Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Dwaasheid, broosheid en vrees los mens nie
‘Recalculating’, houtskool, pastel en akriel op digitale druk (99,5 cm x 172 cm)

Die broosheid, vrees en dwaasheid wat die mens se bestaan kenmerk, is die gegewe van Diane Victor se tentoonstelling wat deels aanlyn en in die UJ-galery in Johannesburg te sien is. Johan Myburg het dit besigtig.

Alles was gereed vir Diane Victor se solo-uitstalling wat op 1 April 2020 in die galery van die Universiteit van Johannesburg (UJ) sou begin. Gekkedag was nommerpas vir dié versameling werk, wat sou fokus op manifestasies van gekheid in die samelewing. Die “folly” in die titel sou onder meer verwys na Tot lof van die dwaasheid van Desiderius Erasmus en Das Narrenschiff van Sebastian Brant.

Weens die inperkingsmaatreëls is dié uitstalling gekanselleer en hoewel Victor nou ’n jaar later aanlyn én in die galery ’n versameling werke onder die titel Folly, Frailty and Fear aanbied, is die samestelling nie meer so eng op gekheid gefokus soos aanvanklik die oogmerk was nie. Die broosheid en vrees wat bestaan kenmerk, kry gestalte in werk in uiteenlopende media – tekeninge op papier, maar ook op standsteen; rooktekeninge agter glas, maar ook op tekstiel; en litografieë en ook geweefde tapisserieë.

‘Love Thy Selfie’ uit die ‘In Praise of Folly’-reeks, houtskool op papier (179 cm x 128,5 cm)

Op die keper beskou, vergestalt die uitstalling nie net die beperkings en ontwrigtings van die inperking nie – sy het maande lank onder meer geen toegang tot etsfasiliteite gehad nie – maar ook Victor se prosesgedrewe manier van werk. So het die Mundo inverso-reeks byvoorbeeld as houtskooltekeninge begin en mettertyd tekeninge in ink en gouache geword “omdat die uitstalling te houtskool-swaar begin raak het”. Dit is dié soort “onbeplandhede” (soos die watervlekke in haar “stain”-tekeninge, wat voortgespruit het uit ’n lekkende dak in haar ateljee destyds) wat bydra tot die materialiteit in Victor se werk.

In dié 26 sonderlinge werke, beplan as ’n voortgaande reeks soos Disasters of Peace, is dit die wêreld op sy kop gedraai wat Victor in satiriese taferele vergestalt – van die vrou wat ’n foto neem van haar ontbyt (#After Breakfast) tot die voorval van die pastoor wat die man in die kis opgewek het (#Daily Miracles).

‘Daily Miracles’ uit die ‘Mundo inverso’-reeks, ink en gouache op papier (35 cm x 27 cm)

Eweso sit Victor in dié uitstalling haar verkenning van “ongewone” media voort. Neffens haar 15 efemere portrette (rooktekeninge wat as’t ware net skadu’s tussen plate glas is) van vroue wat deur hul minnaars vermoor is, is tien tablette, met verwysing na die Tien Gebooie, met tekeninge in litografie-crayon op sandsteen van mans met die woorde “thou shalt not” op die lywe gegrif. In haar gebruik van die broosheid van rook en glas aan die een kant en die gewig van steen maak Victor haar media integraal deel van haar boodskap. Iets wat sy ook doen in twee tekeninge met kryt op swartbord, Lessons Unlearned: Geography 101 – “When pressure becomes too much, explosive eruptions occur” en Lessons Unlearned: “Long, long division”.

Dat die bestaan wat ons voer tussen verwondbaarheid en vrees, met ’n ruim skeut dwaasheid daarby geroer, nie beperk is tot ons tyd en ons lewe nie, blyk uit die byhaal van tekste soos dié van Erasmus en Brant, denkers uit die vroeg-Renaissance. Dié era het van die verreikendste idees en uitvindings opgelewer – dink byvoorbeeld maar aan boekdrukkuns – en tog was dit eweneens die tyd van kortsigtigheid en selfgesentreerdheid en opperste dwaasheid.

‘#After Breakfast’ uit die ‘Mundo inverso’-reeks, ink en gouache op papier (35 cm x 27 cm)

Verpersoonlik as Erasmus se Dame Folly and Master Fool is die twee hooffigure in dié houtskooltekening tydloos in hul waan – Master Fool is soos die keiser kaal en Dame Folly fluister hom allerlei soet woorde in die oor. Om hulle lê slagysters gestrooi en onbewus is die twee besig met ’n eierdans van hul eie.

In Recalculating, die reusetekening in houtskool, pastel en akriel op ’n kaart van die Alpe wat ’n mens met eerste oogopslag teëkom in die galery, plaas Victor Brant agter in die skuit wat nie gaan vaar nie. ’n Skuit met sotte van alle soorte as passasiers en met Mickey Mouse as boegspriet.

Soos wat Erasmus en Brant met vlymskerp humor die sotterny van die verlede blootgelê het, swaai Victor die skalpel van die tekenkuns om te ontleed, te onthul en respons te ontketen by die kyker.

Hoewel sy krities staan teenoor talle vergrype en etlike sotternye, veroordeel Victor nie sonder meer nie. Sy lok die kyker juis in met haar sardoniese humor, sy breek skanse af met haar visuele verleiding en noop die kyker om dieper te kyk, om meer te ontgin – net om nog meer ontnugter te word.

Diane Victor

Soos wat Erasmus en Brant met vlymskerp humor die sotterny van die verlede blootgelê het, swaai Victor die skalpel van die tekenkuns om te ontleed, te onthul en respons te ontketen by die kyker. Vyf eeue later mag ons staan op die drempel van ’n Vierde Industriële Rewolusie met kunsmatige intelligensie wat by die dag al hoe minder kunsmatig lyk. Ons mag dalk die pad na die sterre begin deurtrap, en nietemin kom ons nie los van ons dwaasheid, verwondbaarheid en vrees nie.

•Die uitstalling is aanlyn te sien by www.movingcube.uj.ac.za en ook per afspraak in die UJ-galery – bespreek by titusr@uj.ac.za. Die galery is oop tussen 09:00 en 15:00 op Vrydag 30 April, Maandag 3 Mei, Woensdag 5 Mei, Vrydag 7 Mei, Maandag 10 Mei, Woensdag 12 Mei en Maandag 17 Mei.

Meer oor:  Uj  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.