Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Ek sal 700 dae sitstaak,’ sê sangeres op dag 50

Die operasangeres Sibongile Mngoma het op 3 Maart by die Nasionale Kunsteraad se kantoor in Newtown, Johannesburg, ingestap – en dit uit protes teen die wanbestuur van noodfinansiering vir kunstenaars nie weer verlaat nie. Sy sê aan Christiaan Boonzaier haar sitstaking, wat sy Woensdag reeds 50 dae volhou, het nog lank nie stoom verloor nie.

Sibongile Mngoma op die 37ste dag van haar sitstaking in die Nasionale Kunsteraad se kantore in Johannesburg. Foto: Gallo Images / Deon Raath

In ’n hoekie op die Nasionale Kunsteraad se dak gaan soek die operasangeres Sibongile Mngoma daagliks stiltetyd.

Sy kry dit byna nooit, sê sy – kollegas, kunstenaars en joernaliste is sedert die begin van Maart byna dagin en daguit op haar spoor. Dit keer haar egter nie om tog ’n plekkie in die son te gaan soek waar sy vingeralleen kan besin oor die sitstaking in die kunsteraad se kantore wat sy teen Woensdag 50 dae gelede op haar eentjie begin het nie. Die einde is nog nie in sig nie.

“Ek sou nooit kon raai dit sou so lank duur nie,” sê sy moeg oor die foon.

“Ek is verras – ek het nie eens gedink daar gaan ’n sitstaking wees nie. Ek het op 3 Maart by die kunsteraad se kantoor ingestap en gedink ek gaan dieselfde dag huis toe, maar hier sit ek nou, 50 dae later – en ek het steeds nie die antwoorde op die vrae wat ek op 3 Maart gestel het nie.”

Netwerk24 het vroeër berig dat Mngoma haar eintlik reeds op 1 Maart tot die kunsteraad se kantore in Newtown gewend het om antwoorde te eis oor hul gesloer met die uitbetaling van R300 miljoen se noodfinansiering aan kunstenaars in Suid-Afrika.

Sy is op dié dag oortuig dat sy haar antwoorde teen die volgende dag sal kry en het daarom huis toe gegaan, maar toe haar inboks op 2 Maart steeds leeg was, het sy op 3 Maart by die kunsteraad “ingeboek” om haar stem dik te maak oor die uitbetalingsproses. Sy en sowat 20 ander sitstakers het die afgelope 49 nagte onder tafels in die kunsteraad se raadsaal oornag en beplan om Woensdagaand vir die 50ste keer so te maak.

“Ek sal tot dag 700 sitstaak as ek moet,” sê sy. “Hoe meer simpel hierdie mense (die kunsteraad) raak, hoe meer neem my vasberadenheid toe.”

Die kunsteraad weet hoe sleg dit met kunstenaars gaan, maar hulle gee nie om vir hulle nie, kunstenaars is nie vir hulle belangrik nie.
Sibongile Mngoma

Die kunsteraad het die noodfinansiering as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang en was veronderstel om al die geld teen Desember aan kunstenaars uit te betaal. ’n “Wiskundige fout” het egter tot vertragings gelei, in so ’n mate dat die kunsteraad teen 20 April nog net sowat R177,1 miljoen van die geld kon uitdeel – dít terwyl talle kunstenaars hul hele lewensbestaan weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie verloor het.

“Die kunsteraad weet hoe sleg dit met kunstenaars gaan, maar hulle gee nie om vir hulle nie, kunstenaars is nie vir hulle belangrik nie,” sê Mngoma.

“Wat ons eintlik volgende moet doen, is om ’n ‘geen-kunste-betoging’ te hou: geen TV, geen radio, alles donker en stil, want die kunsteraad sal ná 24 uur sonder enige vermaak besef hoe belangrik kunstenaars werklik is.”

Die raad het kunstenaars in November verlede jaar genooi om vir ’n breukdeel van die finansiering aansoek te doen en het eindelik 1 374 aansoeke goedgekeur. Hulle het kontrakte met 613 van dié begunstigdes gesluit, voordat hulle besef het hulle deel te veel geld aan elke begunstigde uit – en dat hulle nie eintlik ’n sent vir die oorblywende 761 begunstigdes oor het nie.

Die kunsteraad se nuwe direksie se termyn het op 1 Januarie begin en het toe besluit om die kontrakte bloot te wysig, al het hulle erken dit is onwettig, en vir elke begunstigde tot 70% minder te betaal sodat al die begunstigdes ten minste iets kry.

Dit het landwyd tot ongelukkigheid gelei en Mngoma (50) se rateltaai veggees laat opvlam – ’n veggees wat sy sê sedert haar geboorte in Soweto en haar kinderjare in KwaZulu-Natal nog altyd ’n kern van haar menswees was.

“Ek was nog altyd so – vurig, dring aan op dit wat reg is – vra maar vir enigiemand met wie ek al gewerk het. Dit spruit uit die wete dat ek myself ken en my behoeftes begryp, maar dat ek in ’n land woon waar die owerhede nie omgee vir my nie.

“Ek is wel oukei, ons is ook nou, hier, oukei, maar ons gaan nie dié plek verlaat totdat geregtigheid geskied nie.”

Hoe presies dit daar uitsien, is nog ’n ope vraag.

“Eintlik kan die kwessie glad nie opgelos word nie, want die mense (by die kunsteraad) het te veel om weg te steek. Hulle soek beslis nie na ’n oplossing nie; as hulle het, het ek nie vir 50 dae hier gesit nie.

“Die enigste uitweg is vir hulle almal om afgedank te word en met bevoegde mense vervang te word. Ek glo dit sal gebeur.”

Vyftig dae eis sy tol, maar . . .

Hoewel Mngoma daagliks op haar Facebook-blad verslag doen oor die sitstaking en haar soos ’n ystervrou uitspreek oor beweerde korrupsie en wanadministrasie in die kunsteraad én die nasionale departement van sport, kuns en kultuur, het die afgelope 50 dae tog sy tol op haar geëis. Oor projekte wat sy misloop, gee sy nie veel om nie – dít kan sy later weer inhaal – maar tyd met haar gesin, veral haar vierjarige dogter, kan sy nooit verhaal nie.

Só slaap Mngoma onder ’n tafel in die kunsteraad se raadsaal. Foto: Facebook

“Niks is groter as dít wat ek die afgelope 50 dae met betrekking tot my gesin moes prysgee nie,” sê sy.

“Ek het ’n vierjarige wat (onder die toesig van haar oppasser) by die huis sit en wag vir my. Ek praat met haar oor die foon. Sy klink so volwasse, maar . . . Ek weet nie eens wat ek tans in haar lewe misloop nie; ek sal regtig eers uitvind wanneer ek weer huis toe gaan.”

Dit is wel belangrik dat sy die sitstaking volhou en dat haar dogter sien wat sy doen, sê sy.

“Ek wil hê sy moet leer dat sy nooit moet opgee nie – kom wat wil.”

Die kunsteraad het op 9 April ’n interdik bekom om Mngoma en al die ander sitstakers te verwyder. Dit is teen Woensdag nog nie gedoen nie. Mngoma sê sy steur haar nie veel aan die interdik nie, juis omdat die kunsteraad hulle nie aan die kontrakte steur wat hulle self met kunstenaars gesluit het nie.

“Die kunsteraad probeer die wet teen ons gebruik terwyl hulle self die wette van hierdie land deur kontrakbreuk verontagsaam. Hoekom moet ons die wet gehoorsaam wanneer hulle dit oortree?”

Sy is wel slaggereed vir die dag wanneer die kunsteraad gaan poog om hulle fisiek vaarwel toe te roep.

“Hulle (die kunsteraad) het onlangs hul personeel gevra om vir hul eie veiligheid tuis te bly omdat ons glo verwyder gaan word, maar dit het nie gebeur nie.

“Net gister het die direksie glo vir vloerplanne van die gebou gevra, so ons weet hulle beplan iets, maar ons weet nie presies wat nie. Ons wag maar, ons is gereed vir hulle. Wanneer hulle ons verwyder, gaan ek alles regstreeks op my Facebook-blad uitsaai sodat almal dit kan sien.

“Ek gaan nêrens heen nie! Hulle sal my hier moet uitdra. Ek is geheel en al gereed daarvoor.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.