Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Ek gaan Ronnie baie mis,’ sê Ernst van Jaarsveld

Die befaamde botanis en plantkundige dr. Ernst van Jaarsveld sê hy was “geweldig geskok” om te verneem dat die keramis en beeldhouer Ronnie van der Walt (69) in ’n tragiese fratsongeluk buite Calitzdorp dood is.

Ronnie van der Walt met van sy pottebakwerk by Babylonstoren. Foto: Guy van der Walt

Van Jaarsveld was na Kirkwood onderweg toe hy ingelig is dat sy boesemvriend se bakkie laataand op 9 Oktober deur die water in die Nelsrivier meegesleur is.

Netwerk24 het vroeër berig dat Van der Walt ’n betonbrug wat weens reën oorstroom het, in sy bakkie probeer oorgesteek het. Sy lyk is eers twee dae later tussen riete deur polisieduikers opgespoor.

“Ons was groot vriende en ek sal hom baie mis,” sê Van Jaarsveld.

“Ons het op hoërskool ontmoet en Ronnie het van vroeg af sy kuns bedryf. Hy het dikwels vir ons aan huis in Leestraat, Randburg, kom kuier. My ouers het hom ook geniet, sy sêgoed het ’n mens dikwels laat lag. Hy het ’n goeie sin vir humor gehad.

“Hy het in die vroeë sewentigs ’n kopbeeld van my pa, Floors, gemaak, baie lewensgetrou. Ek het nog die beeld hier in gips en moet dit nog in brons laat giet.”

Die kopbeeld van Van Jaarsveld se pa, Floors, wat
Die kopbeeld van Van Jaarsveld se pa, Floors, wat Van der Walt in 1971 geskep het.
‘Karoohuisie’ deur Ronnie van der Walt. Foto: Vers
‘Karoohuisie’ deur Ronnie van der Walt.
Van der Walt se beeld van ’n kat. Foto: Verskaf
Van der Walt se beeld van ’n kat. Foto: Verskaf
’n Teël met tarentale wat Van der Walt geskep het.
’n Teël met tarentale wat Van der Walt geskep het. Foto: Verskaf

Van Jaarsveld sê hy was Vrydag by Van der Walt se huis in Withoek om sy eksvrou, die keramis Clementina van der Walt, en hul volwasse kinders, Guy en Vienie, by te staan.

“Hulle was nog verslae. Clementina se opmerking ‘as dit net ’n halfuur vroeër of later was, sou hy kon deurry’ – dít is ons Karoo: Lang droogtes opgevolg deur erge vloede.

“Ronnie het sy eienaardighede gehad, uiters vindingryk, maar sy waagmoed het op die einde sy lewe gekos. Dit was groter as sy vrees vir die water, en hy wou by die huis kom ná ’n lang dag en kuier saam met sy gesin vir wie hy so lief was. Hy was baie familievas en sy kinders en kleinkinders was vir hom alles.

“Sy seun vertel my dit is nie die eerste keer dat so iets met hom gebeur het nie. In Mosambiek het hy en Vienie ook in ’n vol rivier vasgesit totdat hulp gekom het.”

Van Jaarsveld sê hy sal Van der Walt altyd onthou as ’n veelsydige kunstenaar wat ook kos in sy restaurant The Ant in Melville, Johannesburg, berei het, as ’n vrygewige mens wat gereeld deur mense ingeloop is omdat hy nie ’n sakeman was nie.

“Hy het ook lank kuns gedoseer, geskilder, beeldhouwerk geskep, potte gebak. Hy het nie geheime gehou nie – hy het almal geleer, dikwels het mense hom nagemaak en het sy mark onder sy voete verdwyn.”

Ernst van Jaarsveld, Babylonstoren se tuinghoeroe. Foto: Nasief Manie
Nog van Ronnie van der Walt se pottebakwerk by Babylonstoren. Foto: Guy van der Walt
Ronnie van der Walt se pottebakwerk by Babylonstoren. Foto: Guy van der Walt

Van Jaarsveld, Babylonstoren se tuinghoeroe, sê dié plaas se vetplanthuis is vol van Van der Walt se handgemaakte potte en is “dus sy monument. Van klein tot groot en ’n vetplant vir elke pot. Sy werk het die vetplante gekomplementeer.”

Van Jaarsveld het Van der Walt genader nadat Koos Bekker, voorsitter van Naspers en eienaar van Babylonstoren, hom gevra het om iemand te soek wat handgemaakte potte kan maak. Hy sê hy het onmiddellik geweet wie om te nader omdat Van der Walt in die 1980’s, toe hy (Van Jaarsveld) nog by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin gewerk het, vir hom van dié potte geskenk het.

“Hy het dadelik aan die werk gespring en die mooiste potte gebak, en dit het tot nou gehou,” sê Van Jaarsveld.

“Hy het dikwels ’n vrag potte met sy 4x4 of ander kleiner motor gebring en dan hier kom aflaai en gesels. Die studente op Babylonstoren het dadelik van hom gehou en help potte tel en aflaai.

“Omdat ons nog tydens die staat van inperking op die plaas kon werk, kon ek al ons vetplante met sy mooi houers vervang. Ronnie kon dit gelukkig ook gesien het en hy was baie bly om sy potte op ’n plek te sien waar daar toegang vir die publiek is.

“Die pottebakkery het vir Ronnie ’n nuwe sin vir die lewe gegee en hy was baie trots om vir Babylonstoren ’n openbare tentoonstellingsruimte te skep waar sy handewerk deur die publiek – nasionaal en internasionaal – waardeer kan word.”

Meer oor:  Koos Bekker  |  Naspers  |  Visuele Kuns  |  Ronnie Van Der Walt  |  Beeldhouwerk  |  Ernst Van Jaarsveld  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.