Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Doodsklok lui vir kunste, maar minister bly doof’
Ismail Mahomed Foto: Suzy Bernstein

Kunstenaars is nie in konsertsale, repetisielokale, voor hul esels of in klankateljees, waar hulle eintlik hoort nie; hulle is aan die veg vir hul basiese menseregte. Die kunste-administrateur Ismail Mahomed neem bestek op van die afgelope maande in die kunstebedryf.

In Maart 2020, nadat pres. Cyril Ramaphosa die nasionale ramptoestand en staat van inperking aangekondig het weens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika, het die Toyota US Woordfees pas geëindig. Kunstenaars en gehore was veilig tuis.

Die Time of the Writer-fees, wat aangebied word deur die sentrum vir kreatiewe kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal, sou die volgende dag begin.

Sibongile Mngoma

Die organiseerders het egter die kunstenaars op die eerste beskikbare vlug huis toe bespreek. Vlak 5-beperkings sou reis oor provinsiale grense en internasionaal kortwiek.

Twee dae later kondig die feesbestuur aan dat die Time of the Writer-fees se hele program aanlyn aangebied gaan word – Suid-Afrika se eerste aanlyn kunstefees.

Die sentrum het daarna die JOMBA!-dansfees, die Durbanse internasionale rolprentfees, die Poetry Africa-fees en die Jazz Appreciation-fees aanlyn aangebied.

In Maart vanjaar het die sentrum weer die Time of the Writer-fees aanlyn aangebied en vandeesweek word die Artfluence-fees van menseregte, ondersteun deur die Nederlandse ambassade, aanlyn tot 8 Mei aangebied.

Baie kunstenaars in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf kan ’n soortgelyke storie van oorlewing vertel. Die grootste persentasie van die sentrum vir kreatiewe kunste se befondsing kom van oorsee. Vir die grootste deel van die Suid-Afrikaanse kunsbedryf, wat steun op die departement sport, kuns en kultuur vir geld, wag daar ’n storie van frustrasie, wanhoop en hopeloosheid.

Min mense in die bedryf kon voorspel dat die inperking langer as ’n jaar sou duur. Net ’n paar mense het voorspel dat die inperkings ’n verwoestende impak gaan hê op die kunste in Suid-Afrika.

Die Fugard-teater het vroeër vanjaar ná ’n dekade van bekroonde opvoerings sy deure gesluit.

Die nasionale departement sport, kuns en kultuur kon nie voorspel nie dat ’n groep kunstenaars die kantore van die Nasionale Kunsteraad (NAC) in Johannesburg vir meer as 60 dae sou beset om die aandag te vestig op die kunsteraad se wanbestuur van nagenoeg R300 miljoen. Dit is geld wat deel vorm van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (Pesp). Dit was geld wat bestem was om weer lewe te blaas in ’n verpletterde kunstebedryf.

Die Fugard-teater in Kaapstad, wat ’n dekade lank befonds is deur die Suid-Afrikaanse filantroop Eric Abraham, wat in Switserland woon, het vanjaar sy deure vir goed gesluit. Die Apartheidsmuseum is gesluit. Just Sets, ’n maatskappy wat werk verskaf aan honderde tegnici en stelbouers, maak ook sy deure vir altyd toe. Die Kaapstadse Stadsballet lê baie van sy dansers af.

Die doodsklokke beier vir die plaaslike kunsbedryf, maar Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, is doof.

Midde die verwoesting twiet hy dat die Suid-Afrikaanse teater lewend en kerngesond is en hy verwys na die vyf staatsteaters wat deur sy departement bestuur word. Nie net was sy twiet onsensitief teenoor ’n bedryf wat skreeu om bystand en aandag nie, dit was ook ’n blatante leuen.

Midde die verwoesting twiet hy dat die Suid-Afrikaanse teater lewend en kerngesond is en hy verwys na die vyf staatsteaters wat deur sy departement bestuur word. Nie net was sy twiet onsensitief teenoor ’n bedryf wat skreeu om bystand en aandag nie, dit was ook ’n blatante leuen.

Die Kunstekaap-teater in Kaapstad was donker. Die Pacofs-teater in Bloemfontein was heeltemal toe. Die Playhouse-teater in Durban het niks op sy verhoog nie. Die Staatsteater in Pretoria het opnames van vorige aanbiedinge op sosiale media gestroom. Net die Markteater in Johannesburg was dapper genoeg om vars werk te skep en te stroom.

Die minister se twiet is met woede deur die kunstebedryf begroet. Byna twee weke later vra hy om verskoning en trek sy twiet terug. Die verskoning is te laat vir ’n bedryf wat moeg is vir sy onbetrokkenheid. Aktiviste het toe reeds ’n petisie saamgestel met meer as 2 000 handtekeninge waarin hulle vra dat Mthethwa moet gaan #NathiMustGo.

In November 2020 het die organisasie The Theatre Collective onder leiding van Jaco van Rensburg ’n vergadering met die parlementêre komitee vir sport, kuns en kultuur belê om die krisis in die bedryf en die wanbestuur in die departement sport, kuns en kultuur te bespreek. Die Collective het ’n dossier van 1 000 bladsye voorgelê en daar is melding gemaak van ’n opvolgvergadering met die komitee. Ondanks verskeie versoeke en kommunikasie met die parlement het die vergadering nou amper ses maande later steeds nie plaasgevind nie.

Op 3 Maart vanjaar het die opera-diva Sibongile Mngoma na die Nasionale Kunsteraad se kantoor in Johannesburg gegaan, vasbeslote om antwoorde te kry oor hoe die beloofde R300 miljoen aan die bedryf bestuur gaan word.

Sy en ander kunstenaars sou die kantoor 60 dae lank beset.

Dit was die eerste keer ná 1994 dat so ’n groot groep kunstenaars opstaan teen die minister van sport, kuns en kultuur en die regering. Tydens die sitstaking het die wanbestuur en ongerymdhede in die uitbetaling van die Pesp-gelde aan die lig gekom.

Die Kunsteraad het meer aansoeke goedgekeur as wat hy kon bekostig. Volgens die kunsteraad se grondwet mag lede van die raad nie kwalifiseer vir ’n toelae in hul ampstermyn nie, talle toelaes is uitbetaal aan mense wat al voorheen toelaes gekry het en daar was begunstigdes wat geen bewese werkrekord in die kunste het nie.

Teen die tyd was die protesliedere nie oor wanadministrasie nie, maar oor korrupsie in die administrasie van die toelaes.

Die Kunsteraad maak bekend dat dit teruggaan op die kontrakte, wat reeds gesluit is met kunstenaars en dat dit die bedrae waarop reeds ooreengekom is met kunstenaars, gaan verminder.

Die bestuur van die nasionale kunstefees in Makhanda neem die Kunsteraad hof toe, die hof beslis dat die kunsteraad binne 48 uur nagenoeg R3miljoen van die beloofde R8 miljoen aan die kunstefees moet uitbetaal. Dit skep ’n presedent vir ander kunste-organisasies om hulle ook tot die howe te wend.

Die Kunsteraad vaardig ’n hofbevel uit dat die sitstakers die kantore moet ontruim, maar Mngoma en die kunstenaars bly sit. Die Kunsteraad gee die saak by die polisie aan. Die sitstakers vra die minister om dieselfde hardhandigheid wat gelei het tot die Marikana-slagting, wat gebeur het toe hy minister van polisie was, te openbaar. Die kunstenaars begin saam met ander kunsuitvoerings op die Newtown-plein voor die kantore aanbied.

Die sitstakers kry steun van internasionale kunsteorganisasies. Die parlement se portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur stem in om met die sitstakers te praat, Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg, bied geld aan vir ’n regspan om namens die sitstakers ’n grief in te dien by die openbare beskermer, om hul saak verder met die parlement op te neem. ’n Verslag wat die sitstakers voorberei het, word ook by die Valke ingedien.

Op 27 April, Suid-Afrika se Vryheidsdag, kondig Mngoma aan dat die sitstaking beëindig gaan word. Dit was nie ’n teken dat hulle verslaan is nie. Hulle laat die saak nou in die hande van die openbare beskermer, die Valke en Mashaba se regspan.

Nadat hulle die kantore op 2 Mei ontruim het, sing hulle en sê Mthethwa se kantoor is hul volgende stopplek. Die minister het nie ’n woord gerep nie.

Sy stilte verras nie.

Hy was doodstil toe die Fugard-teater sluit, hy was stil toe verskeie kunste-administrateurs hul vaste werk verloor het. Hy was ook stil toe die ikoniese biblioteek wat die Universiteit van Kaapstad se waardevolle Afrikastudie-versamelings huisves, afgebrand het. Hy was stil ná die dood vandeesweek van die kunste-aktivis Maubi Kraai, hy het ook nie teaterlegendes soos Dawn Lindberg, wat aan Covid-19 beswyk het, gehuldig nie en hy was ook stil toe die internasionaal gevierde dramaturg Ronnie Govender dood is.

Hy was doodstil toe die Fugard-teater sluit, hy was stil toe verskeie kunste-administrateurs hul vaste werk verloor het. Hy was ook stil toe die ikoniese biblioteek wat die Universiteit van Kaapstad se waardevolle Afrikastudie-versamelings huisves, afgebrand het. Hy was stil ná die dood vandeesweek van die kunste-aktivis Maubi Kraai, hy het ook nie teaterlegendes soos Dawn Lindberg, wat aan Covid-19 beswyk het, gehuldig nie en hy was ook stil toe die internasionaal gevierde dramaturg Ronnie Govender dood is.

Lindberg en Govender is nie gewone teaterskeppers nie, hulle was deel van die minister se eie Living Legends-projek. Sy onsensitiwiteit en stilte oor hul dood is so koud en skokkend soos sy stilte en berou oor die dood van die stakende mynwerkers by Marikana.

Mngoma het ’n slapende leeu in die kunstebedryf wakker gemaak, ’n bedryf wat lank gewag het op ’n dapper held om vir hul saak en regte te veg.

Mngoma het ’n slapende leeu in die kunstebedryf wakker gemaak, ’n bedryf wat lank gewag het op ’n dapper held om vir hul saak en regte te veg.

Sy word vandeesweek vereer by die opening van die Artfluencefees met die eerste Artfluence se menseregte-prys.

Op Saterdag 8 Mei vier Suid-Afrika die 25ste herdenking van die aanvaarding van die Grondwet, waarin bepaal word dat kunstenaars die reg en vryheid op uitdrukking het, asook die reg en vryheid van kreatiwiteit.

Watter waarde het hierdie vryhede wanneer staatsgeld wat bedoel was om kunstenaars te ondersteun, wanbestuur word en gebruik word om kunstenaars te sensor?

Watter waarde het die grondwetlike vryhede wanneer die minister van sport, kuns en kultuur, wat die beskermer van die vryhede behoort te wees, nie met die kunstenaars praat nie, nie verantwoordbare antwoorde kan verskaf nie en mense uitsoek om te dien in rade, befonds deur die publiek se geld, om sy eie politieke doel te dien?

Watter vryheid is daar as ons ’n kunstefees het, waar ons nie kuns vir die onthalwe van kuns kan aanbied nie, maar waar ons kuns moet maak om ons basiese menseregte te verdedig? Waar ons ons demokrasie van die vernietiging van staatskaping, korrupsie, wanbestuur en ’n minister van kuns en kultuur moet verdedig?

• Ismail Mahomed is die voormalige artistieke direkteur van die nasionale kunstefees in Makhanda. Hy is tans die direkteur van die sentrum vir die kreatiewe kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban. Hy skryf hier in sy private hoedanigheid.

Meer oor:  Sitstaking  |  Nathi Mthethwa  |  Ismail Mahomed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.