Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Durban se bekendste skilder’ op 82 dood

Die visuele kunstenaar Andrew Verster, wat onder sy aanhangers bekend was as “Durban se bekendste skilder”, is Sondag in die ouderdom van 82 dood.

Volgens Carol Brown, ’n vriendin van hom van sowat 40 jaar, is Verster aan natuurlike oorsake “vreedsaam op sy bed” in sy huis in Berea dood.

Andrew Verster Foto: Facebook

“Dit was die dood wat hy sou verkies,” het Brown in ’n doodsberig op Facebook geskryf. “Geen ophef, geen drama – die einde van ’n goeie lewe.”

Brown het aan Netwerk24 gesê haar pad het vir die eerste keer dekades gelede in die kunswêreld met dié van Verster gekruis.

“Ek is self ’n kunskurator en was eens die hoof van die Durban-kunsgalery. Hy (Verster) was later op ons raad van kuratore,” sê sy.

“Hy was ook gay, en hoewel sy werk nie uitermatig seksueel van aard is nie, het sy skilderye van mooi jong mans op die strand, byvoorbeeld, ’n sekere deel van die samelewing geskok."

“Ek het sowat sewe of agt van sy solo-uitstallings saamgestel, wat Suid-Afrika deurkruis het, en ons het ook in dieselfde buurt gewoon. Só het ons professionele verhouding eintlik begin.”

Hoewel Verster in 1937 in Johannesburg gebore is en later ook in Londen studeer het, sê Brown hy het ’n voorliefde vir Durban gehad wat na sy werk oorgespoel het.

“Hy was so lief vir Durban,” sê Brown. “Hy het hom in die Indiese kultuur in Durban verdiep en het daardeur ’n ongelooflike sin vir plek in sy werk geskep.

“Hy was ook gay, en hoewel sy werk nie uitermatig seksueel van aard is nie, het sy skilderye van mooi jong mans op die strand, byvoorbeeld, ’n sekere deel van die samelewing geskok.

“Sy gevoel vir kleur kan ’n mens ook net as wonderlik saamvat.”

Brown sê ’n mens kan Verster ook as ’n veelsydige kunstenaar ag, nie net omdat hy skilderye, tekeninge en grafika geskep het nie, maar omdat hy ook ’n goeie skrywer, kunskritikus, kostuumontwerper en dosent was.

“Hy het kostuums vir heelwat operas geskep, en het heelwat pryse vir sy digkuns en skryfwerk gewen, onder meer ’n prys van die BBC vir sy toneelstuk You May Leave, The Show is Over. Hy het vele talente gehad.

“Sy studente (aan die destydse Universiteit van Durban-Westville en die Natal-technikon) het nog altyd gesê hulle sou nie wees wie hulle vandag is sonder hom nie. Hy het juis daarom ook ’n eredoktorsgraad van die Durban-Universiteit vir Tegnologie (in 2009) ontvang.”

Sy sê sy sal Verster onthou as ’n openhartige en ondersteunende mens.

“Hy het nooit doekies omgedraai nie, nooit gekla nie, en was altyd gelukkig, veral met sy lewensmaat, Aidan Walsh, ook ’n skilder, aan sy sy.” Walsh is in 2009 dood.

Brown sê sy dink Verster sou te nederig wees om die beskrywing van “Durban se bekendste skilder” te erken.

“Hy was nederig, maar die titel maak tog sin: Hy het ’n groot passie vir Durban gehad en altyd gesê die stad het hom geïnspireer.

“Natuurlik is hy ook een van Suid-Afrika se beste skilders, maar ek dink hy sou dalk eintlik die heel gelukkigste wees om as Durban se bekendste skilder bekend te staan.”

* ’n Gedenkdiens vir Verster word op 25 Februarie om 15:30 in die St. Thomas Anglikaanse kerk in Musgraveweg in Berea, Durban, gehou.

Meer oor:  Durban  |  Kunstenaar  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.