een keer ingedien het, is glo van die redes vir hoekom die uitbetaling van noodfinansiering aan kunstenaars sloer.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Getty Images

Só sê die nasionale departement van sport, kuns en kultuur (DSAC) in ’n mediaverklaring oor die rede vir hoekom kunstenaars steeds bakhand staan en wag om te hoor of hulle steun uit die departement se R150 miljoen-noodfonds gaan kry.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het dié noodfonds in Maart verlede jaar aangekondig om kunstenaars en sportlui te steun wie se inkomste weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie uitgewis is.

’n Totaal van R112,3 miljoen is glo aan 14 889 begunstigdes uitgedeel voordat Mthethwa se departement vir ’n derde keer aansoeke vir steun uit die fonds oopgestel het, dít in Februarie vanjaar. Die departement is weer met duisende aansoeke oorval, wat ook glo tot die gesloer met die uitbetaling van noodfinansiering bydra.

Luidens ’n voorlegging wat die departement op 1 Junie aan die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur sou maak – dit is egter weens ’n oorvol program uitgestel – het die departement in die derde ronde ’n totaal van 8 092 aansoeke uit al nege provinsies ontvang.

Ondanks ’n “spesiale span” én ’n “bykomende beoordelingspaneel” wat aangestel is om die verwerking van aansoeke te bespoedig, kon die departement teen 24 Mei slegs 6 025 (van die 8 092) aansoeke beoordeel. Daarvan is 4 508 goedgekeur, 1 445 aansoekers is vir bykomende dokumentasie gevra en 72 aansoeke is afgekeur. Die departement kon teen 5 Junie slegs R32,41 miljoen aan 3 241 (van die 4 508 suksesvolle aansoeke) uitbetaal.

“Die DSAC sal voortgaan om alles in sy vermoë te doen om verligting aan kunstenaars en sportlui te bring wat so erg deur die koronaviruspandemie geraak is,” lui die verklaring.

Shaleen Surtie-Richards se afsterwe in armoede, sonder dat sy klaarblyklik genoeg geld gehad het vir mediese uitgawes, is ’n skande en ’n verdere aanklag teen die regering . . .
Veronica van Dyk, DA-LP

Volgens Veronica van Dyk, DA-LP, partywoordvoerder oor sport, kuns en kultuur, en lid van die portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur, is die departement se prosessering van aansoeke en hul uitbetaling van noodfinansiering “hopeloos te stadig”.

“Daar is steeds baie mense in die sektor wat nog nie betaal is nie. Dit is werklik onaanvaarbaar in ’n tyd waarin mense absoluut desperaat is vir uitkomste en deur wetgewing ingeperk word om hul beroep te beoefen – en dít met ’n derde Covid-vlaag op die horison.

“Shaleen Surtie-Richards se afsterwe in armoede, sonder dat sy klaarblyklik genoeg geld gehad het vir mediese uitgawes, is ’n skande en ’n verdere aanklag teen die regering wat nie seker maak dat wetgewing in plek is om ons kunstenaars te beskerm. Soos die kunstenaars by die sitstaking by die Nasionale Kunsteraad (in Johannesburg) uitgewys het, is daar min aansoeke van en uitbetalings aan verdienstelike kunstenaars – en die departement behoort na hulle uit te reik.”

Van Dyk sê sy het reeds vrae aan die departement gestuur oor die voorlegging wat hulle beplan het om aan die portefeuljekomitee te lewer, maar haar vrae is steeds onbeantwoord.

“Gebrekkige kommunikasie deur die departement bly ’n probleem. Kunstenaars kla dat onvoldoende inligting aan hulle gegee word – en die portefeuljekomitee ervaar dieselfde probleem.

“Die uitbetalings wat deur provinsies self gemaak word, word ook nie gemonitor nie. Komiteelede weet nie eens hoeveel daar per applikant deur provinsies uitbetaal is nie – geen inligting oor die individue wat fondse ontvang het, word aan die portefeuljekomitee gekommunikeer nie.

“Die DA sal geskrewe vrae aan die departement rig om hierdie inligting aan te vra.”

  • Die departement het intussen ’n lys van begunstigdes, soos op 5 Junie, wat elk R10 000 ontvang het, op sy webwerf gepubliseer. Dit is op hierdie webblad (klik hier) beskikbaar.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.