Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Drie se werk saam uitgestal
’n Skildery deur Marc Pradervand.
Die kunstenaar Marc Pradervand is ook ’n kranige fotograaf.
Mxolisi Dolla Sapeta is ’n kunstenaar, filosoof en digter.

Baldadige kleurgebruik is die rede waarom drie bekende Oos-Kaapse kunstenaars se werk saam by die GFI-kunsgalery in Gqeberha (Port Elizabeth) uitgestal word.

Marc Pradervand, Mxolisi Dolla Sapeta en die ontslape kunstenaar Marius Lourens se kunswerke sal in die uitstalling Before Dawn besigtig kan word.

“Die uitstalling is uiteraard reeds ’n geruime tyd gelede beplan. Lourens se dood in 2020 as gevolg van Covid-19 was natuurlik ’n reuseskok, nie net vir sy vriende en familie nie, maar ook vir die kunsgemeenskap,” sê Anna Stewart, bestuurder van die GFI-kunsgalery.

“Kleur vertolk ’n baie belangrike rol in al drie dié kunstenaars se kuns, of dit vir estetiese waarde is, om atmosfeer te skep of om emosies dikwels tot die uiterste toe te weerspieël.

“Dit was juis die opmerklike gebruik van helder kleure wat daartoe gelei het dat al drie se werk saam uitgestal sou word.

“Alhoewel die kleurgebruik merendeels baldadig is, verskil die drie kunstenaars se kunsstyle, wat dit juis komplementerend teenoor mekaar maak.”

Marc Pradervand, wat in Oos-Londen gebore is, is ook ’n kranige fotograaf en het ’n hoër diploma in onderwys en ’n nasionale diploma in fotografie by die Nelson Mandela-Universiteit verwerf. Sy werk wissel van ontstellend en sinister tot kinderlik en spelerig. ’n Diverse uiteenloping van emosies word in sy kuns weerspieël.

Die tema van sy nuutste reeks werk behels ’n persoonlike konneksie met die natuur en die ikonografie van vroeëre kulture.

Mxolisi Dolla Sapeta, kunstenaar, filosoof en digter, is in New Brighton in Gqeberha gebore.

“In my skilderye probeer ek om die stedelike Suid-Afrikaanse realiteit te weerspieël, daarom gebruik ek myself sowel as ander individue wat op die oomblik in dié tipe gemeenskap ’n bestaan probeer voer, as onderwerp,” sê hy. “Die modelle in my skilderye word voortdurend uitgevee en oorgedoen om ’n definitiewe identiteit te verloor deur konstante hernuwing.”

’n Skildery deur Mxolisi Dolla Sapeta.
’n Skildery deur Marius Lourens.

Marius Lourens was nie net ’n kunstenaar nie maar ook vir 33 jaar ’n predikant by die NG gemeente Vanstadensrivier in die Oos-Kaap. Hy is verlede jaar ná ’n kort siekbed weens Covid-19 oorlede.

In dieselfde jaar het hy 40 jaar in die kunstebedryf gevier.

Kuns was vir hom ’n kreatiewe proses wat hy as ’n spirituele roeping gesien het.

Sy ervaar van kuns het hy beskryf as ’n proses wat ondervinding, toegewydheid, verveling, opwinding, ontevredenheid en ’n oog vir nuwe moontlikhede ingesluit het. “Jy moet die hele proses geniet en speel met die variasie wat aan jou gebied word,” het hy verlede jaar vir die samestelling van ’n biografie vir dié uitstalling gesê.

Kunsliefhebbers kan uitsien na ’n variasie van sy skilderye en beeldhouwerk wat uitgestal gaan word.

Die kombinasie van die verskillende inhoud en die tema van die kunstenaars se kuns behoort tot interessante gesprekvoering te lei.

Die uitstalling kan van vandag by die GFI-galery by Parklaan 30 in Sentraal, Gqeberha, besigtig word en duur tot 26 Mei.

Besoek www.gfiartgallery.com om die uitstalling ook aanlyn te besigtig.

Stuur ’n e-pos aan Stewart by manager@gfiartgallery.com of bel Dolla Sapeta by 083 241 3887, Marc Pradervand by 082 572 8993 of 066229 3157 en Mariana Lourens (Marius Lourens se vrou) by 072 735 2952 vir meer inligting.

Meer oor:  Gfi-Kunsgalery  |  Pe  |  Gqeberha  |  Kunswerke  |  Kuns  |  Kunstenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.