Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Empatie ‘goue draad’ deur kunstenaar se werk
’n Toneel uit die video-installasie Om, wat Sonya Rademeyer as haar belangrikste werk op die Vrystaat Kunstefees beskou.

Sonya Rademeyer se buitengewone konseptuele vermoë vind meestal in installasies neerslag wat al in verskeie oorsese lande en groot sentra in Suid-Afrika vertoon is.

Soms moet jy buite die boks dink om haar werk te verstaan, maar as jy besef dat empatie die goue draad is wat deur haar lewe en kuns loop, is begrip vir haar werk eenvoudig.

Sy het vanjaar vier aanbiedings op die Vrystaat Kunstefees, almal samewerkings waarin die naam van die komponis Franco Prinsloo telkens opduik.

Vir die videowerk Prayer to the Young Moon het Prinsloo die musiek geskep en is die digter Diana Ferrus die verteller.

Rademeyer sê die werk vertolk ’n gedig deur !nanni wat in die 19de eeu opgeteken is en ondersoek op grond hiervan ’n vroeë prekoloniale tyd.

Sonya Rademeyer in Shouting from the Boulders, ’n videowerk oor geslagsgeweld.

Haar belangrikste werk op die fees is die video-installasie Om, een van die werke waarin Prinsloo en Rademeyer se aanvoeling besonder sterk aanklank by mekaar vind.

Dié werk gaan oor die ervaring van Afrikaans-wees as jy nie wit is nie, soos in die geval van Rademeyer se dogter, die 21-jarige Jemima Kola.

In die openingstoneel staar Kola die kyker stip aan en betrek jou in haar emosionele ervaring van swart-wees en suiwer Afrikaans praat.

Op ’n roerende wyse weerspieël Prinsloo se musiek die emosies wat sy oor die jare beleef het wanneer kommentaar gelewer word en vrae oor haar situasie gevra word, emosies soos magteloosheid, hartseer, isolasie, maar ook trots, die smaak van sukses en omdat sy die lewe nie anders ken nie: “Dit is so omdat dit so is.”

Dié woorde van Breyten Breytenbach was die vertrekpunt vir Rademeyer se konsep waaruit Om gespruit het. En omdat sy glo in samewerking met kunstenaars van ander dissiplines het sy die videograaf Oscar O’Ryan betrek, Kola as uitvoerende kunstenaar en Prinsloo vir die musiek.

In Sonic Re-Dress neem sy samewerking ’n hele ent verder en span selfs die publiek in.

Dit is ’n genesingsprojek wat deelnemers die geleentheid gee om op ’n raakskerm ’n emotiewe kunswerk te skep wat op ’n virtuele wêreldkaart geplaas word in die land waar jy woon.

Vir dié projek het Rademeyer Prinsloo opdrag gegee om vyf komposisies te skep, een elk vir die emosies geluk, hartseer, angs, vrees en ontsteltenis.

Anja Pollard is as musiekterapeut ingespan en vir die tegnologiese deel het sy Ben Outrom genader. Hy is ’n kunstenaar, wetenskaplike, ontwikkelaar van virtuele speletjies en apps en sy werk vir Sonic Re-Dress was die skep van ’n tuisblad, die app en alles wat nodig is om die publiek se bydraes op die webwerf te huisves.

Rademeyer verduidelik haar konsep so: “In die tyd van groot uitdagings kan individue voortdurend in verbinding met ander wees en tog volkome geïsoleerd voel.

Die konseptuele kunstenaar Sonya Rademeyer.

“Onsekerhede, broosheid en ontroering word deur die interaksie tussen musiek, visuele kuns, wetenskap en musiekterapie behandel. So word die nodige emosionele verbindings geskep en gevolglik ’n mate van kollektiewe genesing.”

Rademeyer is ook betrokke by neXus met Shouting from the Boulders, wat oor geslagsgeweld handel.

NeXus is ’n samewerking tussen die Vrystaat Kunstefees, die Brighton Fringe Festival en Brighton Pride in Brittanje en Nigerië se Lagos Fringe. Vanjaar gebruik hulle die Vrystaat Kunstefees as platform.

Besoek www.vrystaatkunstefees.co.za en gaan na Snelstroom vir die volledige program van vanjaar se aanlyn fees. Die fees duur tot 13 November.

Om meer te wete te kom oor Rademeyer en Prinsloo kan luisteraars op ’n regstreekse Zoom-uitsending op 23 en 30 Oktober inskakel. Besonderhede vir deelname verskyn ook op die webwerf.

Rademeyer se herkoms

Sy het in Bulawayo in die destydse Rhodesië grootgeword en op 20-jarige ouderdom saam met hul gesin in 1983 na Suid-Afrika geëmigreer.

Haar aanvanklike beroep was dié van teatersuster wat sy voortgesit het terwyl sy in die 1990’s aan die Willem de Kooning Academie in Nederland in driedimensionele kuns studeer het.

Daarna het sy haar op konseptuele kuns toegelê. Sy woon in die Strand by Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.