Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Estelle Marais: Haar kompasnaald neig altyd Karoo toe
Estelle Marais by een van die skilderye wat sy besig is om te verpak wat by die Tuin van Digters-fees uitgestal sal word.

Die negende jaarlikse Tuin van Digters-fees, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word van 27 tot 29 November 2020 in Wellington in die Wes-Kaap aangebied.

Met die fees word hulde gebring aan Daniel Hugo, die digter, vertaler en skrywer.

Estelle Marais, ’n bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar en Oos-Kapenaar is as hoofkunstenaar vir die fees gekies en ’n solo-uitstalling met 26 van haar Karoo-skilderye sal tydens die fees besigtig kan word.

“Aanvanklik het ek gevoel die grendeltyd moet meer betekenis kry as om op die balkon te sit en wag dat die son oor die Baai opkom,” sê sy.

“Dit was aan die begin van die grendeltyd dat ek en Anne-Ghrett Erasmus, die kurator van die Breytenbach-kunsgalery op Wellington, begin gesels het oor die moontlikheid dat ek ’n laaste solo-uitstalling wil aanbied. Ek word eersdaags 77 en dink nie ek sal meer met dieselfde intensiteit kan volhou skilder vir nog ’n solo-uitstalling in die toekoms nie!

’n Skildery van die Karoo geskilder deur Estelle Marais. Foto: Verskaf

“Daarom is die uitnodiging om die feeskunstenaar vir die Tuin van Digter-fees te wees, nie net ’n ongelooflike eer nie, maar ook heel gepas, ’n wonderlike geleentheid om my skilderloopbaan mee af te rond.”

Marais is op Cradock gebore en het gevolglik ’n noue verbintenis met die Karoo. Haar voorgeslagte het generasies heen al hul merk in die Karoo gemaak en sy onthou veral die heerlike kuiers op haar oom se plaas op Doringhoek, vandag deel van die Bergkwagga Nasionale Park.

“Skaars het ek die stof van my voete afgeskud, dan neig my kompasnaald weer terug Karoo toe,” sê sy.

“Die Karoo inspireer my, is my mentor en bied my as skilder meer as wat ek kan verduidelik.

“Toevallig woon Daniel Hugo aan wie die fees vanjaar opgedra word, op Prins Albert in die Karoo en so ook Elza Miles wat op Prins Albert woon en my uitstalling gaan open!”

Marais gebruik hoofsaaklik olie op doek vir die reeks skilderye, maar daar is ook enkele klein akrielwerke ingesluit.

Sy woon die afgelope 17 jaar in ’n ou Setlaarhuis in Sentraal in Port Elizabeth.

’n Atmosferiese skildery van Estelle Marais se geliefde Karoo. Foto: Verskaf

“Benewens my vriendin Yvette Williams en Simeon, haar 12 jarige seun wat hier naby my bly en een van die plesiere in my lewe is, deel ek ook my lewe met my 18-jarige kat, Kleintjie en ’n sesjarige oogappel, Polina, ’n swart standaardpoedel.

“Dié het meer intelligensie as wat mens by die meeste politici sal vind en albei deel ook my bed, wat my soms noodsaak om met my een voet op die vloer te slaap!”

Marais is die enigste vrou in Suid-Afrika wat as hoof van drie tersiêre kunsdepartemente; Fort Hare, Natal Technikon en die Universiteit van Bophuthatswana aangestel was.

Sy het ook twee van die kunsdepartemente, dié by die Fort Hare-Universiteit en die destydse Universiteit van Bophuthatswana, begin. Voorts het sy self aan vier universiteite, die bogenoemde drie sowel as aan die Rhodes-Universiteit, doseer.

Marais het al aan verskeie groepuitstallings deelgeneem en 17 solo-uitstallings aangebied.

Haar werk is onder meer saam met die van ’n paar ander Suid-Afrikaanse landskapskilders in die Paleis in Hyderabad in Indië, die Nasionale Kunsgalery van Namibië in Windhoek, en in die Musée de l’Orangerie in Parys in Frankryk uitgestal.

Van haar werk is in private versamelings nasionaal en internasionaal opgeneem.

Estelle Marais, landskapskilder, neem ’n blaaskansie voordat sy haar skilderye vir die uitstalling op Wellington verder verpak. Foto: Verskaf

Marais se werk is as voorblaaie van boeke soos ’n Oomblik in die wind deur André P. Brink, Troglodiet deur Tom Gouws, Afrikaans in Namibië deur Marie Schoeman en Marais self gebruik – en haar werk is in verskeie boeke en kunskatalogusse opgeneem.

Benewens ’n indrukwekkende loopbaan as ’n kunstenaar is Marias ook ’n kranige reisiger en het verskeie lande in Europa, Oos-Europa en Afrika besoek.

“Ek hoop om tog ná dié uitstalling en sodra ek so bietjie tot verhaal gekom het, ’n reeks oor bergpasse van Suid-Afrika te doen. Die manier waarop paaie die vorm van die landskap definieer, is vir my ’n groot bron van opwinding en inspirasie.”

Die opening van Marais se uitstalling sal op Vrydag 27 November in die galery sowel as virtueel plaasvind.

Marais sal die fees bywoon en belangstellendes is welkom om daar met haar te gaan gesels.

Mens het soms hulp nodig, veral as jy 26 skilderye stewig moet verpak! Polina die poedel help haar mensma, Estelle Marais, met die takie! Foto: Verskaf
’n Karoo-landskapskilderye geskilder deur die Oos-Kaapse kunstenaar, Estelle Marais.

Stuur ’n e-pos aan artour@intekom.co.za om ’n afspraak te maak om haar skilderye in Port Elizabeth te besigtig of besoek haar Facebook-blad of art.co.za of die Facebook-blad en webtuis-te van die Breytenbach-galery om haar werk aanlyn te besigtig.

’n Katalogus van die skilderye op uitstalling tydens die fees sal beskikbaar wees.

Stuur ’n e-pos aan Anne-Ghrett Erasmus by galery@breytenbachsentrum.co.za vir meer inligting.

Joubert Stander van die Strand en Sandra Hanekom van Piketberg se kunswerke sal ook gedurende die fees uitgestal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.