Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kapp wenner van gesogte Sasol se kunsprys
Mapping Time, ’n installasie deur Jessica Storm Kapp.

Die Knysna-brande in 2017 en ’n verknogtheid aan huis en haard het gelei tot Jessica Storm Kapp se installasie waarmee sy Woensdagaand as wenner in die Sasol New Signatures-kunskompetisie aangewys is.

Die 22-jarige Kapp het dié gesogte prys gewen met haar installasie Mapping Time wat ondersoek of skone kuns verskillende gewaarwordinge rakende ’n tuiste kan oproep.

In haar installasie gebruik sy herwonne materiaal en voorwerpe waaraan ook ’n sekere geskiedenis verbonde is.

Dié voorwerpe illustreer begrippe soos verlies, refleksie, spoor (trace) en die konnotasie aan ’n gebied of tuiste.

Kapp is tans ’n voorgraadse student in visuele kuns aan die Universiteit Stellenbosch.

Jessica Storm Kapp by haar wenwerk.

Haar werk bestaan ook uit afdrukke, fotografie en beeldhou en sy streef daarna om boeiende oomblikke te skep waarin kykers die wese van ’n plek deur verskeie sintuie kan beleef.

Kapp wen R100 000 en die geleentheid om volgende jaar haar eie solo-uitstalling in die Pretoria-kunsmuseum aan te bied. Dit sal ook die herdenking wees van Sasol se 30ste jaar as borg van die oudste kunskompetisie in Suid-Afrika.

Prof. Pieter Binsbergen, voorsitter van Sasol New Signatures en ’n kunstenaar en beoordelaar, het Kapp se vermoë geloof om met meerduidigheid gevoelige onderwerpe te belig.

Peter Mikael Campbell by sy potloodskets Kaisen.

“Gesien teen die drukkende kwessies oor grond, is dit die werk se vermoë om met dubbelsinnigheid deur en rondom dié sensitiewe kwessies te navigeer, wat dit ’n waardige wenwerk maak.”

Die Kaapstadse kunstenaar Peter Mikael Campbell is as naaswenner aangewys met sy potloodskets Kaisen,

wat “verandering ter wille van verbetering” in Japannees beteken.

Kaisen deur Peter Mikael Campbell.

Met dié werk probeer Campbell ’n stil meditasie oproep rakende die balans tussen uiterstes – in dié geval eenvoud en kompleksiteit, sowel as die waarde van estetiese skoonheid as ’n noemenswaardige strewe.

Campbell se tweede prys beteken ’n kontantprys van R25 000 vir hom.

Die vyf merietewenners is:

* Kelly Crouse van Port Elizabeth met Medication (gemengde media)

* Debbie Fann van Port Elizabeth met Cheque or Savings? (akrielverf en digitale druk op papier)

* Pierre Henri Le Riche van Kaapstad met Ap(peal) I & Ap(peal) II (porselein, Egiptiese katoen, geelhout, laaghout en glas)

* Mulatedzi Simon Moshapo van Polokwane met The Leader Shall Govern (hout)

* Megan Serfontein van die Universiteit Stellenbosch met Untitled (monitor, webkamera, persoonlike rekenaarprogram)

Elke wenner van ’n merieteprys kry R10 000.

Lebohang Kganye, wenner in 2017, bied haar eerste solo-uitstalling, Mohlokomedi wa Tora (vuurtoringwater), tot 7 Oktober in die Pretoria-kunsmuseum aan.

Die uitstalling sal ook die werk van Kapp, Campbell en die vyf merietewenners insluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.